Deel

Nuwe lewe vir Ouma se kombuis

akkreditasie
’n Meer as honderd jaar oue ruimte hoef nie oud en afgemat te lyk nie ...

Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Vlok en Inge Bauermeister
WAAR Uitvlugt-gastehuis, Worcester
GROOTTE 24 m2

Eers het sy net gedink aan die harde werk wat voorlê toe sy die ou huis van haar man, Vlok, se oorlede ouma Gwen Malherbe op die familieplaas sien, gesels Inge Bauermeister oor hul nuwe tuiste sedert April 2017. Maar omdat sy besef het hoeveel potensiaal die plek het, was sy kort voor lank die ene inspirasie.

“Dit was oorspronklik ’n ou waenhuis en hoewel ons nie seker is hoe oud die gebou self is nie, weet ons die hoofopstal op die plaas is al in 1824 gebou,” sê sy. Die kothuis, soos hulle na die ou waenhuis verwys, het sowat twintig jaar gelede ’n paar aanbouings ondergaan wat ’n kombuis ingesluit het. “Maar in dié kombuis was daar nie veel meer as ’n wasbakkas en een losstaande kas nie,” onthou Inge. “Ouma het nie kos gemaak nie en die ruimte is dus nooit optimaal benut nie. Die halwe muur met die toonbank bo-optussen die kombuis en leefarea het my ook gepla, want ek hou van ruimte en ’n oop gevoel.”

Inge en Vlok is lief vir kombuiskuiers en daarom wou hulle ’n huislike atmosfeer in hul eie een skep. Met haar nuutgevonde inspirasie het sy aande omgesit en teken tot sy die perfekte uitleg gehad het. Daarna het Jaco la Grange van La Grange Houtwerke haar gehelp om die prentjie te laat realiseer.

Die bal-en-kloutafel met sy pote in Harlequin’s Chalk Paint se kleur Oxford gee ’n ouwêreldse kinkel aan die kontemporêre ruimte. Inge wik en weeg nog of hulle die plafon gaan wit verf.
Tafelloper en vadoek van Makietie

"Dis ons vierde huis en teen dié tyd weet ons al waarvan ons hou in ’n kombuis en wat werk en wat nie!" – Inge

UIT HUL NOTABOEK

Begin vroegtydig om pryse te vergelyk van al die elemente wat jy gaan nodig hê en koop dit self. So kan jy heelwat spaar, sê Inge.

VOOR

Só het die projek verloop

  • Die muurtjie onder die ou toonbank moes uitgekap word om ’n oop ruimte te skep. Die ou muurteëls moes ook waai.
  • ’n Nuwe gelamineerde vloer is oor die teëls gelê. Om koste te bespaar, het Inge en Vlok gereël dat die skrynwerkers die kaste bring sodat hulle self die buitekante kon verf (die binnepanele is wit melamien); toe hulle klaar was daarmee, is die kaste weer gehaal sodat die deure (van Supawood) gehang en die dennehoutpote aangesit kon word.
  • Die elektrisiën het die kragproppe geskuif en die ligte opgehang wat Vlok gespuitverf het. Teen die mure het hulle metro-teëls professioneel laat lê in ’n baksteenpatroon; dit skep ’n tydlose dog kontemporêre gevoel. Koperkleurige handvatsels rond die voorkoms af.
  • Die kaste met die deure is teruggebring sodat Inge en Vlok dié ook kon verf. Nadat hulle drie lae verf met klein rollers aangewend het, is dit met Harlequin’s Dead Flat Varnish geseël.

KOSTE

Kaste en mandjies R26 570
Vloer R4 080
Wasbak en kraan R1 850
Handvatsels R1 050
Loodgietwerk R1 200
Teëlaar R1 740
Verf en vernis R1 370
Teëls R1 610

TOTAAL R38 470

V&A met Inge

Wat is jul grootste geldspaarwenk? Verf jou eie kaste en koop self die handvatsels.

Wat sal jy volgende keer anders doen? Ek sal nie weer wil intrek voor al die werk klaar is nie.

Waar het jy jou idees gekry? Pinterest is my beste vriend; die idee vir die handvatsels het ek by die Robertson Smallhotel gesien. Kyk net rondom jou – daar is so baie inspirasie.

Wat geniet jy die meeste van die voltooide projek? Behalwe dat dit lekker is om saans in my kombuis in te stap, beslis die gelag om die tafel!

Wat is volgende? My idees raak nooit op nie; julle sal maar moet wag en sien!

DIE AFWERKING
  • Skrynwerk La Grange Houtwerke (023 347 6259)
  • Verf Kaste: Plascon Velvaglo in die kleur Black Beard, geseël met Harlequin’s Dead Flat Varnish;  lampskerms: wit Rust-Oleum Appliance Epoxy
  • Teëls Valencia Subway Bevelled van CTM (023 347 4869, ctm.co.za), gelê deur Cum Laude Konstruksie (023 342 2362)
  • Wasbakke en deure van Buco (023 342 3828, buco.co.za)
  • Loodgieterswerk deur Worcester Loodgieters (023 342 2362)
  • Vloer Euro Lam Natural Oak, gelê deur Boland Vloerdienste (023 342 2310, bolandfloors.co.za)
  • Krane Builders Express (023 342 3828, builders.co.za)
  • Handvatsels Handles Inc. (021 910 2255, handlesinc.co.za)

VERSKAFFER

Makietie 084 206 9898


Jongste uitgawe

Julie 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees