
Foto's Adam Houghton | Stilering Amanda van Wyngaardt
WIE WOON HIER? Gabriel, Anthea en Constantine Fortuna met hulle drie cockerspanjoele
WAAR Linden, Randburg
GROOTTE Pergola 30m²; swembad 32m²
Vyf jaar gelede, toe Gabriel en Anthea Fortuna hul huis gekoop het, was daar ’n grasperk, enkele kliptrappies en terrasse, en ’n paar ondeurdagte blombeddings in hul tuin. Maar van ’n behoorlike kuierplek was daar nie sprake nie. Die gesin hou van buite wees, en daarom het die verbetering van hul agterplaas tot heel boaan hul wenslysie geskuif.
“Gelukkig was die grootste deel van die huis reeds opgeknap, wat beteken het ons kon spaar en van die geld gebruik om die tuin op te kikker,” verduidelik Anthea
Sy beskryf haarself as ’n “tipies A-tipe” persoonlikheid wat gedy wanneer sy kan beplan. Vanselfsprekend het sy begin deur eers al die nodige inligting te bekom. Die gesin wou beslis ’n swembad hê, met die een of ander vorm van onthaalplek daar naby. Anthea het dié kennis as gids gebruik vir haar Pinterest-borde.
Nog ’n vereiste was dat dié ruimte nie deel van die huis moes wees nie. In hul vorige huis was die stoep reg voor die sitkamer, wat die huis binne donkerder gemaak het. Anthea wou nie dieselfde fout maak in hul nuwe ligdeurdrenkte leefruimtes nie. Boonop het sy gereken ’n eenvoudige struktuur los van die huis sou die dienste van ’n argitek uitskakel.
Deeglike beplanning
Die swembad is ’n jaar voordat die tuinhuis gebou is, ingesit. “Ons wou die grootste taak eerste afhandel,” verduidelik Anthea. Deur die projekte te skei, kon hulle ook beter begroot. Intussen het Anthea ’n “bioclimatic pergola” raakge-google.
Dis ’n slim ontwerp wat met materiale gebou is wat verseker die klimaat binne is reg deur die jaar gunstig – dit kan byvoorbeeld ’n dak met ’n geïsoleerde plafon hê, of ’n hortjiestelsel wat op sonnige dae outomaties teen die regte hoek oopmaak om net genoeg sonlig in te laat, óf heeltemal toemaak in slegte weer.
So ’n struktuur maak natuurlike ventilasie moontlik en moet reg geposisioneer word dat dit die beste effek in elke seisoen het.
Die ontwerp was perfek vir stapelbare glasdeure. “Dit bied ons soveel meer moontlikhede om die ruimte oop of toe te maak volgens die wisselende weerstoestande,” voeg Anthea by. Maar noudat die kuierplek reg rondom toe sou wees, moes planne wel ingedien en goedgekeur word voor hulle kon begin bou. As algemene riglyn word pergolas onder ’n sekere grootte met oop kante as ondergeskikte bouwerk beskou, terwyl dié met deure reg rondom munisipale goedkeuring vereis.
Ter afronding
Toe die bouwerk klaar was, het Anthea die ruimte sorgvuldig ingeklee sodat die gesin dit dag na dag ten volle kan benut.
Daar’s ’n groot tafel vir gesinsetes en onthaal, en kroegstoele wat onder die betonblaaie uitskuif vir ’n verfrissende drankie of happie so tussen die swem deur. Die paartjie het ’n gasbraaier geïnstalleer, asook ’n gietyster-braaiplaat. “Ons hoef nie te wag vir kole nie; ons kan dit enige dag van die week gebruik vir vinnige frikkadelbroodjies of net waarvoor ons lus het.”
Danksy ’n kas wat onlangs bygevoeg is, is daar nou ook bêreplek vir breekgoed en eetgerei wat die gesin eenvoudig binne opwas.
“My kombuis is net ’n paar treë ver, so ek neem die vuil skottelgoed sommer op ’n skinkbord binnetoe,” sê Anthea
Die tuinhuis het die Fortunas se gunstelingplek vir middag- en aandete geword; oor naweke geniet hulle ook ontbyt hier. Met die sonverhitte swembad, ’n groot dagbed en die goed toegeruste eetruimte daarby, het hulle voorwaar ’n kuier- en ontspanplek sonder weerga geskep. “Party dae voel die water soos ’n bad, en ek is mal oor die ‘spa-gevoel’ wat ons net hier in ons agtertuin geskep het,” vertel Anthea.
So het hulle gemaak
Block & Chisel blockandchisel.co.za Creative Living creative-living.co.za
DSB Construction 082 838 7783 Eva-Last eva-last.co.za
Grey Glass Systems ggs-frameless.co.za Paintsmiths paintsmiths.co.za
Sunflex sunflexsa.co.za Splendid Pools splendidpools.co.za
Union Tiles uniontiles.co.za