Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk
Wie woon hier? Len en Faith du Plessis
WAAR Knysna
GROOTTE 210 m²
Ná 25 jaar se getroude lewe was Len en Faith du Plessis vasbeslote om in ’n eiendom van hul eie te belê. Vir jare het die twee in huurhuise gewoon of in behuising wat Len se werk as bewaringsbestuurder by Suid-Afrikaanse Nasionale Parke voorsien het. Hulle het nie ’n ruim begroting gehad nie en was oortuig dit sou ’n uitdaging wees om ’n bekostigbare huis in die middel van Knysna te kry.
Maar in April verlede jaar het hulle op een afgekom wat hul sak gepas het: Die eiendom was jare lank verhuur en taamlik afgeskeep; dit het heelwat werk gekort en die bure het dit “die lelike eendjie” gedoop. Maar vir Len en Faith was sy ’n elegante swaan, al was haar vere ’n bietjie deurmekaargekrap.
“Ons het vier keer na die huis gaan kyk en omtrent ses keer per dag daar verbygery,” sê Len. “Die struktuur was in ’n goeie toestand, maar aan die binnekant was dit donker, oudmodies en afgerem. Ons het geweet as ons hier koop, sou ons baie kreatief moes dink en self inspring om die huis leefbaar te maak. Maar dit was al wat ons kon bekostig!”
Hulle het die kans gewaag en ’n aanbod gemaak, en kort daarna kon die werk begin. “Ons was derde in die ry om die huis te koop,” onthou Len.
“Maar op die ou end het alles perfek uitgewerk. Ons dink nogal die huis het ons gevind, nie andersom nie.”
In die eetkamer wou Faith hê die Franse kandelaber (’n antiekwinkel-kopie) moes al die aandag trek, toe verf sy die plafon ’n dramatiese groen (Dulux Japanese Maze 1). Die oorspronklike houtvloere in die leefvertrekke is afgeskuur; Faith se kunswerke pryk teen die muur en glasflesse en glase in juweelkleure gee ’n boheemse kinkel.
Kreatiewe visie
Faith is ’n kunstenaar en baie van haar vernuftige idees het tydens die opknapprojek lewe gekry. So is teëls wat sy ontwerp, met die hand geverf en gebak het, in die kombuis en badkamer gebruik, en ou skuifraamvensters slim ingespan as skerm in die stort. Sy het ook die meeste van die meubels herstoffeer en al die gordyne self gemaak.
Len het natuurlik ook ’n paar slim planne gehad. “Ek het self klippies by ’n plaaslike gruisgat gaan bymekaarmaak om die tuin mee te versier!”
Len se ma het dié sementkat vir ’n appel en ’n ei by ’n kwekery gekry nadat dit omgeval het en een van die oortjies afgebreek het. "Faith het die kat by my ma gekry in ruil vir ’n olieverfskildery en dit toe met mosaïek versier," sê Len trots.
Die paartjie het tot laat snags gewerk en die projek binne sewe en ’n half weke voltooi. Maar dit was nie net hulle wat die ongelooflike transformasie gevolg het nie. “Daar het gereeld vreemdelinge buite die huis saamgedrom om te sien hoe die projek vorder,” sê Len. “Baie het gevra of hulle kan kom inloer en ons het ingestem, want dit was lekker om dié ervaring te deel. Vriende, maar ook vreemdelinge en nuuskieriges het heeltyd ingestap met iets te ete – ons yskas was dikwels propvol!”
Al het die paartjie voorheen hul persoonlike stempel op hul huurhuise afgedruk, was dit die eerste groot opknap wat hulle saam aangepak het. “Dié slag kon ons ons energie stort in iets wat ons eie is,” sê Len ingenome.
Die paartjie het die dubbeldeure tussen die lees- en eetkamer met boekrakke omraam. Faith het die leunstoele geërf by haar ouma, wat in die weermag gedien het; die stoele het in die vroeë 1940’s in die menasie gestaan en haar ouma het dit later op ’n veiling gekoop. Faith het dit oorgetrek met oorskiet- geborselde fluweel wat sy goedkoop by ’n plaaslike binneontwerp-winkel gekoop het.
Dis in die detail ’n Loodglasvenster, ’n geskenk van ’n vriend, is by die ingang in die muur ingebou. Dit was vir 10 jaar in ’n opbergplek – nou het Len en Faith die perfekte plek daarvoor gekry.
Teëls van The Tile House
Len en Faith het vier lae viniel van die kombuisvloer verwyder en dit toe bedek met keramiekteëls in twee skakerings van grys. Die gleuwe tussen die teëls is gevul met dun silwer metaalstroke. Die oorspronklike kombuiskaste is herstel en nuwes is bygevoeg, insluitend die eenheid wat die dubbelwasbak huisves. ’n Ou lessenaar met ’n geelhoutblad dien as eiland; hulle het die pote met swart emaljeverf bedek en die blad geskuur vir kontras.
Rooi kombuiskaste geverf met Dulux African Adventure 2; mure geverf met Dulux Rum Raisin en Silk Moire
Faith het die ou voegbry tussen die groen teëls versigtig met ’n beitel uitgewerk. Hulle het dit afgerond met ’n ry swart metroteëls. In die tweede badkamer is ’n ou werkbank as wasbakkas hergebruik. Die groen raam by die stort is herwinde skoolvensters van Klipplaat in die Karoo wat in 2005 tydens ’n orkaan beskadig is. ’n Hanglamp in die Marokkaanse styl, swierige spieëlraam en loodglasvenster skep ’n luukse atmosfeer.
Teëls op vloer en spatpaneel van The Tile House
‘Ons leef vir kleur!’
Len en Faith het die ou groen teëls op die mure in die hoofbadkamer behou en dramatiese swart-en-wit teëls op die vloer gelê vir ’n Victoriaanse voorkoms – ’n groot verskil wat hulle nie veel uit die sak gejaag het nie. Die loodglasvenster is een van twee wat hulle sowat 20 jaar gelede op ’n plaas opgetel het. Die tweedehandse Marokkaanse hanglamp was jare lank opgeberg en hulle het die tafel gemaak van ’n ou naaimasjien se raam en ’n marmerblad.
“Ons benadering tot dekor is taamlik liberaal,” sê Len en lag. “En ons maak duidelik baie dapper keuses wat kleur betref! Ons het geweet ’n vars verflaag sal die huis nuwe lewe gee.”
Len sê Faith was die baasbrein agter die opwindende verfkleure wat die meubels en bykomstighede perfek komplementeer. “In die verfwinkel het Faith binne vyf minute 14 verskillende kleure gekies vir binne, buite en die dak!” sê Len. “Die verkoopsman was verstom en het oor en oor gevra of sy seker is van haar keuse. Hy het ook genoem dat mense dae neem om ’n keuse te maak en dat hulle toetspotjies en rekenaarvoorstellings kry voor hulle finaal besluit.
“Maar Faith het geweet wat sy wil hê en al die kleure pas perfek – selfs die smaraggroen teen die eetkamerplafon! Ons noem dit boheems met ’n klassieke kinkel!”
In die hoofslaapkamer is die mure in ’n vars groen geverf: Peppermint Beach 1 van Dulux.
V&A met Len
Was daar enige onmin tydens die opknap en hoe het julle dit hanteer? Ons was te moeg om oor enigiets vas te sit; ons het met sonsopkoms begin werk en saans 23:00 eers opgehou! Ek het ook geleer om nie te stry nie; Faith kry in elk geval haar sin.
Is daar enigiets wat jy berou? Ons moes dit baie vroeër in ons lewe al gedoen het – minstens 10 jaar terug!
Wat meen jy was van die grootste uitdagings? Om die kontantvloei te bestuur! Ons het met ’n baie knap begroting begin en het elke aand ná werk die begroting nagegaan om seker te maak ons spandeer nie te veel nie.
Uit hul notaboek
Dink kreatief en waag ’n paar kanse met kleurkeuses.
1. Wat eers ’n slaapkamer was, is nou die eetkamer met sy groen plafon. Die paartjie het die venster links vervang met ’n dubbeldeur wat op die nuwe dek oopmaak.
2. Dié saai slaapkamer is nou ’n kalm toevlug danksy vars groen muurverf. Die matte is opgetel en die houtvloer is geskuur en vernis.
3. Die bad in die tweede badkamer is uitgehaal en ’n stort is geïnstalleer.
4. Die kombuiskaste is opgekikker met verf. Die oorspronklike vinielvloer is met teëls vervang.
5. Waar die sitkamer oorspronklik was, is nou ’n elegante leesvertrek.
Koste
Skuur van vloere: masjienhuur en vernis R4 500
Verf R18 000
Verwers se lone R7 000
Teëls R24 000
Teëllêer se lone R7 500
Dek-materiaal R15 200
Loodgiet-materiaal R9 000
Loodgieter se lone R4 000
Ligtoebehore R9 000
Ysterware, sement, teëlgom, ens. R21 000
TOTAAL R119 200
Kort nadat hulle klaar was met die opknap, het ’n verwoestende brand in Junie 2017 meer as 1 200 huise en ander geboue op Knysna en in die omgewing beskadig.
“Ons moes op die aand van 7 Junie ons huis ontruim. Ons het die ergste verwag en die volgende oggend drieuur teruggekeer; gelukkig het die huis nog gestaan,” onthou Len.
Die plante en bome rondom die huis was egter in vlamme. Hulle het groot stukke mat wat hulle uit die huis gehaal het, met water deurdrenk, dit oor die plante gegooi en lank ná sonsopkoms nog gloeiende kole doodgetrap. Hul huis het oorleef, maar nie die bure se huis langsaan nie.
Len en Faith is vir eers terug in die Knysna-bos in ’n kothuis wat aan Sanparke behoort. Hul bure, Elsa Ferreira en Suzette du Preez, huur nou die Du Plessis’s se huis terwyl hulle herbou.
- Teëls The Tile House (044 382 7825)