
Foto’s Francois Oberholster
Toe Diané van Rhyn by die ou en verwaarloosde huis in Tara in Durbanville instap, het sy net stilletjies gedink: “Sjoe!” Maar haar man, Cobus, het sy idees agtermekaar gehad en wou die huis opsluit koop om op te knap. “Ek was maar skepties, maar hy was vasbeslote en het aangedring dis sý projek.”
Ná ’n paar nagte se wakker lê is die Van Rhyns se aanbod aanvaar en het die groot werk begin. Cobus en sy span het net die oorspronklike mure van die huis behou; al die kaste, kombuis- en badkamertoebehore is uitgehaal en die verouderde ronde deurgange is reguit gemaak. Vyf maande later kon hulle intrek. Ons het gaan kyk na die ongelooflike transformasie in die kombuis.
Die projek
“Ons wou graag ’n kothuis-voorkoms in die kombuis skep. By ons vorige huis het ons ’n pizzaoond buite gehad, maar dié keer wou ons dit binne hê omdat ’n mens so lekker en gesellig in ’n kombuis kan kuier,” vertel Diané. Die kombuis skakel met die binnebraai, wat een groot, gesellige kuierplek uitmaak.
Nadat al die ou, vrot kombuiskaste uitgehaal is, het die Van Rhyns die hulp van Dan Mel Melamine City ingeroep. “Hulle het ons vorige kombuis ontwerp en ken ons smaak. Ons het koppe bymekaar gesit en danksy ons prentjies en hul idees het ’n plan gou vorm aangeneem.”
’n Nuwe vloer, ’n venster wat wyd oopskuif soos ’n stapeldeur, kaste en die pizzaoond het gevolg, en die Van Rhyns is met reg in hul noppies met die eindresultaat. “Die groot venster kyk uit op die tuin en ons geniet die ooptes en spasie baie. En natuurlik is die pizzaoond ’n wenner!”