book-icon Uitgawe November l Desember 2020

Regruk met Flair: Dié braaiplek is ’n wenner

akkreditasie
Carroll het die kroegstoeltjies gekoop lank voor die kuierplek gebou is; hulle het maande in die studeerkamer gestaan. l Ruben en sy ma het die yslike kompas uit materiaal van ’n skrootwerf gemaak.
Carroll het die kroegstoeltjies gekoop lank voor die kuierplek gebou is; hulle het maande in die studeerkamer gestaan. l Ruben en sy ma het die yslike kompas uit materiaal van ’n skrootwerf gemaak.
’n Gesin van selfdoeners het die Covid-19-grendeltyd ten beste benut deur ’n netjiese braai-en-kuierplek op hul werf in te rig.

Foto’s Elza Cooper l Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER?

Carroll en Philip Smith en hul seun, Ruben (16)

WAAR Vanderbijlpark, Gauteng

GROOTTE 48 m²

Sy en haar man, Philip, het sowat vier jaar gelede rondgery in ’n ou buurt in Vanderbijlpark, Gauteng, op soek na ’n lekker vervalle huis, vertel Carroll Smith. “Ons is ywerige opknappers. Ons was toe pas klaar met ons vorige blyplek waar ons oor dertien jaar als behalwe die dak vervang het. Dit was tyd vir ’n nuwe projek.

“Ons het al ’n paar vervalle huise op veilings gekoop en reggemaak om te verhuur,” verduidelik sy. “Philip, ’n elektriese tegnikus, se hande staan vir niks verkeerd nie en ek self het maar altyd opknapplanne. Saam bou ons gewoonlik iets wat mooi lyk, maar ook goed werk.”

Met hul rondry destyds het ’n huis met ’n interessante hek en voormuur hul aandag getrek. Van die erf kon hulle nie veel sien nie, maar ná ’n kykie op Google Earth was hulle beïndruk met die privaatheid en oriëntasie van die huis. Toe hulle weer daar verbyry het die hek effens oopgestaan en Carroll het gaan kennis maak.

“Die oop hek moes ’n teken gewees het, want die huis sou binnekort opgeveil word. Ons het ’n aanbod gemaak en die koop het deurgegaan net ’n week voor die veilingdatum.” Sy onthou hoe verstom hul vriende was: “Ons het ons netjiese huis verruil vir ’n verwaarloosde plek met hope werk!”

Smith
Die braaiplek is gebou volgens die mate van ’n vlekvryestaalrooster (800 x 500mm) wat die Smiths meer as 20 jaar gelede op die Randse Paasskou gekoop het. Philip het die steenwerk vir die braaiplek uitgevoer met vuurvaste bord en staalplate laat buig om presies in die ruimte te pas. Hy het die hoeke vasgesweis, asook rakkies vir die braairooster. Die staal is met hittebestande verf bedek en in die baksteenstruktuur geplaas. Staalplaat gesny en gebuig deur JH Sheet Metal; kolerooster van H&M Metal Dealers

Nóú gaan ons braai

Eers het hulle die huis leefbaar gedokter en die swembad moderne, reguit lyne gegee; hulle het ook ’n kleiner poel ingebou wat verwarm word. Langsaan, twee trappies ondertoe, sou die braaiplek kom. “Dit moes behoorlik ingerig wees, want Philip is lief vir braai,” verduidelik Carroll. “Ons wou ook verskillende kuierhoekies skep wat gesellig by mekaar aansluit.”

Eers moes hulle kakiebos, struike en bome uithaal en ’n stewige basis skep deur die grond vas te stamp. Vir die uitleg het hulle talle opsies met behulp van die ontwerpprogram Visio ondersoek. “Einde 2018 het ons die finale plan met bakstene uitgelê en ’n kamma-braai gehou om seker te maak die uitleg werk goed.’’

Bouwerk het vroeg in 2019 begin, maar toe raak hulle besig met ander dinge en het die projek ’n jaar lank agterweë gebly.

Min wetende wat 2020 sou bring, het hulle in Maart in alle erns weer begin. “Toe die Covid-pandemie uitbreek en ons besef ons gaan dalk ’n grendeltyd tegemoet, was dit omtrent ’n geskarrel om ons planne te finaliseer en al die materiaal betyds te koop.” In April het hulle volstoom weggespring en alles self gedoen, behalwe die bouwerk, wat Abraham Tshabalala behartig het. “Philip het al die staal- en sweiswerk gedoen, Ruben het met die houtwerk gehelp en ek het geverf.”

Vroeg in Mei was alles klaar. “Dit het Philip ’n paar dae geneem voordat hy dit oor sy hart kon kry om sy nuwe braai in te wy!”

Die Smiths hou van ’n “kykvuur”, soos Carroll dit noem, en het ’n platform vir die doel só geplaas dat die “kykers” en die “braaiers” steeds gesellig kan saamkuier. Die kolemandjie is deur leerders van ’n spesiale skool gemaak. Die vloer is van vuurvaste stene, en om skoonmaak te vergemaklik het dit ’n dreineringspyp wat water na ’n bedding lei. Kolemandjie van Die Anker Skool

Die skermmuur steek die swembadpomp weg en ingeboude kaste aan die voorkant verskaf bêreplek vir gasbottels en braaigoed. Vir die deurtjies is dekplanke van saamgestelde herwinde hout, wat geen onderhoud verg nie, gebruik. Groot plaveistene vorm ’n stewige werkoppervlak. Bakstene van Corobrik; UltraShield-dekplanke van NewTechWood; Flamed Granite-plaveistene van The Creative Stone Company

Om ’n waterpyp vir die wasbak aan te lê moes hulle ’n tonnel onder die tuin deurgrawe. Carroll het die wit erde-waskom met ’n swart rand aanlyn opgespoor. Waskom van Koti Traditional Wedding Specialists

Die groot kuiertafel se blad is ook van dekplanke gemaak; vir die pote is ’n ou I-balk van ’n skrootwerf gebruik. “Ons moes omtrént skuur om die roes af te kry,” vertel Carroll. ’n Laer tafel langs die braaiplek is gerieflik om alles wat op pad is vuur toe, neer te sit. UltraShield-dekplanke van NewTechWood; staal van H&M Metal Dealers

Opknap

Terwyl die manne om die braai kuier en die kinders in die groot swembad baljaar, kan die ma’s in die warm poel langsaan ontspan met sambreel-drankies. Trap- en plaveistene van The Creative Stone Company

Beskerm jou plaveistene

Jason Kobrowisky, eienaar van The Sealing Company, wat verseëlaars vir verskillende oppervlakke vervaardig en ook ’n verseëldiens aanbied, vertel hoekom dit raadsaam is om plaveisel te verseël:

“Betonstene is van nature poreus, daarom is dit belangrik om ’n goeie verseëlaar te gebruik wat vlekke sal voorkom – veral rondom ’n braaiplek.”

Hy sê hoofsaaklik twee soorte verseëlaars word algemeen gebruik: dié met ’n waterbasis en dié met ’n oliebasis. Die onderskeie produkte se afwerkings kan wissel van dof tot glansend, afhangend van wat die kliënt verkies.

“Buiten dat ’n goeie verseëlaar jou plaveistene of -blokke sal beskerm, kan dit ook die kleur van die stene beklemtoon,” sê Jason.

1 “Om stene te lê, kan morsig wees, daarom is dit baie belangrik dat jy die stene deeglik skoonmaak voordat die verseëlaar aangewend word.”

2 Vir die beste resultate beveel Jason lamswol-blokke aan vir die aanwending. Ander aanwenders kan volgens hom strepe of borrels op die oppervlak vorm.

3 Dit duur gewoonlik ongeveer 30 minute voordat die verseëlaar heeltemal droog is. “Dan is dit gereed vir ’n tweede laag en kan ’n mens daarop loop,” sê hy.

KONTAK 083 700 1692; thesealingcompany.co.za

Alles wat ons gebruik het, verg min onderhoud. Ons kan die hele area skoonmaak met ’n hoëdrukspuit. – Carroll
Totaal: R26 960

Staal en staalplaat 3 200

Hout 5 400

I-balk 750

Vuurvaste stene en bord 630

Kolemandjie 240

Plaveisel 11600

Bakstene en sement 2 300

Ligte 240

Waskom 100

Bouer 2 500

[DIE SMITHS SE OPKNAPWENKE]

Beplan deeglik. “Ons meet alles verskeie kere uit en stel dit op die proef voordat ons op ’n idee besluit,” verduidelik Carroll.

Koop die beste wat jy kan bekostig. “ ’n Mens vergeet baie gouer wat iets gekos het as wat jy oor die teleurstelling van afskeepprodukte kom.”

Neem krag- en waterpunte in ag; onthou ook waar jou bestaande waterpype loop sodat jy nie plaveisel hoef op te tel indien daar later ’n lek ontstaan nie.

Gebruik Pinterest. “Al is dit net om die kommunikasiegaping tussen die manlike en vroulike spanlede te help oorbrug,” verduidelik Carroll laggend.

Grootte maak tóg saak. Pas jou idees en bouwerk aan vir die ruimte wat jy tot jou beskikking het.

Hou jou oog op die eindproduk. “Ons het nog baie planne hier en alles wat ons doen, skakel in by die groter prentjie.”

Die Smiths se opknap is die eerste van die kategoriewenners wie se projekte ons wys uit inskrywings vir 2020 se Regruk met Flair-kompetisie. Hulle is aangewys as wenners in die Self Gedoen-kategorie en hul prys beloop R25000. Ons wys die wenner in die O, So Mooi-kategorie in ons vakansie-uitgawe wat vanaf Vrydag, 18 Desember 2020 te koop is.

VERSKAFFERS

Abraham Tshabalala (bouer) 073 030 2870

Corobrik 031 560 3111

Decofurn 087 740 1800

Die Anker Skool 016 931 1682

H&M Metal Dealers 016 986 1321

JH Sheet Metal 016 933 5670

Koti Traditional Wedding Specialists 087 012 5363

NewTechWood 011 463 7775

Riverside Mica 016 932 3131

The Creative Stone Company 011 794 9737


Jongste uitgawe

Okt | Nov 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees