
Foto’s Greg Cox l Stilering Marian van Wyk
Marné Marais en haar boerboel, Voodoo
WAAR Sutherland, Noord-Kaap
GROOTTE 200 m²
Voor
Marné se swaer Warren Strydom en sy vennoot De Villiers Hattingh van Anvl Kraft, wat eintlik motorfietse bou en herstel, het die kombuis gebou van herwonne hout en ou pype, en ’n laboratoriumwasbak geïnstalleer. Die kombuiseiland kom uit Amerika waar Marné voorheen gewoon het.
In die middel van Sutherland, in die skadu van die
NG Kerk, staan ’n huis wat met die eerste oogopslag
effens uit sy plek lyk. Met swart buitemure en ’n vrou
op ’n besemstok pleks van ’n tradisionele weerhaan op
die dak, is Die Heks se Huis, waar Marné Marais
woon, in skril kontras met die ander huise – sommige
van Karoo-klip, ander vroom wit geverf – op dié
Karoo-dorp.
In haar soektog na ’n blyplek met egte Karoo-sjarme het Marné haar hart verloor op dié geskiedkundige huis wat uit 1905 dateer. “Ek het rondgegrawe in elke Karoodorp binne ’n 350 km-radius van Kaapstad vir ’n huis wat met my práát. Toe ek dié een op Sutherland sien, was dit maar die tweede keer in my lewe dat ek op die dorp gekom het,” vertel sy.
Sedert die NG Kerk in 1908 die huis by die eerste sendingprediker, eerwaarde Gabriel Johannes Viviers, gekoop het, het dit tientalle veranderinge aan die hand van ’n hele paar eienaars ondergaan. Dit was al ’n dokter se spreekkamer, ’n losieshuis en ’n gastehuis. “Die huis was in ’n haglike toestand toe ek dit gekoop het,” onthou Marné, “en ’n groenerige kleur geverf. Ek het in daardie stadium nie die geld gehad om die plek te sandblast en dit weer ’n klipgebou te maak nie, daarom het ek bloot bo-oor geverf.
“Al wat destyds in die huis was, was ’n piepklein klerekas in die slaapkamer en ’n wasbak in die kombuis. My ma was geskok toe sy dit die eerste keer sien.” Maar Marné het ’n visie gehad om die huis na sy oorspronklike glorie te herstel.
Twee binnemure is uitgebreek waar die leefvertrek, eetkamer en kombuis nou alles een oop ruimte vorm. Voor die kombuis in November 2017 voltooi is, het Marné en Voodoo saans in een van die plaaslike kroeë gaan eet.
In elk van haar opknapprojekte het Marné ’n stuk ontblote stene in die afwerking behou. Die kunswerke is deel van ’n reeks van 35 wat sy in die grendeltyd geskilder het.
Swaairaamvensters en voordeur van Wood Strippers
Marné het die Union #7-houtstofie agterin haar luikrugmotor van Wellington af aangery Sutherland toe.
Antieke koekrollers van Romantiques
Pootjiesbad 8000
Koperkrane 8000
Kombuiskaste en -installering 50 000
Laboratoriumwasbak 1500
Geelhoutlatei vir kaggel 1500
Koolstofie 5500
Badkamerkassie 1500
Wasbak 1000
Vensters 3000
Deure 35 000
Glas 2000
Knoetsdennehoutplafon 10 000
Ligte 3000
Verf 25 000
Rommelverwydering 15 000
Sement 20 000
Sand 20 000
Kontrakteurs 22 000
Marné vertel sy het sowat 54 000 km oor Suid-Afrika afgelê in dié leerbaadjie “uit my motorfietsdae”. Ou tasse en trommels is Craigslist-kopies uit die tyd toe Marné in die VSA gewoon het. Kleurglas in voordeur van Hero Stained Glass
Marné se stiefpa het die ou eikehoutlaaikas wat nou langs haar bed staan voorheen as gereedskapkis gebruik. “Dit was oortrek met kewers. Ek het dit skoongemaak en die kewers pad-op gestuur,” sê sy laggend.
Die muur tussen die hoofslaapkamer en badkamer is uitgebreek om ’n en suite te vorm. Die ou handspieëls is vondste uit oudhedewinkels. Pootjiesbad van Italtile; koperkrane van Brassique
Die opknap
Dié raakvatter was gelukkig g’n groentjie as dit by opknapwerk kom nie en het sedert haar grootwordjare ’n passie vir ou woonplekke – haar ouerhuis was immers die Stellenbosch Hotel. Sowat ’n dekade lank het sy in die buiteland gewoon, onder meer in Costa Rica en die VSA waar sy by die College of Wicca and Old Lore in Denver, Colorado, die moderne manifestasie van die ou paganisme of heksebeweging Wicca bestudeer het. Hier het sy in 2007 ’n huis uit 1890 gekoop en vier jaar lank daaraan gewerk. In 2012 het sy ook ’n Victoriaanse huis in dieselfde stad opgeknap.
“Dis ’n kreatiewe proses,” sê sy oor die werkwyse van mooimaak en herstel. “Dit is baie bevredigend om iets wat basies ’n bouval is, te omskep in ’n gemaklike, bruikbare ruimte.” Die koopkontrak vir die Sutherland-huis is op 7 Januarie 2017 beklink, en Marné het in Mei daardie jaar die 2 141 m²-erf begin skoonmaak. Op 1 Junie kon opknapwerk aan die huis begin. Marné het twee plaaslike arbeiders in diens geneem en sommer haar eie konstruksiemaatskappy, Witchy Worx Renovations, op die been gebring.
Marné en Voodoo het met koperbed en al in die hoofslaapkamer ingetrek. Sy het ook ’n kantoor ingerig waar sy kon aangaan met werk en terselfdertyd ’n oog oor die projek hou. “As gevolg van die aanvanklike afbreekwerk het ek ses maande lank in die stof geleef, en dit boonop met ’n gat in die dak in die middel van Sutherland se winter!”
Enige aanbouings wat nie deel van die oorspronklike huis was nie, is afgebreek sodat die huis van buite af sou lyk nes in 1905. “Die hele huis is van Karoo-klip gebou. Om ’n groot kaggel in te bou het ons een hele buitemuur uitgehaal en agterna weer klip vir klip teruggesit,” vertel sy.
In die middel van die ergste breek- en bouwerk het Marné albei haar enkels gebreek. “Ek was ’n maand lank in ’n rolstoel. Maar danksy ’n werknemer by my gastehuis Maison d’Bosch op Stellenbosch, ’n stel krukke en twee moon boots kon ons die wa deur die drif trek.
“Ek wou dié huis so kreatief en eklekties moontlik maak omdat ek self hier bly. Uniek, maar met die ouwêreldse Karoo-flavour.”
Anvl Kraft 082 820 5658
Brassique 021 851 3812
Hero Stained Glass 021 851 0522
Italtile 010 271 2272
Romantiques 028 312 4226
Wood Strippers 082 465 6057