book-icon Uitgawe April 2020

Uit die boks-wenner: Van skeepsvraghouer tot indrukwekkende mikrohuis

akkreditasie
Danksy ’n praktiese aanslag en noukeurige beplanning is ’n tweedehandse skeepsvraghouer nou ’n indrukwekkende mikrohuis.

Foto’s Elza Cooper Stilering Amanda van Wyngaardt

Christian se lessenaar vorm ’n belangrike deel van sy woonplek. “Omdat ek dikwels ná ure werk en nie elke aand my goed wil wegpak nie, het ek my lessenaar só ontwerp dat dit nie wegvou nie, maar eerder dat die bed daarbo kan rus.” Swart bekers en skinkbord van Woolworths

WIE WOON HIER?

Christian Greyling

WAAR Pretoria GROOTTE 14,4 m²

Vir ’n argitek is dit maar moeilik om in ’n huis te woon wat ’n ander ou ontwerp het,” sê die argitektuurstudent Christian Greyling. “ ’n Mens kyk anders na jou eie spasie en jy dink krities na oor elke detail wanneer jy jou eie kliënt is,” verduidelik hy. Daarom, toe hy begin beplan aan sy eie mikrohuis in ’n vraghouer, wou hy dié taak nie aan ’n ander argitek oorlaat nie. Hy het sy drome self op papier gesit en uitgevoer – en verlede jaar die “Uit die boks”- kategorie in ons Regruk met Flair-kompetisie gewen met die vernuftige eindproduk.

As voorgraadse student het Christian toevallig die YouTube-kanaal Living Big in a Tiny House ontdek en ’n getroue volgeling van die Tiny House-beweging geword. Met sy graad in sy sak het hy saam met vriende in ’n kommune ingetrek en deeltyds begin werk terwyl hy sy honneursgraad voltooi. Die huur moes hy self bybring. “Maar dit het nie sin gemaak dat ek elke maand R4 500 uitgee op ’n plek wat nie aan my behoort nie,” vertel hy. Met die YouTube-video’s in sy agterkop het Christian begin wonder of dit nie meer kostedoeltreffend sou wees om die geld wat hy op die twee jaar lange huurkontrak sou bestee, in ’n plek van sy eie te belê nie. Maar as deeltydse student kon hy nie ’n lening kry nie.

“Ná net twee maande in die kommune het ek my pa gevra of hy bereid sou wees om die kapitaal aan my voor te skiet. Pleks van elke maand huur betaal, sou ek hom eerder terugbetaal.”

Christian se pa, Jan, het ingestem ...

Die versterkte staaldak het ’n oorhang voor en agter om reënwater weg te lei en skadu te verskaf. Dit is vasgebout sodat Christian dit kan verwyder indien hy die houer eendag wil skuif.

Danksy pa Jan, ’n elektrisiën, se vernuf en kennis van sonkrag is die huis heeltemal selfonderhoudend. Panele op die dak hou verskeie toestelle, waaronder al die beligting, ’n wasmasjien, yskas en internetverbinding, aan die gang – en sorg vir ’n lekker warm stort elke dag. Een van die redes waarom mikrohuise al hoe gewilder word, is die verskuifbaarheid. Ek wou hê die houer moet op enige plek kan staan, sou ek dit wou skuif. – Christian Die mikrohuis staan op baksteenplaveisel wat Christian en ’n handlanger in ’n vierkant gelê het.

Staanplek vir ’n boks

Omdat Christian ’n staanplek vir sy mikrohuis naby sy werk en die universiteit in Pretoria nodig gehad het, het hy by sy oom en tannie gaan aanklop. “Hulle woon op ’n kleinhoewe. Daar was genoeg plek, en omdat hulle nie aan al wat ’n munisipale verordening is hoef te voldoen nie, was toestemming van die stadsraad nie nodig vir so ’n projek nie.” Strukture sonder ’n fondasie is ook nie onderworpe aan munisipale bouvereistes nie, daarom kon hy feitlik onmiddellik aan die werk spring. Christian het besluit om sy huis rondom ’n skeepsvraghouer te ontwerp omdat dit ’n baie kostedoeltreffende raamwerk bied. “Dis sterk, goed bestand teen roes, en die prys per vierkante meter maak dit baie aanloklik.” Die houers is beskikbaar in ’n standaardwydte van 2,4 m, met lengtes van 6 m of 12 m. In die gees van ’n ware mikro-leefstyl het hy in Maart 2018 die kleinste een by Container World gekoop. En toe kon die projek begin. “Die grootste uitdaging van my lewe,” sê hy.

Die bed is teen die vraghouer se oorspronklike sy-opening aangebring en Christian maak die deur graag wyd oop vir beter ventilasie. “Dis baie lekker vir ’n middagslapie in die somer!” Die bed word met ’n katrolstelsel beheer en rus op houtstutte in die muurbekleding. Die boekrak dien as trap na die bed. Kleurblok-kussing op bed en houtskool kussing op bank van Woolworths

’n “Oopplan”-droom!

‘n Knus slaaphoekie

Sy bed uit die pad

Christian berei sy kos op ’n basaarstofie wat hy só gemonteer het dat hy maklik onder die branders kan skoonmaak. Krag- en waterpype is op die oppervlak aangelê eerder as versteek, aangesien dit onderhoud vergemaklik en ook omdat hy van die industriële voorkoms hou.

Christian het soveel moontlik oorblywende materiale benut. Só is ’n glasblad gebruik vir ’n afslaantafel wat aan ’n ketting hang waar hy saans eet of saam met kuiergaste bordspeletjies speel.

Netheid is baie belangrik in ’n klein spasie; die laaie onder die bank hou boeke en artikels wat andersins sou rondstaan, uit die oog en uit die pad.

Dit was vir Christian ’n persoonlike oorwinning om self sy toilet, stort en wasbak in te sit, aangesien hy nog nooit so iets aangepak het nie. Sy klerekasdeur dien ook as badkamerdeur vir privaatheid.

Terugslae en suksesse

Ondanks Christian se deeglikheid van “beplan twee keer, doen een keer” was daar heelparty terugslae. “Ek wou telkemale opgee! Ek het aanvanklik baie goed verkeerd gedoen en daaruit geleer. Dit was ’n fantastiese leerskool.”

Hy is self verbaas dat die toilet en stort met sy eerste probeerslag ’n sukses was. Maar die teëlwerk was ’n ander storie. “Ek het die teëlsement lekker dik aangemaak en behoorlik opgeplak, en kort voor lank het dit deur die mosaïekvelle begin peul. Teen die volgende oggend was dit so hard, ek kon dit glad nie van die mure en teëls afkry nie.” Hy het elke selfdoen-webblad geraadpleeg en op verskeie maniere probeer red wat te redde was. Uiteindelik het sy ma die oplossing gehad. “Sy’t voorgestel dat ek dit eenvoudig afskuur met staalwol. En dankie tog dit het gewerk, want anders sou ek alles moes afkap en oordoen,” sê hy en lag.

Christian woon nou al meer as ’n jaar in sy mikrohuis, en geniet elke oomblik. “Dit was glad nie vir my ’n aanpassing nie, want ek was gewoond aan ’n koshuiskamer,” skerts hy. Maar hy waarsku enigiemand wat so iets oorweeg dat ’n mikrohuis heelwat van ’n mens verg nadat die bouwerk voltooi is. “Dit is ’n leefwyse, en ek kry dit reg omdat ek georganiseerd is, nie opgaar nie en met net die nodige klaarkom.”

Sodra hy sy meestersgraad ontvang, beplan Christian om die mikrohuis te skuif, moontlik na die Greylings se familieplaas in eNtokozweni in Mpumalanga of dalk na sy eie lappie grond. Met dié suksesvolle projek op sy kerfstok beplan Christian nog ’n paar vir die toekoms. “My droom is om ’n erf te besit en my blyplek in modules te bou en uit te brei namate my lewe en behoeftes verander ... En natuurlik sal my eerste mikrohuis deel daarvan kan vorm.” Stap vir stap...

Voor Christian het elke laaste detail van sy mikrohuis met die hand gebou en geïnstalleer. Bedags was hy by sy werk, maar saans kon hy – onder ’n spreilig en dikwels tot middernag – aan sy blyplek bou. Naweke was ’n trollie-dol soektog na materiale.

Eers is gate uitgesny vir vensters en deure. Omdat die termiese waarde van staal swak is, het hy baie aandag geskenk aan behoorlike isolasie – ’n laag Isotherm tussen die wand en die dennehoutpanele binne help met temperatuurregulering.

Christian het ’n gipsmuur tussen die badkamer en leefarea ingesit. Hy sê jy kan baie spaar deur materiaal by groothandelverskaffers te koop.

Hierna kon hy sy kaste, bed, bank en lessenaar van dennehout en meranti bou. Laastens is die vloere van gelamineerde dennehoutplanke gelê en die teëlwerk in die badkamer en kombuis voltooi. Ná agt maande van swoeg en sweet kon Christian intrek.

Totaal: R121 150
  • Tweedehandse 6 m-vraghouer 24 000
  • Hout vir subraam 4 500
  • Isolasie 3 500
  • Houtbekleding (binne) 3 800
  • Nutec (buite) 2 000
  • Plafonpanele (kombuis) 800
  • Aluminium-skuifdeur 3 500
  • Twee aluminiumvensters 3 000
  • Kaste 8 500
  • Kombuistoonbank 800
  • Ysterware 300
  • Wasbak 700
  • Gasstoof 600
  • Stortvloer 600
  • Stortdeur 800
  • Sanitêre ware 1 600
  • Dreinering 1 000
  • Loodgieterswerk 8 500
  • Sonkrag-geiser 7 000
  • Stapelriool 4 000
  • Vloere 4 500
  • Elektriese werk 9 000
  • Beligting 1 000
  • Plaveisel 4 500
  • Gassilinder 600
  • Blindings (badkamer) 350
  • Staal en plate vir dak 10 000
  • Badkamerteëls 3 000
  • Grawe van vore, grondwerk 1 200
  • Kitsgras 4 500
  • Plante 3 000

Christian se bouwenke vir vraghouers

• Maak altyd seker wat jou plaaslike owerheid se boureëls ten opsigte van so ’n struktuur is.

• Sorg dat die houer waterpas staan voordat jy met enige werk begin.

• Beplan deeglik en benut elke sentimeter. Teken alles op plan, ook die sy- en vooraansig.

• Vraghouers seël baie dig. Sorg vir genoeg ventilasie om binne te leef.

• Isolasie is baie belangrik, want jy werk immers met ’n staalboks. Isoleer die mure, asook die dak.

• Dink mooi voordat jy gate begin sny vir vensters en deure, want die houer se sterkte lê in sy wande. Sny jy te veel weg, kan die struktuur knak. Versterk alle openinge met ’n staalraamwerk en as jy enigsins twyfel, vra raad by ’n struktuuringenieur.

VERSKAFFERS

Container World 011 392 1284

Woolworths 0860 022 002

Jongste uitgawe

Okt | Nov 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees