As ek die koning was, hoor ek ’n blonde seuntjie in die parkie hier agter my huis roep, het ons roomys gekry. Sommer ba-a-a-ie.
Sy oppasser lag, haar tande wat spierwit afsteek teen haar donker vel. “En as ék die koning was,” sê sy, “moes jy nou op my skoot kom sit.”
Ek hoor die sonnige gesprek so met ’n halwe oor toe ek en die hond verbystap. Behalwe dat ek skielik roomys op die brein het, verlang ek na die brieklose genot van dié ou wensspeletjie uit my eie kleintjiejare.