Op ’n grou Maandagoggend sit ons in ’n yskoue kerk in Bellville vir ’n begrafnis. Dis ’n Kaapse winter soos uit my kinderdae. Dae en dae aanmekaar sous dit.
Covid se derde vlaag het ons beet, en ons sit kol-kol op die harde banke – letterlik, want rooi plakkers wys jou wat ’n veilige afstand is.
Ek is dankbaar vir die masker wat in die ysige lug my wange warm hou. In my skoene begin my tone stadigaan gevoel verloor, soos toe ek as tiener in die winter met my fiets moes skool toe ry. Namiddae moes my skoolskoene lou-oond toe om droog te bak. Dis my vriend Tony se begrafnis. Hy was ’n groot man: van lyf, van hart, van gees, van omgee. Tot die groot K hom kom haal het.