Einde Februarie lei ek ’n gesprek met Ingrid Jones en Annake Müller by die Stilbaai- Boekefees oor ’n wonderlike kookboek wat hulle uitgegee het – The Lockdown Recipe Storytelling Book. In my vooraf-navorsing lees ek hoe ’n plasing oor lugbraaiers op hul Facebook-groep omtrent ’n oproer veroorsaak het. ’n Lugbraaier, blyk dit, is ’n onvolprese stuk toerusting, veel meer werd as korale.
Daar is blykbaar twee groepe mense as dit kom by lugbraaiers: dié wat klaar een het (“dit sal jou lewe verander”, is hul refrein) en dié wat vasberade is om binnekort een te koop (“hoe groot?” is al waarin hulle belangstel).
Oukei, daar is seker ’n derde groep ook: die handvol mense wat nog nie oortuig is nie, soos ek. Ek hou van ’n lekker “gadget”, soos ’n staafmenger wat kan uie kap! Maar ’n lugbraaier wat jou kombuistoonbank volstaan? Ek is nog nie oortuig nie. En ek hét mos ’n oond...