Vroeg op ’n Saterdagoggend sit ek in die middedorp van Stellenbosch met ’n cappuccino en ’n onoopgemaakte koerant, my gedagtes daar doer. En skielik spring daar ’n snaakse woord hier uit my agterkop: solastalgie.
Jinne, dink ek verras, van waar Gehasi?
Ek kyk straataf, al met die rye coffee shops en toeristewinkeltjies langs wat op die sypaadjies uitspoel. Wat was die prikkel vir hierdie vreemde woord, wonder ek, en hoe kom ek daaraan?