Einde 2020 pak ek ’n badkamer-opknapprojek aan. Soos dit maar gaan, lei die een ding na die ander, en kort voor lank raak dit ’n grootskaalse opkappery van vloere, nuwe deure word ingesit (die ou houtkosyne was vrot) en toe sommer nuwe waterpype ook, want die huis is oor die 100 jaar oud en jare se las en lap het allerlei probleme begin veroorsaak.
Toe al was dit my droom om klompiestene in ’n visgraatpatroon te lê – buite én binne.
“Paver-tjies in jou huis?” wou my bouer verontwaardig weet. Maar ek het die klompies bestel, wat ewe dramaties met ’n hyskraan oor die muur gelig is terwyl die hele buurt kyk. Die straat is steil en die vragmotor moes stutte gebruik wat soos sprinkaanbene op die teerpad geplant is. Een van die redes waarom die vloere opgekap moes word, is oor daar in die agterplaas – eintlik ’n klein binnehof agter – nie ’n betonblad onder die teëls was nie, en daarom het die vloer gekraak.