book-icon Uitgawe Oktober 2018
Deel

'My eerste liefde' – ’n melkboer oor sy passie vir rose

akkreditasie
Die dag toe hy sy eerste roos gekoop het, het Shaun van Huyssteen sy hart op dié blomme verloor!

Foto’s Sally Chance

WIE WOON HIER? Shaun en Laurian van Huyssteen, Gina Rose (6) en Logan John (4)
WAAR Die plaas Tegwan, Underberg, KwaZulu-Natal
GROOTTE VAN TUIN Sowat 1 ha
TIPE GROND Klei met leiklip

As 14-jarige het Shaun van Huyssteen sy eerste roos met sy sakgeld gekoop. Dit was ’n ‘Peace’-roos.

Vandag het hy beddings vol rose in sy plaastuin by Underberg in die suidelike Drakensberg in KwaZulu-Natal. “My ouma en oupa was groot roosliefhebbers. Dis by hulle wat ek my liefde vir tuinmaak en rose gekry het. Hulle het ’n pragtige roostuin gehad.

“Die ‘Peace’-roos* was my oupa se gunsteling, seker dié dat dit ook die eerste roos was wat ek gekoop het,” vertel hy.

As melkboer is Shaun meestal al teen 04:30 soggens besig met die kudde van sowat 700 Holstein-Frieskoeie wat hy bestuur. Maar smiddae, wanneer sy dagtake afgehandel is, werk hy in die tuin tot die son begin water trek. Ook naweke is hy vroeg uit die vere en tussen sy rose.

“Ek geniet dit om in die tuin te werk. Dit is my manier van ontspan ná my gewone dagtake,” verduidelik hy. “Ek hou veral van natlei en beddings voorberei in die winter, want ek weet watter skouspel daar dan in die lente op my wag.”

Toe die Van Huyssteens in April 2012 hier ingetrek het, was die tuin allesbehalwe die lushof wat dit vandag is. In Oktober daardie jaar het Shaun begin om die tuin rondom die huis mooi te maak.

“Die tuin was oorgroei en daar was te veel skadu. Dit het maande geneem om op te ruim, die pragtige ou bome netjies te snoei en weer ’n grasperk te vestig. Ons het sowat 60 bome hier uitgehaal, baie daarvan eksotiese indringers; ook van die naaldeike wat heeltemal te na aan mekaar geplant was.”

1. Gesiggies, akeleie en vingerhoedjies floreer onder ‘Simplicity’-hoogstamrose. 2. ‘Isidingo’ kan as struikroos of as ’n klimroos gekweek word. Dit blom oorvloedig en daar is altyd ’n blom om te pluk vir die huis. 3. Shaun en sy gesin.

1. ‘Apricot Panarosa’ het ’n ouwêreldse voorkoms en lieflike geur. 2. ‘Peace’ * Lees in For Love of a Rose deur Antonia Ridge oor waar die Peace-roos sy naam vandaan kry. Foto Ludwig’s Roses

Akeleie (Aquilegia) saai hulself.

Laat enige plante wat hulself saai, hul gang gaan. – Shaun

Kleur waar jy kyk

Die tuin het met verloop van tyd ontwikkel. Nadat die bestaande beddings oorgedoen is, is die tuin ook uitgebrei – die hele onderste deel was byvoorbeeld voorheen ’n perdekamp! Nuwe beddings is aangelê en vol rose geplant.

“Ek het aanvanklik die beddings in kleurblokke opgedeel en die rose daarvolgens geplant, maar die kleurlyne het mettertyd begin vervaag. Soms plant jy ’n roos wat uiteindelik nie perfek by die kleur van die blok pas nie, en dan begin die verskillende blokke se kleure inmekaarvloei. Nou is my tuin met sowat 600 rose net kleur en nogmaals kleur, sonder enige riglyne!

“Die meeste van my rose kom van Tarr Roses op Greytown. Die eienaar stuur graag haar klante hierheen om te kom kyk hoe floreer haar rose in dié tuin!”

Onder en tussen die rose plant hy een- en meerjariges soos gesiggies, papawers, akeleie, ’n verskeidenheid Scabiosas, Inkalelies en somersneeu. Nie een van dié plante het aggressiewe wortelstelsels wat die rose sal benadeel nie en hulle gee kleur aan die tuin wanneer die rose nie blom nie.

“Ek los die eenjariges om hulself te saai en saai self ook vingerhoedjies, baardangeliere, spinnekopblomme, weeskindertjies en Sisyrinchium fasicultum. Almal groei maklik van saad. Hoewel ek my gunstelinge weer en weer plant en saai, kies ek elke jaar eenjariges in ander kleure. Daar is altyd ruimte om te eksperimenteer en iets nuuts te probeer!”

1. Yslandse papawers, een van Shaun se gunsteling-jaarplante, kontrasteer pragtig met die grys lamsoorblare in dié roosbedding. 2. Yslandse papawers 3. Wilderabarber (Acanthus mollis) met sy groot, blink blare en treffende blomme langs ’n paadjie. 3. Koringblomme (Scabiosa africana) 4. Pienk vingerhoedjies (Digitalis purpurea) komplementeer die oranje Azalea mollis in ’n randakker.

1. ‘Sasa’ blom gereeld en herhalend deur die seisoen. 2. ‘Arctic Ice’ is ’n besonderse hibried-teeroos wat nie so vatbaar is vir siektes soos ander lila rose nie. 3. ‘Askari’ is ’n baie ou hibriedteeroos.

Staatmakers in Shaun se tuin

  • Rose, natuurlik! Daar is soveel verskillende rose wat op ’n verskeidenheid maniere in ’n tuin gebruik kan word.
  • Die gesiggies (Viola-spp.) blom tot ses maande lank as ons die dooie blommetjies gereeld afpluk. Dit gee vir lank kleur tussen my rose.
  • Inkalelies (Alstroemeria aurea) verg min onderhoud en is goeie plukblomme.
  • Papawers gee ’n sagtheid aan die tuin.
  • Vingerhoedjies (Digitalis purpurea) gee hoogte en saai maklik.
  • Sisyrinchium fasicultum kom in baie verskillende vorms en kleure en maak ’n mooi vertoning, selfs al blom dit nie.
  • Spinnekopblomme (Cleome spinosa), wat vir lang tye in die hitte van die somer ’n mooi vertoning maak.
  • Clematis-hibriede is een van my nuwe gunstelinge! Ek het ’n hele paar variëteite geplant en sal graag wil sien hoe hulle in die volgende paar jaar gaan vertoon. • Wilderabarber (Acanthus mollis) se blare is vir die grootste deel van die jaar glansend groen; dit het ook dramatiese blomme.
  • Krismisrose (Hydrangea-spesies), wat met hul pragtige groot blomkoppe perfek is vir skaduryke dele.

‘Clair Matin’ is die perfekte roos om oor ’n boog te laat rank.

Tuinmaak is ononderbroke werk en liefde. –Shaun

Shaun se algemene tuinwenke

  • Gooi elke jaar ’n dik deklaag in al die beddings. Ons gebruik goed verrotte beesmis waarvan daar natuurlik baie op die plaas is! Omdat dit droog is wanneer ons dit gebruik, het dit geen reuk nie. Kompos is ook ’n goeie deklaag. Ek gebruik nie beesmis rondom my asaleas en krismisrose nie, want hulle verkies ’n suur deklaag; hiervoor koop ek suur kompos.
  • Gee jou plante gereeld kos. Ons verwag van plante om te floreer en te blom, maar gee nie altyd genoeg plantkos nie. Ek gebruik dieselfde Multifeed-produk wat ek vir my rose gebruik regdeur die tuin.
  • Die winter is ’n besige tyd in die tuin. Al is dit koud, is daar baie om te doen en jy sal die vrugte van jou arbeid in die lente en somer pluk. In die winter verdeel en skuif ek plante en berei die beddings voor deur mis, beenmeel en kalk in te werk. Ek verplant ook die saailinge wat opkom. Verder snoei ons – moenie bang wees om te snoei as ’n plant dit nodig het nie.

Nog gunstelingrose op Tegwan

  • ‘Jean Geldenhuys’ is ’n klassieke Panarosa-roos en ’n pragtige plukblom.
  • ‘Double Delight’ ruik ongelooflik lekker, maar is ongelukkig vatbaar vir siektes.
  • ‘Papaya Panarosa’ met sy oranje blomme is altyd ’n wenner.
  • ‘Clocolan’ is uiters bestand teen siektes. Dit aard ook in halfskaduwee.

’n Voëlbadjie wat Shaun van ’n klip gemaak het, word omring deur blou lupiene en geel Sisyrinchium fasicultum.

Fokuspunte

Behalwe vir tuinmaak, gebruik Shaun enigiets wat hy op die plaas optel om fokuspunte te skep. Met ou telefoon- of kragpale wat rondlê, maak hy beddingrande en rame waaroor rose kan groei, stukke metaalheining sweis hy aan mekaar vir roosboë, en met dwarslêers bou hy bankies waarop hy en sy gesin in die tuin kan sit. Hy het ook ’n klipbankie en voëlbadjie gemaak met klip wat hy op die plaas gekry het.

“Ons gunstelingplek in die tuin is die swaaibank onder die groot naaldeik,” vertel Shaun. “Dit het ’n pragtige uitsig op die voorheuwels van die suidelike Drakensberg en ons sit baie aande daar en kyk hoe die son agter die berge wegsak. Ek dink baie oor my tuin en visualiseer wat ek alles nog daarin wil doen. My tuin is my rustige plek en my rose my eerste liefde. ’n Roos is net so ’n ongelooflike plant; dit beloon jou sonder ophou.”

Shaun se wenke Vir jou rose

  • Een van die belangrikse take in my tuinroetine is om die rose elke maand met Efekto se Rosecare te spuit. Dit beskerm die plant teen onder meer plantluise, rooispinnekop, swartvlek en witroes. Ek begin spuit sodra die rose begin uitloop en doen dit tot so die begin van Mei. Ons spuit glad nie in die wintermaande nie.
  • Van middel Augustus tot einde April kry die rose elke twee weke Nulandis se Multifeed P 5:2:4 (43). Ek strooi dit om die plante en gee daarna goed water. Dit kan ook as blaarvoeding gebruik word, maar wees baie versigtig dat jy nie die plant brand nie. Lees die aanwysings noukeurig.
  • Wanneer ek rose snoei, kry elke plant ’n mengsel van gelyke dele kalk en beenmeel. Ek gooi ’n koppie vol van dié mengsel al met die druplyn van die plant langs – nie direk teen die stam nie – en werk dit dan versigtig in die grond in. (Die druplyn is waar die waterdruppels op die grond sal val wanneer jy die plant natspuit.) Die kalk help om donsskimmel te keer.
  • Elke roosboom kry ook ’n eetlepel epsomsout elke drie tot vier weke van die middel van Augustus tot in April, voor die eerste ryp kom. Die sout laat die roosboom daardie rooi, gesonde en sterk lote uitstoot. As jy die sout te laat in die seisoen gee, sal die nuwe lote wat dit dan uitstoot deur ryp beskadig word. Strooi dit om die plant en gooi goed nat.
VERSKAFFER
Tarr Roses 071 197 8568
Jongste uitgawe

Julie 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees