’n Formele oase in die Karoo

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Martin het die swembad in 2005 by die gastekothuis gebou. “Dis omhein en baie privaat. Hier voel ’n mens of jy op enige plek in die wêreld kan wees. Ons hou van die natuurlike ontwerp, soos van ’n dam. Binne is dit uitgevoer met groen teëltjies.”
Martin het die swembad in 2005 by die gastekothuis gebou. “Dis omhein en baie privaat. Hier voel ’n mens of jy op enige plek in die wêreld kan wees. Ons hou van die natuurlike ontwerp, soos van ’n dam. Binne is dit uitgevoer met groen teëltjies.”
Charmaine en Martin Haines se tuin op Nieu-Bethesda is so eiesoortig soos hul kuns.

Foto’s Greg Cox l Produksie Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Charmaine en Martin Haines

WAAR Nieu-Bethesda

GROOTTE VAN TUIN 600 m²

GRONDTIPE Klei

Die tuin van die Haines-kunstenaars is die ene verrassings en kontraste. ’n Mens verwag nie só ’n groen oase hier tussen die loom stofstrate en donkiekarre van Nieu-Bethesda nie. Nog minder die formele Victoriaanse uitleg van reguit gruispaadjies en afgebakende blombeddings. Maar in die leivore (soortgelyk aan dié langs die dorp se strate) vloei water wat onder die Karoogrond uit kom, terwyl die beddings gevul is met geharde plante wat die strawwe ryp van winternagte kan weerstaan. En die kunswerke op ’n mosaïekmuurtjie – die kop van ’n vrou met swart hare, ’n langbeenhaas, potte – is nie jou gewone langs-diepad-kopies nie.

Fyn gruis in die paadjies maak dit makliker om daar te loop. “Ons verkies die warm klipkleur bo die gewone grys. Ons hou van die tekstuur en die natuurlike voorkoms in ons tuin.” Die twee bosse regs is ‘Iceberg’- rose en die struik links is ’n Chinese sneeubalbos (Viburnum macrocephalum ‘Sterile’). Dis droogtebestand en dra groen blomme wat later wit word.

Die Uilehuis

Nieu-Bethesda is veral bekend om die Uilhuis, ’n museum met die eksentrieke kunstenaar Helen Martins se anderwêreldse beelde van sement en gemaalde glas. Die Haines-egpaar, self bekende keramiekkunstenaars, se huis is net ’n paar blokke van die Uilhuis af. Op húlle voordeur pryk die huis se naam: Onion House.

Die Hainese het 20 jaar gelede van die kus naby Gqeberha hierheen getrek “Ons dogter, Emma, het hier grootgeword. “Voor ons die huis gekoop het, was dit ’n opbergplek vir uie, knoffel en aartappels wat op die nabygeleë groot erwe geoes is,” verduidelik Charmaine. “Dit was toe al bekend as die Uiehuis.”

Die dorpie Nieu-Bethesda, sowat 50 km van Graaff-Reinet, het in 1886 ’n munisipaliteit geword. “Ons huis was oorspronklik ’n eenvoudige nagmaalhuisie sonder ’n badkamer,” vertel Charmaine. “Al wat ons aangebou het, was ’n badkamer en opwaskamer. Ons wou die oorspronklike karakter sover moontlik behou.”

Sy sê hulle is gek na Nieu-Bethesda en sy klein gemeenskap. “Hier is rus en vrede, mooi natuurskoon en ooptes. Die mense hier is nie so gebruikersgek soos in die stede nie. Ons is almal omgewingsbewus en weet hoe belangrik ons waterbronne is – al beteken die dorp se naam ‘plek waar water vloei’. Elke projek wat ons aanpak, oorweeg ons volgens styl, kleur en tekstuur. Alles wat ons skep, pas ook aan by die unieke karakter van die Karoo.”

Charmaine was 20 jaar lank die hoof van keramiek-ontwerp by die Nelson Mandela-Universiteit. Haar kunswerke behels dikwels visse, voëls en ikone. Martin se beelde en funksionele kuns soos borde dra deesdae veral sy bekende haas-ontwerp.

Die druiweprieel oor die agterstoep gee skadu in die somer en sonskyn in die winter. Omdat die blare nie dig groei nie, laat dit ook lig deur na die woonvertrek. Geel pot van The Mulberry Pottery

Die klein venstertjies is tipies aan die Karoo; dit hou die huis koel in die somer en hou hitte binne in die winter. Martin het die hortjies gemaak en geverf.

Rankrose tuimel oor heinings en versag só die tuin se formele lyne.

“Mense noem ons huis ‘die ongeverfde huis’, sê Charmaine. Die mure is wel afgewerk met Portland-sement gemeng met okeroksied en hars met ’n waterbasis, wat dit soos ’n tipiese Karoo-kleihuis laat lyk. Loodglaswerk deur David Manning Stained Glass

Formeel

Waar die tuin nou is, was daar net ’n lendelam grensdraad, ’n hek en ’n buitetoilet toe sy en Martin hier gekoop het, vertel Charmaine. Alles was oorgroei met gras, bossies en onkruid – glad nie die formele gevoel wat dié twee kunstenaars in ’n tuin verkies nie. “Ons hou van die simmetrie en balans van gevormde, ommuurde beddings, verbind met gruispaadjies na afgebakende areas.”

Sy sê hulle het self alles beplan en gevestig. “Die tuin het op ’n natuurlike manier ontwikkel tot die formele uitleg wat dit nou het. Alles het maar begin met ’n muur en heinings vir privaatheid en skuiling teen die wind.

“Nadat ons in 2005 ’n swembad gebou het, het die tuin van daar af verder gegroei. Gruispaadjies na die huis, afgebaken met heinings van rankrose, het ook bygekom. “Ons plant in uitgelegde, beplande beddings, afgeskort met struike wat ons in vierkantige en ronde vorms snoei. Dit dra ook by tot die formele voorkoms. Die muurtjies rondom blombeddings is funksioneel deurdat hulle water binnehou sodat ons nie water mors wanneer ons natmaak nie.” Om die Karoo-karakter te behou, gebruik hulle materiale met ’n natuurlike voorkoms, soos klip en sement.

Martin en die vierjarige Emma in 2001 voor die huis. Dit was vroeg in die opknapping, toe hulle die staalvensters uitgehaal het. Stukke van die huis se mure was met modder gebou; hulle het dié dele met gaas versterk en bo-oor gepleister.

’n Ou bankie op die agterstoep staan met sy rug teen die houtstoof in die kombuis se skoorsteen. In die hoek is ’n groot, geglasuurde pot gemaak deur die Suid-Afrikaanse pottebakker Yogi de Beer. Die geglasuurde bord met haasmotief is Martin se handewerk. Draadstoele van Chair Crazy

“Al het ons tuin ’n formele struktuur, is dit seker meer Karoo as Victoriaans,” sê Charmaine laggend. Die ronde soutbos is ’n voorbeeld van Norman Maswan, wat twee keer ’n week in die tuin kom help, se netjiese snoeiwerk. Gruis van AM Harbron Quarries

Die meerminbeeld op die tuinmuurtjie is by ’n kunssmous buite die Uilhuis gekoop.

Charmaine het die vrouekop gemaak. Die haas is deur wyle Willie Maswan, ’n plaaslike bouer wat ook sementbeelde gemaak het.

’n Paadjie lei tussen die pilare deur na die swembad.

Preie, vinkel en jong artisjokke gedy in Martin se groentetuin.

’n Blik oor die vallei na die Sneeuberg, met Nieu-Bethesda onder.

In elke hoek van hierdie formele bedding staan ’n naaldboom wat hoogte en simmetrie gee. Die bedding is omsoom met klein buksplante wat later ’n heining sal vorm.

MARTIN SE WENKE VIR TUINMAAK IN DIE KAROO:

• Let op wat goed groei in jou omgewing.

• Maak seker uit watter rigting die wind gewoonlik waai sodat jy beskerming vir kwesbare plante kan skep.

• Vind uit hoeveel groeiruimte ’n plant nodig het en wat die perfekte omstandighede is voordat jy dit plant.

• Weet wanneer om te plant. Ons groeiseisoen in Nieu-Bethesda is baie kort. Ons moet tussen rypseisoene werk en plant nooit voor die einde van Oktober nie.

• Kies immergroen plante vir lewe en kleur in die winter – hiervoor werk buksbome, ornamentele kool en spinasie goed.

• ‘Iceberg’-rose is baie dankbaar. Ná ’n vernietigende haelstorm in Januarie het ons alles kwaai teruggesnoei; in Februarie was die struike weer vol in die blom.

• Maak waterwys tuin: Behou water met goeie, komposverrykte kleigrond, dam blombeddings op met muurtjies en walletjies, en plant inheems.

Plantkeuse

Al die plante in hierdie tuin is geskik vir die klimaat. “Op wintersaande kry ons temperature van tot -16 grade,” vertel Charmaine. “Vanjaar het ons voor Mei al ryp gehad. Maar die rose aard goed hier. So ook bolplante soos knoffel, uie en daglelies. Dan is daar ook vinkel en artisjokke. Ons het ook heelwat bloureën, wingerdstokke, Bostonse klimop, granaat-, pekanneut-, kweper- en sekere naaldbome.

“Verder is hier verskeie kaktusse, soos die koningin-van-die-nag (Selenicereus grandiflorus). Hul blomme is so wit, hulle gloei omtrent in die donker. ’n Mens kan sy lote afbreek en plant. Of, as lote afbreek, groei hulle net waar hulle val. Ons het meestal wit blomme geplant sodat ’n mens hulle tot laat in die skemer kan raaksien.”

Hulle koop selde plante, sê Charmaine. “Ons kweek ons plante met sade en van steggies van die plante wat ons weet hier aard. Martin is altyd aan die steggies en saad versamel.” Die paartjie het selfs plante van saad wat hulle in Frankryk versamel het toe hulle jare gelede daar gewoon het. “Al het ons in ’n huurhuis gewoon, kon Martin dit steeds nie weerstaan om steggies in sakke te kweek nie. Voor ons daar weg is, het ons sakke vol plante aan ’n paartjie gegee wat toe pas in ’n huis sonder ’n tuin ingetrek het. Hulle self kon toe glad nie tuinmaak nie. Vandag is hulle ywerige tuiniers en is hul plek pragtig.”

Charmaine vertel hoe gek hulle is na die definitiewe seisoene in die Karoo. “In die somerhitte bly ons besig met water gee. Die winter is ’n ruskans, wanneer ons nie so gereeld natgooi nie. En in Julie of Augustus snoei ons gewoonlik.” Hulle het nou al amper met hul tuin bereik wat hulle wou, sê sy. “Maar ons weet ’n tuin is nooit voltooi nie. Dit groei altyd met nuwe en ander plante wat beter daar aard.”

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Jongste uitgawe

Desember 2022 | Januarie 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees