book-icon Uitgawe Oktober 2018
Deel

Plant van die maand: Rankers

akkreditasie
Plant dié twee klimplante vir kleur en geur in die lente.

Foto’s Francois Oberholster

Engelse kanferfoelie en ’n ‘Crépuscule’-klimroos is die perfekte pasmaats. Plant hulle sommer in dieselfde plantgat naby ’n muur, prieel of heining wat hulle dan saam-saam kan toegroei. Dié twee klimplante blom albei in die lente en sorg vir ’n oorvloed blomme in kleure wat mekaar komplementeer. Boonop is die kanferfoelie baie geurig en het die ‘Crépuscule’ ’n delikate soet geur.

Het jy geweet?
Crépuscule beteken skemer in Frans en is ’n baie gepaste naam vir dié roos, aangesien die blom se kleur jou aan ’n sonsondergang herinner. Die roos, wat in 1904 deur Francis Dubreuil gekweek is, is vandag nog ’n baie gewilde keuse vir tuine.

‘Crépuscule’-klimroos

Dié pragtige klimroos dra ’n oorvloed sagte, appelkooskleurige blomkoppe, veral in die lente en vroegsomer wanneer dit op sy mooiste is. Daarna blom dit met gereelde tussenposes deur die somer tot in die herfs. Die blomkoppe het ’n ouwêreldse voorkoms en ’n soet geur. Dit blom die beste in volson, maar sal in ligte skaduwee ook aard. Plant die roos in komposryke grond wat goed dreineer.

‘Crépuscule’ kan as ’n groot struik- of klimroos gekweek word en as jy nie keer nie, sal dit vinnig ’n muur of prieel toerank. Dit werk ook goed as heiningplant. Tog is dié roos nie ’n te wilde groeier nie en dus ook geskik vir kleiner tuine. Die blare is ’n mooi blinkgroen kleur en die stele het min dorings. Die plant is redelik bestand teen siektes en hoef nie veel gesnoei te word nie. Sny dit in die winter liggies terug net om dit netjies te hou. Ná blomtyd kan dit harder teruggesnoei word indien nodig. Kies die sterk lote om die raamwerk waarteen dit opgroei, toe te rank en sny ou en droë takke uit.

Buiten Engelse kanferfoelie is die perskransie (Petrea volubilis), Clematis montana en klimrose soos ‘Francois Juranville’ en ‘Wedding Garland’ goeie pasmaats.

Plantgids

  • Volksnaam ‘Crépuscule’-klimroos
  • Botaniese naam Rosa ‘Crépuscule’
  • Volson
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Blom herhalend
  • Groei tot 4 m hoog

Engelse kanferfoelie

In die lente is die Engelse kanferfoelie oortrek met roomgeel blomme. Die nuwe blomknoppe het ’n dieppienk kleur wat dit ’n interessante voorkoms gee en vir kontras sorg. Dié kanferfoelie lyk baie mooi in ’n kothuistuin en is die ideale plant om ’n onooglike muur of heining vinnig toe te groei. Dit het ’n informele voorkoms, en as dit nie netjies gehou word nie, kan dit oorgroei raak en slordig lyk. Plant dit in komposryke grond in volson tot halfskaduwee. Die blomme ruik heerlik; plant dit dus naby die huis of jou stoep sodat jy die heerlike geur kan geniet! Hoewel die plant bladwisselend is, is dit redelik immergroen naby die kus.

Die hibried Lonicera x americana het ’n soortgelyke voorkoms en groei tot 2 m hoog. Dit blom in die lente en vroeë somer.

Plantgids

  • Volksnaam Engelse kanferfoelie
  • Botaniese naam Lonicera periclymenum
  • Volson tot halfskaduwee
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Bladwisselend
  • Groei tot 3 m hoog
Maak só met klimplante
  • Wanneer jy ’n klimplant koop, maak seker dis geskik vir jou klimaat en vir die plek in jou tuin waar jy dit wil plant. Hou die hoogte en wydte in gedagte, asook hoe wild dit groei.
  • Indien jou tuin klein is, kies ’n klimplant wat maklik in toom gehou kan word. En as jy ’n grensheining wil laat toegroei, is een met dorings soos ’n bougainvillea perfek.
  • Plant die klimplant sowat 30 cm van die muur af en sorg vir ’n stewige raamwerk waarteen dit kan opgroei. Hoe wilder en groter die klimplant, hoe sterkter moet die raamwerk wees. Moenie geld mors op ’n duur raamwerk nie; dit gaan in elk geval toerank!
  • Moenie die raamwerk reg teen die muur vassit nie. Sorg dat daar sowat 3–4 cm tussen die raamwerk en die muur is sodat die plant maklik daardeur kan vleg. Die beste manier is om hout- of plastiek-spasieerders tussen die muur en die raamwerk vas te sit.
  • Bind die takke namate hulle langer word losweg vas met boomrek of kousrepe sodat die plant nie geknel word wanneer die lote dikker word nie. Snoei die klimplant om dit in toom te hou en te keer dat dit in naburige plante of by geute ingroei.
  • Klimplante is geneig om boontoe te groei waar hulle die meeste lig sal kry. Probeer om die plant, terwyl dit nog jonk is, só op te lei dat dit die raamwerk van onder af toegroei sodat die hele raamwerk met verloop van tyd bedek word, en nie net die boonste deel nie. Snoei dus ook harder aan die bokant van die plant waar meer groei plaasvind.
Bronne
  • Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten
  • Die Suid-Afrikaanse Watter blom is dit? deur Kristo Pienaar
  • Reader’s Digest Secrets and Tips from Yesterday’s Gardeners
  • Roses at the Cape of Good Hope deur Gwen Fagan
  • Growing Old-Fashioned Roses deur Barbara Lea Taylor
  • sarose.org.au
Jongste uitgawe

April 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees