Vetplante kry al die regmerkies as waterwys staatmakers in die tuin, maar baie van hulle behaal ook groot sukses binnenshuis, veral gedurende die winter in koue en rypgebiede. John Sauer van Ngena Succulents plant graag verskeie soorte vetplante saam in potte en sit dit dan op ’n sonnige vensterbank in sy huis.
Hy gee dié wenke vir die kreatiewe gebruik van vetplante:
Houers Lang, reghoekige bakke wat nie te diep is nie (5 cm), met dreineergate, werk die beste. Die houer se grootte en diepte gaan die volwasse plantgroottes bepaal: Hoe meer die wortels beperk word, hoe kleiner sal die plante wees en hoe stadiger sal hulle groei.