1. Echeveria het elegante vlesige rosette in verskeie kleure. As huisplant verkies dit helder lig of gefiltreerde sonlig. Plaas dit naby sonnige vensters of op die stoep. Laat die grond heeltemal uitdroog voor jy die plant natmaak, maar moenie dat die blare nat word nie. Draai die pot gereeld sodat dit van alle kante lig kry. Echeveria vermeerder vinnig en sal ’n pot gou vul met sy dekoratiewe skoonheid.
2. Sebraplant (Haworthia) is ’n mini-vetplant met donkergroen gepunte blare waarop wit kolle in strepe voorkom – vandaar die volksnaam. Ofskoon dié plant gedy in helder lig, sal dit ook met min of indirekte lig klaarkom. Maak al om die twee of drie weke nat wanneer die grond droog is. Sebraplante wat een-een in glas- of porseleinhouers geplant word, maak die mooiste dekorplante uit.
3.Kersfeeskaktus (Schlumbergera) dra helderpienk, -rooi of -pers blomme op die punt van elk van sy hangende stele. Hulle vertoon die mooiste in ’n hangmandjie of hoog op ’n rak sodat die stele na benede kan tuimel. Al is dit ’n vetplant, het dit tydens blomtyd deurgaans klam grond en ’n humiede omgewing nodig. Dit hou van goeie direkte lig of gefiltreerde oggendson. Sodra blomknoppe begin vorm, moet dit elke twee weke ’n vloeibare voeding kry.