Susan van Blerk van Benoni skryf Ek het in Julie my ‘Madam’s Rose’-struike gesnoei met die verwagting dat hulle mooi nuwe pers-rooi lote sal maak, maar al wat ek sien, is groen blaartjies. Wat kan die probleem wees?
Ludwig antwoord Dis ’n teken dat die wortels smag na kos en water, dikwels weens mededinging met bome, struike en selfs meerjariges daar naby.
Wanneer jy in Julie snoei, is dit belangrik dat jy die grond rondom die struike taamlik diep losmaak en vars kompos en ander organiese materiaal inspit. Dit belug die grond wat moontlik gedurende die vorige seisoen verdig het. Gekompakteerde grond ontneem die wortels van die suurstof – dalk ook die water – wat hulle nodig het om kos vir nuwe groei te vervaardig. Indien die grond nie in Julie verryk is nie, is dit nog nie te laat om dit nou te doen nie. Maak goed nat nadat die grond omgespit is; nuwe haarwortels behoort kort daarna te begin vorm.