Ontspanningsruimtes in die tuin kan baie vorms aanneem; dit kan enigiets wees van ’n tradisionele gazebo of prieel, ’n trendy buitekroeg of ’n boma met ’n vuurput tot ’n “man-cave” of ’n “she-shed”.
In die gejaagde tegnologiese lewe van 2018 moet jy ’n plek in jou tuin hê waar jy jou van die res van die wêreld kan afsluit, kan ontspan en jou stresvlakke verlaag. Rig so ’n buite-area – hetsy vir meditasie of joga – in die stilste deel van die tuin in. Kies ’n beskutte hoekie met ’n boom wat gefiltreerde skadu gooi, of waar immergroen struike wat min onderhoud verg dit afskerm van die res van die tuin. Sluit die strelende klanke van water in – dis helend en help die brein fokus op ontspanning. En omring jou met die sagte kleure en geure van gunstelingblomme of kies loof in kalm groen skakerings om die rustige gevoel te versterk.