Wenke vir die mooiste krismisrose

akkreditasie
hydrangea, chrismas, garden, stormsvlei, small farm
hydrangea, chrismas, garden, stormsvlei, small farm
Francois Oberholster
Mary Spies kweek krismisrose met knoppe so groot soos eetborde. Jy kan ook!

Met 3 000 krismisrose is dit ’n belewenis om Mary Spies op die plaas Stormsvlei te besoek. En sy ken haar storie as dit by dié plante kom.

Mary kweek al sedert 1990 krismisrose, en hulle staan tot 2m hoog! "Die lekkerste is om soggens vroeg deur die blomme te stap. Hulle is soos my kinders," sê sy.

“Nadat ek as haarkapper afgetree het, het my oorlede man, Willem, as boer die potensiaal van die krismisrose wat in ons tuin gefloreer het, raakgesien, en voorgestel ons brei dit uit. Hy het my toe gehelp om die skadunetstellasie waaronder dit hier op ons werf groei, op te rig. Ek het elke steggie self gemaak om seker te wees ek kry die variëteite wat ek graag wou hê. Dit is hoekom ek so goed weet dat ek 3 000 plante het,” gesels sy.

Die boerdery is grootliks organies, en Mary gebruik kraalmis as bemesting. Dié kry sy by die skaap-en-beesboerdery van haar tweelingseuns, Werner en Dieter.

Verder help ’n kolonie erdwurms om die grond vrugbaar te hou. Sy laat gereeld die grond ontleed by ’n landboukundige op Swellendam om seker te maak dit het genoeg voedingswaarde vir haar plante. Al waarvoor sy moet spuit, is rooispinnekop en swamme, omdat die plante so na aan mekaar groei.

Op Stormsvlei pluk en verpak Mary en haar span van ses vroue elke jaar tot 15 000 vars en gepreserveerde krismisrose. Hulle pluk die vars blomme van middel Januarie tot einde Junie. “Ons seisoen is so lank omdat ons so gereeld pluk en die plante onder skadunet staan,” verduidelik sy.

Buiten vars blomme aan bloemiste, verskaf Mary ook gepreserveerde blomme wat sy kleur aan uitvoerders. Haar skoondogter, Jacobie, gebruik die afvalblommetjies vir konfetti.

“Jacobie se konfetti is baie gewild onder bruide, want omdat dit gedroog is, kan dit lank voor die troudatum gekoop en gebêre word, reg vir die groot dag.”

Mary se kennersraad

Ná al die jare dat sy met krismisrose werk, weet Mary net wat hulle wil hê.

  • Krismisrose moet geen direkte sonlig kry van 11:00 tot 15:00 nie.
  • Hoewel krismisrose te alle tye klam gehou moet word, gee ons net 10 minute water per dag. Ek glo die goeie kompos wat ons jaarliks ná die snoei van die plante toedien, dra daartoe by dat minder water nodig is.
  • In September, wanneer die struike begin bot, gee ons ’n halwe koppie 3:1:5 per plant.
  • Die blomme aard die beste in grond met ’n pH van 5–6. Indien jy suur grond het, gaan jou blomme blou wees en in meer alkaliese grond is die blomme pienk. As jy vooraf wil weet watter kleur jou krismisrose gaan wees, toets jou grond met ’n stelletjie wat jy by jou tuinsentrum kan koop.
  • Die snoei van krismisrose is belangrik. Ons doen dit in die eerste week van Julie op ’n baie spesifieke manier. Ons sny ’n derde van die plant kort af met net 2 ogies wat op die takke oorbly, nog ’n derde los ons ’n bietjie langer om ’n vroeë blom te gee en die laaste derde sny ons heeltemal weg om nuwe groei aan te moedig.
Plukwenke
  • Ons pluk net vroeg soggens en wanneer die binneblom (helmknop) reeds ’n derde oop is. Die binneblom is daardie klein blommetjie in die middel van die blomblaartjies. Pluk jy die blom te gou, kan jy dit maar die volgende dag weggooi.
  • Sodra dit gepluk is, moet nog 1cm van die stingel afgesny word. Sit die blomsteel dadelik in baie warm water en laat staan dit vir 2–3 minute. Daarna sit ons dit in diep, koue water tot by die blom se nek, en spuit die kop nat. Los die blomme vir minstens twee uur, maar verkieslik oornag, in die koue water. Die volgende dag sal die blom stokstyf en krakerig voel. Dit kan nou in ’n blompot gesit word en sal omtrent twee weke lank mooi bly.
  • Voeg 1 teelepel Milton Sterilising Fluid by 2 liter water. Dit hou die water in jou blompot skoon. Krismisrose drink baie water; onthou dus om elke dag die water in ’n blompot aan te vul.
KONTAKTE


Jongste uitgawe

Okt | Nov 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees