Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
My ma se dood is ’n groot verlies – Antjie Krog

“Die verlies is te oorweldigend. Die woord huldeblyk skielik ook...”

Dit is die digter Antjie Krog se reaksie op die nuus van haar ma, die skrywer Dot Serfontein, se dood Vrydagoggend in Kroonstad.

Krog het die gedig ontwei in die bundel medewete aan haar ma opgedra.

*Lees gedig onderaan.


Antjie Krog se gedig oor haar ma in haar eie handskrif in Dot Serfontein se Bybel. Regs is notas oor teksverse vir voorbidding. Foto: Charles Smith

Daar was ’n baie hegte band tussen die skrywersma en haar dogter, die digter.

’n Wonderlike storie in Serfontein se Vrypas is hoe sy al haar skilderye vir haar kinders uitgedeel het.

Antjie het Maggie Laubser se Die meisie met die blou sari gekry wat Dot met al haar geld in haar eerste tyd op universiteit van Laubser self gekoop het. Antjie het altyd die afhaal van die kosbare skildery uitgestel. Tot op ’n dag vra sy daarvoor en hulle stuur dit versigtig per vliegtuig.

Later bel Antjie met die nuus hulle het die skildery by Stephan Welz laat opveil. Dit het R350 000 gehaal. Hulle het die geld in haar ma se rekening inbetaal.

“Ek protesteer heftig. As dit nie anders kan nie, gee my net R50 000 vir kommissie,” skryf sy in Vrypas.

Antjie skop vas. “Jy vra nie eens hoekom ek dit doen nie?” wil sy van haar ma weet.

“Ja, hoekom? Dis ’n present, wat jy dan versmaai.”

“Ma, hiermee koop jy ’n huis vir jou en pa. Op die dorp. En jy is die baas daarvan. Jy laat jou deur niemand versondig nie. Ook nie deur my nie. So, as jy weier versmaai jy my present.”

Sy koop toe die huis. Oom Willem weier om dorp toe te trek. Sy bring die kat en twee honde.

Sy swem elke dag en hou kapokhoendertjies aan. Ná ses weke is oom Willem daar en smeek vir ’n klein kamertjie.

“Ek het vergeet hoe simpel dit is om alleen te bly,” het hy gesê.

Dot Serfontein met die Maggie Laubser-skildery 'Die meisie met die blou sari'', wat sy met haar eerste geld op universiteit gekoop het. Foto: Charles Smith

Oom Willem is intussen in sy geliefde Letelle-skape se wol toegedraai en in ’n klipbank op die plaas Middenspruit begrawe. Daar’s plek vir haar langs haar boer, al wou sy op ’n tyd so graag langs die Valsrivier begrawe word.

Otto Schreuder se skildery Valschsrivier is al oorspronklike skildery wat sy oorgehou het en wat langs haar teen die muur gehang het.

“Dis my rivier. Wat beteken dit? Dalk rus. Vrede.”

Op die hangbrug oor die rivier het sy trou beloof aan Willem.

Maar sy sou nooit die ander lewe wou gehad het as sy daardie dag nee gesê het en aan die ander kant van die rivier gebly het nie.

“Ek is glad nie spyt oor ek die lewe gekies het nie. Ek is net jammer ek het nie méér van die lewe gehad nie. Ek is seker die skrywer met die minste bitterheid in my. Om ’n skrywersgesin aan die gang te hou, is niemand se bleddie maat nie. Maar die ervaring van jy hét dit, jy is in beheer daarvan, is ’n wonderlike gevoel.

“As ek aan die skrywers dink wat, liewe vader man . . . soos ek ook seker ’n glorie herroep wat nie daar was nie, dan is ek bly as die boek iets vertel van die lekker daarvan. Hoe jy die probleme oorwin en tot jou wins aanwend. Want as jy jou huisgesin verloor, die Here weet, jy kan dit nooit weer terugkry nie.”

*Dot Krog (Serfontein) is in die ouderdom van 91 jaar in haar slaap in Kroonstad oorlede. Krog het onder haar nooiensvan, Serfontein, kortverhale, vervolgverhale, essays, romans en nie-fiksiewerke oor Kroonstad en die Serfontein-familie geskryf. Onder die meer as 21 boeke wat sy gepubliseer het, is baie redelik onlangs heruitgegee. Sy word oorleef deur vyf kinders, 16 kleinkinders en 15 agterkleinkinders.

*ontwei

jy gly onder my uit, Ma, in hierdie virulentgeurende lente

vanoggend toe ek jou groet, klamp jy aan my vas

en byna te buite hou ek jou

hou jou lignemendheid jou werpwrakende woedebrokke

jou brak onuitblussende steenkooloë vegtend bloed-

veragtendvegtend maar jy’s reeds sonder skouers

(here die gedagte aan ’n ontdagte-jy klief op my af die weg-

glip van die vreesloosste priemhonger sillabe

van my lewe) – dis boggel wat ek

in my arms hou newe-aards skots-skreef probeer jy

die inmekaarplons toeskoffel

die swetsende terdoodbrenging van slyt-

bare vlees soos voortgedryf deur pis deur die onwaardigheid

van skyt van herberglose breuke knoppe en fynmasige

wade van immerende onmagtigheidsmakings

maar altyd

altyd met die vlammende dapperswaard stip vooruit dit robbel

en skree Ma want hoe benaam ek jou tot leef tot nader-

baar bly as boegbeeld wat die aarde voor my kloof

torsende briefvellige vrou morsend met jou nat grys hare

asof jy met moeite uit die grond geruk is ek sien die wanhoop

in jou oë ons gryp na die enigste wat ons ken: die skrifgeluid van

skerwe angsvallig tastend teen soveel vergruisende weerloosheid

om die dood te probeer indink tot die dood-in toe hoor ek jou

beier aan onverlore taal jou woede spaar jy nie nog jou deernis

nog jou arms nog jou bors in die truspieëltjie sien ek jou staan

staan in jou vooroorstortende lyf

alleen, onnoembaar mensonterend alleen dodin van my wese

en trillende keelvel van my alfabet

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.