Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
KKNK
‘Miss Mandy’ al 40 jaar in die 'singbedryf'

Sy is 40 jaar in die bedryf en dit is haar 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Die immergewilde Amanda Strydom het in ’n kort onderhoud met Laetitia Pople vertel van haar liefde vir musiek, haar gehore en die KKNK.

’n Hele 40 jaar in die bedryf en haar 25ste KKNK. Die immergewilde sanger Amanda Strydom word op vanjaar se fees vereer vir haar lewensbydrae en sy bring Miss Mandy, ’n splinternuwe vertoning, fees toe.

Die eerste liedjies wat sy kan onthou en wat haar toe begogel het, was op die radiokinderprogram Siembamba.

“Ek was seker so vyf of ses. Doris Brasch se lied “Die lappop” was vir my vreeslik mooi. Ek het altyd die koortjie saamgesing. En haar en Dawie Couzyn se lied “Die eensame krokodil” was vir my net so mooi. Ek het later groot konserte gehou voor die spieël in my slaapkamer met ’n blêrende transistorradio.”

Watter lied het jy heel eerste uitgevoer? Kan jy die geleentheid onthou?

Op ’n Landsdienskamp in matriek het ek Kris Kristofferson se “Help Me Make It Through the Night” gesing saam met die Hoër Volkskool van Graaff-Reinet se orkes.

Amanda StrydomFoto: Merwelene van der Merwe Fotografie

Hoe het dit gevoel toe ’n gehoor jou vir die eerste keer toejuig?

Soos sjokolade, sjokolademelkskommel, roomys met vanieljestroop en heuningkoek.

Wie se musiek maak jou sielsgelukkig?

Crosby, Stills Nash and Young, Paul Simon en Afrika-musiek.

Waarna luister jy as jy inspirasie nodig het?

Klassieke kitaar – John Williams, Yepes, Julian Bream en James Grace.

Waarna luister jy as jy befoeterd is?

Vivaldi, Charl du Plessis en Louis Mhlanga. Kits-, helende vreugde.

Na wie luister jy as jy op reis gaan?

Cesária Évora, Coenie de Villiers, Piaf en my Tananas-CD

Hoekom is die KKNK vir jou spesiaal en keer jy nou al 25 jaar lank terug?

Die KKNK is ons moederfees. Die fees het tot talle kunstenaars se redding gekom in 1995 toe die streeksrade gesluit het. Dit was so ’n opwindende tyd – die Grahamstadfees was die enigste ware kunstefees in daardie tyd en die KKNK het soos ’n baken lig verrys in ’n onseker tyd. Ek is so trots op ons fees, die fees was toe nie, soos ek aanvanklik gevrees het,’n inklusiewe “wit” fees nie. Almal is welkom, daar is ’n gevoel van skeppende samehorigheid. Vir my is dit die beste platform om ’n nuwe produksie die lig te laat sien. Ek probeer dit elke jaar doen.

Wat is die absolute hoogtepunt van jou loopbaan? Of dink jy nie so daaraan nie?

Daar was so baie, ek kan nie een uitsonder nie. Alles wat ek in dié stadium van my loopbaan doen, is vir my ’n hoogtepunt – net die feit dat ek dit steeds gegun word, laat my hart sing.

Wat kan die gehoor verwag van jou nuwe vertoning, Miss Mandy? Hoe benader jy ’n vertoning, hoe trek jy die drade saam?

’n Nostalgiese storie oor my loopbaan en die KKNK en liedjies om alles in te kleur. Lekker lag en huil en bowenal meeleef. Ek glo in die resep. Ek kies altyd eers die liedjies en my pianis, Coenraad Rall, help geweldig baie met sy verwerkings en idees. Daar moet ’n tema wees, ’n draad wat deur alles vleg en dan beplan ek die stories – dis seker omdat ek in my jeug in baie musiekspele opgetree het dat ek instinktief weet hoe en waar die musiek die storie moet inkleur. Die liedjies is die uitroeptekens, kommas en punte.

Wat doen jy net voordat jy op die verhoog stap?

Ek bid dat ek alles sal onthou, dat ek sal leeg word sodat ek met lig kan vol raak. 

*Miss Mandy se musiek is in Afrikaans, Engels, Frans en Nederlands. Op  21 Maart om 14:00, 24 Maart om 21:00 en 25 Maart om 10:00.

Meer oor:  Amanda Strydom  |  Kknk2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.