Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
‘Ons is nie almal so nie' by Woordfees te sien
Daneel van der Walt in Ons is nie almal so nie, ’n verwerking vir die verhoog van Jeanne Goosen se ikoniese roman wat by die US Woordfees opgevoer word.Foto: Magriet Theron

Deur die belewenisse van karakters soos Doris, Uncle Tank en Mavis het die skrywer Jeanne Goosen die leefwêreld van arm Afrikaners oopgeskryf in die roman Ons is nie almal so nie. Byna 30 jaar later kry die ikoniese roman van 1990 nuwe inslag as ’n toneelstuk op die US Woordfees. Laetitia Pople het met Mercy Kannemeyer, die verwerker en regisseur, gesels.

Die Stellenbosse teatermaker Mercy Kannemeyer het as 15-jarige met Jeanne Goosen se roman Ons is nie almal so nie kennis gemaak. En weer later as voorgeskrewe werk onder Willem Anker se leiding aan die Universiteit Stellenbosch.

“Die roman het begin bekend voel. Dit is ’n boek wat ’n mens aan die dink sit – sy het net ’n manier om ’n ding reguit te sê.”

Die roman het destyds heelwat mense ontstel. Ironies genoeg is die einste woorde “ons is nie almal so nie” afwysend gebruik oor dié blik op ’n gesin van Parow in die begindae van apartheid in Suid-Afrika. Die taalgebruik was ook onder skoot.

Tog is dit 15 keer herdruk en het die heilige trits – die CNA-, die Rapport- én die M-Net-prys – gewen.

Toe Kannemeyer aanklop by die Goosen oor dié verwerking, het Goosen ingestem met die woorde dat sy gevlei voel.

“Dis so ’n menslike verhaal, die mense is polities so inkorrek. Goosen beeld hulle met deernis uit. Almal is so tragies, so trots en so arm. So aan die gatkant van die lewe. Hulle is verkeerd, maar nie almal weet hulle is verkeerd nie,”

Die jong kind Gertie gee die leser ’n intieme blik op haar familie. Dit is ’n skrynende binneblik op armoede en ontheemding, wat Goosen sonder omhaal van woorde aan die lig bring. Die oplaaiende vrees en rassisme is tasbaar soos dié mense algaande hul vastrapplek verloor in ’n veranderende Suid-Afrika.

“Dis so ’n menslike verhaal, die mense is polities so inkorrek. Goosen beeld hulle met deernis uit. Almal is so tragies, so trots en so arm. So aan die gatkant van die lewe. Hulle is verkeerd, maar nie almal weet hulle is verkeerd nie,” sê Kannemeyer.

Sy vind die idee dat “ons nie almal so is nie’ geweldig interessant. “Oukei, ons is nie almal so nie, so hoe is ons dan?”

Dit is vir haar ’n storie van ontkenning. “Daar is baie mense wat om verskeie redes hul identiteit ontken. Ek dink byvoorbeeld aan wit mense wat nie as Afrikaners identifiseer nie. Dis boeiend om te sien hoe mense kies om te identifiseer en wat hulle kies om aan te neem of nie.”

Al is die storie dalk nie deel van haar erfenis nie, wil sy die moontlikhede daarin ontgin sodat mense met mekaar kan praat. “Ek besef ek kyk van buite af na die storie, dit is dalk te gewaagd . . . maar ek wonder dikwels oor die trauma van dit wat aan die arm Afrikaner gedoen is. Dit is beslis geen verskoning vir rassisme of vooroordeel nie. Goosen beeld die menslikheid van verkeerde besluite uit. Die mense in die boek is vergete. Selfs in 2019.”

“Ons moenie mense wegstoot oor hul verkeerde besluite nie. Ons moet juis praat. Juis doen. Regstel. En weer probeer. Goosen het vir my gesê ‘die wêreld is onderstebo’. Dit is baie waar. Die wêreld ís onderstebo. Mense raak kwaad. Mense is kwaad. Met geldige redes. Mense het ook seer, ons moet luister. En teater maak!”

Teater kan dikwels tot ongemaklike gesprekke lei.

“Ons moenie mense wegstoot oor hul verkeerde besluite nie. Ons moet juis praat. Juis doen. Regstel. En weer probeer. Goosen het vir my gesê ‘die wêreld is onderstebo’. Dit is baie waar. Die wêreld ís onderstebo. Mense raak kwaad. Mense is kwaad. Met geldige redes. Mense het ook seer, ons moet luister. En teater maak!”

Die teks bly haar wegspringplek. “Ek werk deeglik deur die teks voordat ons vloer toe gaan. Ek is mal oor teksanalise. En dan wanneer ons op die vloer kom en ’n ding werk nie, gaan ons terug teks toe. Dit is belangrik om nie rigied te werk nie en na almal se opinies te luister. Ek kan nie te veel in my kop werk nie en ek hoor graag terugvoer, want skryf en regie kan soms maar ’n eensame proses wees.”

So baie mense ken die roman en sy voel die druk van verwagtinge, maar benadruk dat sy net 70 minute op die planke het. “Ek sal so graag meer van die boek wil gebruik. ’n Verwerking is ’n nuwe produk. Ek hoop gehore is ontvanklik daarvoor.”

Dit was moeilik om Goosen se teks te verwerk omdat haar manier van skryf so besonders en uniek is. “Ek wou Goosen se toon behou en ook die konteks in ag neem. Die storie speel af in die 1950’s. Dit is geskryf in die 90’s. En is nou ’n verhoogstuk in 2019.”

Sy wil graag die storie vertel omdat daar vandag nog mense is wat sê “ek is nie so nie” en “ons is nie almal so nie”. “Goed en wel. So hoe is ons dan? Wie is ons dan?”

*Ons is nie almal so nie word op 4 Maart om 15:00, 5 Maart om 18:00, 6 Maart om 20:30, 9 Maart om 20:30 en 10 Maart om 16:00 in die Hoërskool Lückhoff opgevoer. Die ouderdomsperk is 13 vir taal en geweld.

Kannemeyer regisseer ook die kinderproduksie Die bul die wil nie asook die komedie Large, asseblief vir die Woordfees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.