Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Oscars: Buitestanders, verrassings en Spike Lee
Die regisseur van Green Book, Peter Farrelly, stoot sy Oscar vir beste fliek in die lug. Om hom staan sy rolverdeling en tegniese span. Foto: Chris Pizzello, AP

Dié aand in Hollywood. Vir baie skynbaar die enigste een wat werklik saakmaak. Die goue Oscar wat prestasie in die fliekbedryf vereer.

Sondagaand se glansaand in Los Angeles, California, se spoggerige Dolby-teater is gebruiklik oorheers deur trane, klapsoene en baie drukkies. Die 91ste Oscaraand het begin met ’n optrede deur ’n nuwe saamgestelde Queen met Adam Lambert, die Amerikaanse Idols-wenner, as plaasvervanger vir Freddie Mercury. Hulle het “We will Rock You” en “We are the Champions” gesing en van die gaste het saam gerock.

Hoewel Roma en The Favourite elk tien benoemings losgeslaan het, het Roma net drie Oscars gewen en The Favourite net een. Bohemian Rhapsody, die biografiese fliek oor Freddie Mercury, het met vier die meeste Oscars op die aand geïn en Green Book is op sy hakke met drie waarvan die grote, die beste fliek, een is. So, die bordjies is verhang en dit is glad nie sleg vir ’n musiekprent waarvan die regisseur (Bryan Singer) halfpad deur in die

Spike Lee gee vir Samuel L. Jackson ’n beerdrukkie nadat hy sy Oscar vir beste verwerkte draaiboek vir BlacKkKlansman ontvang het. Die aktrise Brie Larson kyk laggend toe. Foto: Chris Pizzello, AP

pad gesteek is nie!

Die aand het vroeg polities geword toe die komiese aktrise Maya Rudolph in een sin al die omstredenheid opgesom het: “Daar is geen aanbieder vanaand nie, daar is nie ’n kategorie vir gewilde fliek nie en Mexiko gaan nie vir die muur betaal nie!”

Die uitgelate oomblik van die aand was toe die omstrede regisseur Spike Lee, geklee in ’n jakarandapers pak en skittergoue tekkies, die verhoog bestorm het en in die arms van Samuel L. Jackson gespring het om sy heel eerste Oscar (vir verwerkte draaiboek) te gaan afhaal. Dit is vir sy ware speurdrama, BlacKkKlansman, wat handel oor die eerste swart polisiespeurder in Colorado wat getaak was om die plaaslike tak van die wit Ku Klux Klan te “infiltreer”. Dit is nogal moeilik!

’n Emosionele Olivia Colman met die ontvangs van haar Oscar vir beste aktrise vir die Britse fliek The Favourite. Sy het haar medebenoemde, die Amerikaanse aktrise Glenn Close, gehuldig.Foto: Chris Pizzello, AP

Lee het sy voorvaders wat Amerika gebou het gehuldig, asook die inheemse bevolking wat uitgemoor is. “Wanneer ons weer ons menslikheid terugkry, sal dit ’n magtige oomblik wees. Die verkiesing van 2020 is om die draai, maak die morele keuse tussen liefde en haat.” Sy fliek is op die biografie van Ron Stallworth gegrond en het die grote Grand Prix-prys op die Cannes-rolprentfees gewen. Al is dit ook as beste fliek benoem, moes dit terugstaan vir Green Book. Lee was duidelik ontevrede en het met die bekendmaking van Green Book se oorwinning na agter in die ouditorium gestorm. Dit is altyd vreemd as ’n regisseur van ’n fliek nie eens benoem word nie, maar sy fliek word as beste fliek aangewys. Nietemin staan Green Book van die regisseur Peter Farrelly se drie Oscars vir beste fliek, oorspronklike draaiboek en manlike byspeler (Mahershala Ali) nou in gelid. Dit speel af tydens die 1960’s in Amerika en fokus op die vriendskap wat oor die kleurgrens ontwikkel tussen Don Shirley, ’n swart jazzpianis, en Tony Vallelonga, ’n uitsmyter wat as sy motorbestuurder gehuur word om hom veilig na sy bestemming te bring. Boonop is die beweerde vriendskap intussen hewig ontken deur die pianis se ware familie.

Grafika
Is die Oscars uit voeling met gewone fliekkykers?
Rami Malek met die ontvangs van sy Oscar vir beste akteur in Bohemian Rhapsody. Foto: Chris Pizzello, AP

Die Mexikaanse regisseur Alfonso Cuarón se biografiese Roma, het pryse gewen vir buitelandse fliek, regie en kinematografie. Dit is die negende Mexikaanse fliek om as buitelandse fliek benoem te word en ’n eerste wen vir die land. Cuarón het in sy toespraak (buitelandse fliek) verwys na hoe hy grootgeword het met die beste in buitelandse flieks en het groot Amerikaanse flieks soos Citizen Kane, Jaws en The Godfather genoem – en het dadelik goedkeuring vanuit die gehoor ontvang vir sy beskeie erkentlikheid. Hy het ’n deel van sy toespraak (vir regie) in Mexikaans gedoen en daarop gewys dat Roma handel oor die 70 miljoen werkers wat altyd in die agtergrond is en dat dit die rol van die fliekkuns is “om te kyk terwyl ons aangemoedig word om nié te kyk nie”. Sy fliek fokus op die lewe van ’n jong huishulp in die 1970’s in Mexiko. Die ander mooi oomblik was toe hy sy Oscar van sy landgenoot Guillermo del Toro in ontvangs neem met ’n hartlike druk.

Buitestanderskap en die lewe van immigrante was ’n toonaard van die aand en is gereeld geopper. Rami Malek het in sy toespraak ná sy oorwinning as akteur ook verwys na sy lewe as eerstegenerasie-kind wie se voorouers van Egipte is.

’n Oorstelpte Lady Gaga met haar Oscar vir beste liedjie vir “Shallow” in A Star is Born.Foto: Chris Pizzello, AP

Die groot verrassings van die aand was dat die Oscar vir beste aktrise weggeraap is van die Amerikaanse liefling Glenn Close deur die Brit Olivia Colman vir haar vertolking van Brittanje se koningin Anne. Colman het darem as troos gesê dat Close haar “idol” is. Ook het Regina King se seëviering in die kategorie vir vroulike byspeler vir If Beale Street Could Talk verras.

Die wenners:

Fliek: Green Book

Regisseur: Alfonso Cuarón, Roma

Regina King pronk met haar Oscar vir beste byspeler in If Beale Street Could Talk. Foto: Chris Pizzello

Akteur: Rami Malek, Bohemian Rhapsody

Aktrise: Olivia Colman, The Favourite

Manlike byspeler: Mahershala Ali, Green Book

?Vroulike byspeler: Regina King, If Beale Street Could Talk

Oorspronklike draaiboek: Green Book

Verwerkte draaiboek: BlacKkKlansman

Kinematografie: Roma

Film-redigering: Bohemian Rhapsody

Klank-vermenging: Bohemian Rhapsody

Klank-redigering: Bohemian Rhapsody

Klankbaan: Black Panther

Oorspronklike lied: “Shallow” van A Star is Born

Animasieprent: Spider-Man: Into the Spider-Verse

Kostuumontwerp: Black Panther

Visuele effekte: First Man

Animasie (kortprent): Bao

Dokumentêre fliek: Free Solo

Dokumentêre fliek (kort): Period. End of Sentence.

Buitelandse fliek: Roma (Mexiko)

Produksie-ontwerp: Vice

Kortprent: Skin

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.