
Jannie du Toit en Thean Kotze.
Jannie du Toit en Thean Kotze hou weer konsert met Kiekies – Lucas se liedjies, waarin hulle liedjies van Lucas Maree sing.
Hulle is op 22 Januarie om 16:00 in die Atterburyteater in Pretoria op die verhoog.
Du Toit en Kotze het vroeër besef hulle beplan albei ’n konsert met Maree se musiek en het toe besluit om saam op te tree.
Kiekies is die naam van Maree se eerste album wat in 1984 verskyn het en een van sy bekendste liedjies was “Kiekies in my plakboek”.
Maree se liedjies bestaan uit verhale, ideale, wysheid en drome. “Victoriabaai”, “Droomvrou” en “Miljoen” tel onder die treffers wat hy geskryf en gesing het.
Soos sy lirieke, is die musiek ook ryk geskakeer en bied vryheid om met stem en snaar te eksperimenteer en die musikale gegewe sinvol te vernuwe.
Du Toit het al soortgelyke konserte met die musiek van Koos du Plessis aangebied.
* Die konsert duur sowat een uur en 15 minute. Kaartjies kos R140 tot R160. Bespreek by Computicket.