Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Bekende teater: ‘Pasop vir dié slenter!’
Die bestuur van die Baxter-teater in Kaapstad het teatergangers gewaarsku oor ’n bedrieglike webwerf wat onregmatig kaartjies vir Baxter-vertonings verkoop. Foto: www.baxter.co.za

Die bestuur van die Baxter-teater in Kaapstad het in ’n e-pos die vinger na ’n webwerf gewys wat volgens hulle onregmatig kaartjies na van hul produksies verkoop.

Leon van Zyl, wat die Baxter se verkope en digitale bemarking behartig, skryf in die e-pos daar was die afgelope paar weke ’n toename in kaartjieverkope op “bedrieglike webwerwe” vir produksies wat in die Baxter aangebied word.

“Slegs Webtickets is gemagtig om die Baxter-teater se kaartjies aanlyn te verkoop,” sê Van Zyl.

Die direkte skakel is www.webtickets.co.za/baxtertheatre.

Kaartjies is ook by die Baxter-teater of in enige Pick n Pay-winkel landwyd te koop – nêrens anders nie, sê hy.

Van Zyl het aan Netwerk24 gesê hulle het vroeër vanjaar bewus geword van ’n spesifieke bedrieglike webwerf wat kaartjies vir vertonings in die Baxter en Kunstekaap verkoop. Die Baxter het nie aanvanklik enige klagtes daaroor ontvang nie.

“Verlede week het die kinderproduksie Three Little Pigs by die Baxter gewys en vir een of ander rede het mense kaartjies deur die bedrieglike webwerf gekoop,” sê Van Zyl. “Ons is bewus van minstens ses kaartjies vir die produksie wat teen R450 per kaartjie op die bedrieglike webwerf verkoop is. Die kaartjies het op Webtickets en by die Baxter net R90 per kaartjie gekos.”

Ons is bewus van minstens ses kaartjies vir die produksie wat teen R450 per kaartjie op die bedrieglike webwerf verkoop is. Die kaartjies het op Webtickets en by die Baxter net R90 per kaartjie gekos.
Leon van Zyl

Van Zyl sê hy het die webwerf besoek om agter die kap van hul byl te kom.

“Sodra jy ’n kaartjie by hulle teen die buitensporige bedrag koop, koop hulle dadelik met ’n vals naam ’n kaartjie op Webtickets teen die goedkoper bedrag en stuur dit vir die koper,” sê hy.

“Die kaartjie is tegnies geldig, want dit is by Webtickets gekoop, maar Webtickets en die Baxter het ’n beleid dat hulle enige teaterganger kan voorkeer om te kyk of die naam op hul kaartjie dieselfde as dié op hul ID is. Indien nie, kan hulle die vertoning belet word.”

Van Zyl sê ook die bedrieglike webwerf gebruik die inkomste uit die duur kaartjies om hul diens as kaartjieverkoper op Google Ads te bemark.

“As jy ‘Three Little Pigs Baxter’ op Google intik, dan kom hul webwerf eerste in die soektog op. Ons is in kontak met Google om die saak te beredder, maar die proses is uitgerek en tydsaam.”

Daar is niks wat die Baxter kan doen vir enigiemand wat óf besef hulle het R450 betaal vir ’n kaartjie van R90 óf betrap word met ’n kaartjie met ’n vals naam nie.

Hy sê daar is niks wat die Baxter kan doen vir enigiemand wat óf besef hulle het R450 betaal vir ’n kaartjie van R90 óf betrap word met ’n kaartjie met ’n vals naam nie.

“Ons kan ook nie die koste van die bedrieglike webwerf se kaartjie aan hulle terugbetaal nie.”

Die Baxter, wat deel vorm van die Universiteit van Kaapstad, is in kontak met die universiteit se prokureurs, wat volgens Van Zyl sê hulle is bewus van siviele sake teen die bedrieglike webwerf in die buiteland. Regstappe word nog oorweeg.

Die teater gaan intussen ’n banier op sy webwerf aanbring om teatergangers te waarsku slegs Webtickets is die gemagtigde verkoper van kaartjies vir vertonings by die Baxter.

Die Kunstekaap het intussen reeds ’n banier op sy webwerf aangebring om teater- en konsertgangers te herinner slegs Computicket verkoop kaartjies vir Kunstekaap-produksies.

Meer oor:  Slenter  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.