Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Lizz Meiring praat taal van blomme, plante
Lizz Meiring in Geheime taal.

Lizz Meiring se nuwe solostuk verwys na ’n soort kommunikasie wat ook koningin Victoria baie gewild gemaak het en in Shakespeare-werke voorkom: die taal van blomme en plante.

Geheime taal maak sy debuut by die KKNK in April en dit het ’n paar voorskoue in die Centurionteater in Maart.

Meiring sê: “Dis ’n baie interessante ding. Eeu gelede het die Romeine in kodetaal in besette gebiede boodskappe aan mekaar gestuur – met die plante van daardie omgewing.

Eintlik kom die geheime taal van plante en blomme ’n baie, baie lang pad.

Meiring verwys na Ophelia in Hamlet deur William Shakespeare se dialoog:

“There’s rosemary, that’s for remembrance; pray, love, remember; and there is pansies, that’s for thoughts...”

“En Koningin Victoria het dit gebruik. Sy was baie romanties. Daar was talle woordeboeke in die Victoriaanse tyd wat die taal van blomme en plante geïnterpreteer het. So het veral ook minnaars vir mekaar boodskappe gestuur.”

Meiring stel baie belang in woorde en is daarom baie geïnteresseerd in ander maniere van kommunikasie.

Die onderwerp is nie noodwendig haar belangstelling nie, maar sy hou baie van navorsing doen.

Vir die stuk wat handel oor ’n vrou wat in ’n blommewinkel werk, het sy ook moderne plante bygevoeg.

Dit is hoe Meiring by Geheime taal uitgekom het.

Freda is in haar 50’s en is beneuk, volgens Meiring se beskrywing.

“Sy sê al die goed wat ’n mens eintlik wíl sê. Haar hele lewe word deur plante verswelg. ’n Mens wonder heeltyd hoekom skuil hierdie vrou agter die blomme? Op die oog af is dit ’n baie witty storie, en dan neem dit ’n heel ander wending. Jy kom mettertyd agter hoekom hierdie vrou is soos sy is. Dit is ’n mengsel tussen slim humor en ’n iets van ’n poëtiese aard.”

Daar is ’n anonieme persoon wat by Freda blomme bestel. Almal moet dit by Freda oor die internet doen. Sy kom agter hierdie persoon kommunikeer gedurig met haar op ’n goeie vlak. Hy of sy verstaan die taal van die plante en blomme.

“Dit stel mense bloot . . . in ’n wêreld waar realiteit so bytend is, is dit lekker om terug te gaan na iets meer poëties en romanties.”

Meiring het op haar Facebook-blad gevra wat mense se gewildste blom is, en dan sal sy die betekenis of simboliek daarvan deel.

“Dit wys jou almal hunker na iets ’n bietjie meer digterlik. Die betekenisse het vir hulle totaal sin gemaak, in terme van hoe hulle is en wat hulle ervaar. Dis ’n ander taal, ’n ander manier van kommunikeer. Maar daar is ’n hele storie binne dit verweef.”

Geheime taal is een van drie nuwe stukke deur Meiring.

Die ander twee is Met ander woorde wat sy Dinsdag en Woensdag in die Wes-Kaap doen en ’n Mooi Storie wat oor die geskiedenis van modes en skoonheid gaan en wat mans en vroue gedoen het om hulself mooi te maak.

Met ander woorde gaan oor die oorsprong van die stories en die mitologie. Sy gebruik ook sekere stories in haar eie loopbaan.

Geheime taal is 22, 23 en 25 Maart in die Centurionteater om 20:00 op die planke. Kaartjies kos R120. Besoek centurionteater.co.za om te bespreek.

Dit is van 8 tot 14 April gedurende die KKNK in die Laerskool van Reede-saal in Oudtshoorn op die planke. Kaartjies kos R125. Bespreek by Computicket.

Met ander woorde is Dinsdag om 20:15 in die Drostdy Teater (R120) en Woensdag om 20:00 in die Ou Meulteater in die Paarl (R120). Besoek drostdyteater.co.za of oumeulteater.co.za om te bespreek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.