Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
4 geslagte se wel en wee in nuwe kykNET-reeks

Die rolprentregisseur Corné van Rooyen wil met sy eerste televisiereeks, Alles Malan, ’n hele familie saam op een bank laat sit, soos destyds met die reeks Orkney snork nie.

Van die spelers in Alles Malan. Agter is Nicole Fortuin, Sean Marco Vorster, Ivan Zimmermann, Nadia Valvekens en Greteli Fincham. Voor is Elsabé Daneel, Albert Maritz en Matheo Olivier.

“Ons is baie familievas, en ek onthou hoe die gesin in Orkney snork nie altyd op die bank gesit het. Hier het ons van ’n 14-jarige tot ’n 80-jarige saam op die bank,” sê Corné, wat saam met sy vrou, René, die regisseurs en die hoofskrywers van die reeks is.

Dié egpaar is bekend om rolprente soos Vaselinetjie, Susters en Hollywood in my huis. Hul jongste rolprent, Toorbos, gegrond op Dalene Matthee se gelyknamige roman, word in 2020 uitgereik.

Tascha van der Westhuizen is die vervaardiger van die reeks wat in Julie op kykNET begin.

“Vier geslagte word in die reeks gesien,” sê René, met ’n vyfde geslag wat later bykom wanneer ’n baba gebore word.

Die reeks bestaan uit 13 episodes met akteurs soos Albert Maritz, Elsabé Daneel, Marius Weyers, Ivan Zimmermann en Nadia Valvekens.

Almal in die Malan-familie word deur hul eie uitdagings in die gesig gestaar.

Maritz en Daneel vertolk ’n egpaar wie se oudste seun, Frik (Zimmermann), saam met sy gesin ná agt jaar in Engeland terugkeer. Sy vrou moet leer om weer ’n huisvrou te wees. Hul dogter, Elani (Greteli Fincham), ontdek dat sy swanger is, terwyl hul aangenome seun, Freek (Matheo Olivier), met ras-identiteit worstel.

Die jongste Malan-seun staan op die vooraand van sy troue en hy laat vaar sy werk by Malan Vervoer om ’n rugbyskeidsregter te word.

Talle leerlinge verskyn ook in die reeks en baie tonele is by die Hugenote Hoërskool in Wellington verfilm.

Die Malans in die storie kom ook oorspronklik van Wellington.

“Ons is redelik mal in ons familie,” sê Corné. “Ons waarsku hulle altyd: As hulle iets verkeerd doen, skryf ons hulle in.”

“Jy kan jou vereenselwig met die karakters, dis nie ’n wroegende verhaal nie. Daar is oomblikke wat kykers in hul eie lewe sal herken.”

Op die stel van Alles Malan.

Die reeks word tans in die Paarl verfilm.

“Die karakters moet deel van jou familie word,” sê Van der Westhuizen, wat al aan reekse soos Sara se geheim gewerk het.

“Daar is kwessies uit verskillende fases van ’n mens se lewe in die reeks. Daar is ’n tienerliefdesdriehoek en ’n middeljarekrisis, ensovoorts. Die akteurs het ook ’n WhatsApp-groep. Hulle het al ’n familie van hul eie geword. Ek hoop die reeks word ’n huishoudelike naam. Daar is ook karakters met baie lekker kameeverskynings.”

Die Van Rooyens het die ervaring van ’n eerste televisiereeks baie geniet.

“Ons het omtrent 13 flieks geskryf,” skerts Corné.

Die egpaar beplan beslis om weer aan reekse te werk.

Retief Scholtz, Burger Meyer en Lize Vosloo is deel van die skrywerspan.

“Ons het baie lank gewerk om die tekste reg te kry,” sê René.

“Daar was soveel nuwe drafts – jy bring regtig die vleis van die storie uit. Daar is vinnige ontknoping in elke episode. Die episodes volg uiteraard op mekaar, maar elkeen is ’n geheel op sy eie.”

* Alles Malan begin op 9 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Meer oor:  Kyknet  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.