Deel

Hoe ry die boere

akkreditasie


Daar is ’n sekere proses wat jy volg as jy jou vakansie beplan. Eerstens besluit jy waarheen jy wil gaan en Google dan ’n oord of drie. Dan klim jy op sosiale media met vrae. Is dit veilig? Hoe lyk die ablusiegeriewe? Is daar gras en koelte op die staanplekke? Hoe ver is jy van die strand af? Wat is daar vir die kinders om te doen? Hoe lyk die pad daarheen?

Jy kry antwoorde en kies jou bestemming. Jy bespreek jou plek, betaal jou deposito elektronies oor en vra vir die GPS-koördinate. Jy bêre die oordbestuur se nommer in jou foon. En dan pak jy jou wa, haak aan en val in die pad. As jy teëspoed kry, bel jy iemand. En as jy uiteindelik by die see kom, is dit in die meeste gevalle min of meer alles wat jy verwag het. Dit was lekker, dankie.


Maar dinge werk nie altyd so nie.


Dit was in my st. 9-jaar toe ons gesin afgesak het Klein-Brak toe vir Desember. Die vakansie was haarfyn beplan om mooitjies saam te val met my oudste broer se uitpasseringsparade by die Infantarieskool op Oudtshoorn. Ons het die Jurgens Fleetline 6 met ’n Mitsubishi Starwagon gesleep… iets wat selfs vir ’n ervare sleper soos my pa nogal baie gevra was.

Met Ouboet in die army, het ek die Starwagon se agterste bank vir myself gehad terwyl die twee kleintjies (’n verwysing wat hulle tot vandag toe nog haat) die middelste bank moes deel.

Die langpad raak aansienlik korter as ’n mens ’n hele bank vir jouself het, selfs al is dit agter in ’n Starwagon. Ek was toegerus met ’n draagbare CD-speler, oorfone, twee pakke batterye en my hele CD-versameling – wat bestaan het uit ’n somtotaal van drie harderock-CD’s van musiekgroepe waarteen die jeug van Suid-Afrika daardie dae tot vervelens toe gewaarsku is.

My pa was altyd erg bekommerd oor sy kinders wat so met oorfone lê en na “duiwelse musiek” luister, en het geglo die volgende natuurlike stap in dié verloop is gomsnuif. Maar op die langpad het hy jou maar laat begaan.


My ma was – en is steeds – ’n kranige krieketondersteuner en die motorradio was deurgaans op die kriekettoetsreeks tussen Suid-Afrika en Indië ingestel. Suid-Afrika is pas weer toegelaat om aan internasionale sport deel te neem en die hele land was meegevoer met die stryd tussen Kepler Wessels se manne en die wêreldsterre van Indië, soos Kapil Dev en Sachin Tendulkar.

Edwill van Aarde en Mike de Villiers het die mikrofone in die Afrikaanse kommentaarhokkie beman, en tussen die grenshoue en paaltjies deur het hulle die nuwe krieketondersteuners, soos my ma, touwys gemaak oor die verskillende veldwerkposisies op die veld. Punt effe tru, gangetjie, derdeman en ander is in die fynste detail verduidelik. Maar hulle eintlike groot projek was om ’n Afrikaanse naam vir die sweeper uit te dink. Ek onthou een van die twee, dit kon dalk Edwill gewees het, het “besem” of “veër” verkies, maar die ander was nie té opgetrek daarmee nie. Luisteraars is selfs gevra om in te skryf (in daai dae was daar nie Facebook, Twitter of SMS nie) met hulle voorstelle. Ek weet tot vandag toe nie wat ’n sweeper in Afrikaans is nie, maar ek hoop Edwill en Mike het tot ’n vergelyk gekom.


Dit was hier êrens voor Graaff-Reinet toe die Starwagon die eerste keer ruk; so asof hy wil-wil krag verloor, maar dan skop die handjie vol perde in die enjin weer in en hy draf voort. Ek het op die naat van my rug gelê en het die ruk gevoel, maar nie veel daarop ag geslaan nie.

’n Entjie verder was daar nog ’n ruk... met nóg een kort op sy hakke. Ek het my steeds nie veel aan die besigheid gesteur nie, maar toe die bussie die derde keer – dié slag met mening – begin ruk, het ek regop gesit: “Wat gaan aan?”

My ma het omgevlieg en effens harder as wat nodig was, gesê hulle weet nie. Ek het oorgeklim en langs die kleintjies op die middelste bank stelling ingeneem en elke oomblik van my pa se gespook dopgehou. Hy het moedig baklei en in die lae ratte voortgebeur, maar die rukkery wou nie ophou nie. Die spanning in die kar was tasbaar en ek en die kleintjies het probeer om dit met ’n nuutskepping genaamd “Hoe ry die boere ruk-ruk so” te verlig. Die kyk wat ons in die truspieël gekry het, het gesorg dat die liedjie ná die eerste versie stil was.

Ons het dit genadiglik al rukkende tot in Graaff-Reinet gemaak en ná donker daar in die munisipale woonwapark afgepak. My ma het haar dapperste glimlag opgeplak en iets oor ’n “onverwagte avontuur” gesê, terwyl my pa onder ’n donderwolk daar weg is.


“Ons kyk maar môre,” het hy met sy terugkoms gesê en ons is bed toe vir die nag.


Ek weet nie wat die volgende oggend tussen my pa en die motorwerktuigkundige gesê is nie, maar ek weet wel die Starwagon het nét daar op Graaff-Reinet agtergebly. My pa het met ’n nuwe (tweedehandse) Kombi opgedaag en sonder om enige vrae te beantwoord opdrag gegee ons moet haak, want die son trek water.

Ek het nog nooit só lekker gery nie. Daardie Kombi het sonder moeite voor die Fleetline gedraf en voor ons ons oë kon uitvee, was ons in Klein-Brak. Die oord waar ons sou bly, was een van daardie wat agter in die Sondagkoerant-tydskrif geadverteer het. My ma-hulle het maar vertrou dat daar wel “30 skaduryke staanplekke 50 m van die strand af” sou wees, maar die probleem was dat ons nie die plek kon kry nie.

Die straat wat op die advertensie en korrespondensie was, was nie in die kaartboek nie. Ons het op en af gery terwyl dit al stiller en stiller in die Kombi geword het. In ’n stadium, om die gemoedere te lig, het ek gespot dat my ouers met ’n foefie gevang is. Die strekking was basies dat hierdie plek nie bestaan nie. Hulle adverteer, vat jou geld en laat jou dan aan jou eie genade oor. Dit was egter nie eers naby aan my gedagtes dat só iets moontlik was óf dat my ouers daarvoor sou val nie. My ma het later erken dit was die presiese gedagtes wat deur haar kop gemaal het.

Ons het uiteindelik die oord gekry... dit was in Koningin Victoriastraat, nie Victoriastraat nie (of so iets). En die verligting was tasbaar. Al wat my pa wou doen, was om af te haak, die hoekstutte uit te draai, die tent op te slaan en dan te ontspan. En ons almal moes saamwerk om dit so vinnig as moontlik te laat gebeur.

Maar terwyl my pa die tent aan die een kant voer en ek en my ma aan die ander kant trek, kry die twee kleintjies elkeen ’n tentpaal in die hande en sê mekaar die stryd aan in ’n swaardgeveg. Daardie een swaardgeveg was die laaste strooihalm wat die kameel se rug gebreek het ná die spanning met die Starwagon, die nuwe skuld op die Kombi en die vrese dat die oord nie bestaan nie. Die gort was op skouspelagtige wyse gaar.

My pa is nie die tipe mens wat hom daarin verlustig om slae uit te deel nie. Maar niemand het hom vir daardie spesifieke drag slae verkwalik nie. Ons gesin het ontelbaar baie onvergeetlike kampvakansies gehad, die een lekkerder as die ander. Maar die een waaroor ons altyd eerste gesels, is die een met die Starwagon.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan