Resepte en stilering Caro Alberts, Assistent Lichelle May  
Foto’s Jac Kritzinger


Hou die servet byderhand vir die blink om jou lippe. Varklies is vetterig, maar dit bly ’n gunsteling-braaisnit.



Jy benodig

(genoeg vir 6)

• 1varklies van 2 kg, aan die been vir die ketelbraai of ontbeen vir ’n oop vuur
• sout en varsgemaalde peper
• 2 eetlepels (30 ml) vinkelsaadjies
• ’n hand vol vars tiemie of 1 eetlepel (15 ml) droë tiemie
• sout en peper na smaak
• 3 knoffelbolle, middeldeur gesny
• 2 heel uie, in 6 dik skywe gesny
• 4 appels, middeldeur gesny
• 2 eetlepels (30 ml) heelkorrelmosterd

So maak jy

1. Maak ’n vuur in jou ketel- of gewone braai en wag tot die kole mooi matig is.

2. Sny 6 diep kepe in die varklies, vryf elke snytjie goed in met sout, pepper en vinkelsaadjies en druk dan ’n tiemietakkie of droë tiemie in elkeen. Vryf die lies dan goed in met olyfolie, sout en peper.

3. Skuif die kole in die ketelbraai na die kante toe en sit ’n drupbak in die middel. Sit die vleis op die rooster, bo-op die stukke ui, knoffel en appel. Braai die lies vir 2-3 uur met die ketelbraai se deksel op. (Vul die kole aan wanneer hulle te lou word, maar pasop vir te warm kole.) Op ’n oop braai rooster jy die ontbeende lies vir ’n driekwartier tot ’n uur. Rooster die appel-, ui- en knoffelstukke totdat hulle goed gaar en sag is.

4. Laat rus die vleis vir ongeveer 15 minute in ’n bak voor jy dit sny. (Hou die oortollige vleissap vir die appel-en-mosterdsous).

5. Maak die sous deur die stukke gaar appel, ui en knoffel fyn te druk en dit dan te meng met die mosterd en oortollige vleissap. Geur dit met sout en peper.



WegSleep sê: Dié dik appel-en-mosterdsous is ’n wenner saam met varkvleis.


Hier is nog heerlike resepte wat jy  kan voorsit vir ’n propperse Kersete in die kampplek. (Kliek op die skakel)