Jy kan hierdie piekniekkoek ook in ’n swartpot of pan op die vuur maak. Braai alles in sarsies in die pot en pak dit dan in lae in ’n gesmeerde pot voordat jy die eier oorgiet. Jy sal nie sulke mooi wiggies kan sny nie, maar jy gaan steeds lekker eet!


Vir 1 | Voorbereityd 40 minute | Baktyd 50 minute


• 4 soetrissies
• 6 eetlepels botter
• 4 knoffelhuisies
• 1 ui, gekap
• 2 teelepels roosmaryn
• 3 middelslag-aartappels of -soetpatats
• 250 g ham, in skyfies gesny
• 8 eiers
• 1 suurlemoen se gerasperde skil en 1 eetlepel sap
• sout na smaak
• ½ teelepel swartpeper


1. Voer ’n losboomkoekpan (23 cm) se bodem uit met bakpapier of foelie (sodat dit nie lek nie). Voorverhit die oond tot 180 °C.

2. Halveer die soetrissies, verwyder die pitte en plaas vel na onder op ’n bakplaat. Plaas dit in die warm oond om te rooster tot sag – ongeveer 20 minute. Verwyder en verlaag die oond se temperatuur na 160 °C.

3. Plaas 4 eetlepels botter, knoffel, uie en roosmaryn in ’n pan oor ’n lae hitte om sag te sweet – vir ongeveer 20 minute. Laat dit effens afkoel.

4. Sny die aartappels in baie dun skyfies, plaas in ’n pot en bedek met kraanwater. Bring stadig tot kookpunt en laat prut liggies vir 5 minute totdat die aartappel net-net gaar is. Die skyfies moenie meer rou wees nie, maar dit moet nog ferm genoeg wees sodat jy dit kan hanteer. Dreineer die water versigtig en spoel af met koue water. (Jy kan ook wegtrek met heel gaar aartappels,wat jy dan in skywe sny.)

5. Meng die eiers met die uimengsel en geur dit met die suurlemoenskil, 1 teelepel sout en peper en ’n skeut suurlemoensap. 

6. Smeer die bodem van die voorbereide pan met 2 eetlepels botter. Plaas ’n lagie aartappel op die bodem van die pan en sprinkel ’n bietjie sout daaroor. Volg met ’n lagie soetrissie en ’n lagie ham. Skep ’n paar eetlepels van die eiermengsel daaroor. Herhaal totdat al die bestanddele gebruik is, en giet die orige eiermengsel bo-oor.

7. Bak vir 40-50 minute of totdat die middel gestol het. As jy die koekpan verwyder en daar loop eier uit, moet dit terug in die oond! Laat effens afkoel en sny in skywe, en bedien dadelik met ’n groenslaai. Of laat die “koek” heeltemal afkoel, draai dit foelie toe en bêre in die yskas vir die volgende dag se piekniek.