Swem in die wilde Transkei

akkreditasie
John Costello Images
’n Wenpoel is een waar jy nie deur die Desember-leërskares vertrap word nie en jy nie elke tien minute Kurt Darren se nuutste treffer hoor nie. En dan moet die omgewing natuurlik ook mooi wees. Die swempoel by die Horseshoe-waterval in die Mkambati-natuurreservaat kry drie ja’s.

Jy kom nie sommer toevallig hier uit nie, want dié natuurreservaat lê tussen Port Edward en Port St. Johns, doer in die noordelike hoek van die ou Transkei. 

Die ongerepte reservaatjie het ’n paar goeie hengelgate en hier is wild, maar een van die groot attraksies is die talle watervalle, soos Horseshoe. 

Dis sowat 8 km se ry van die lodge en rondawels af na dié waterval toe. Jy stap omtrent 10 minute van die parkeerplek af na die waterval en poel toe. Nadat jy lank genoeg oopmond na die waterval gestaar het, stap jy nog ongeveer vyf minute tot onder by die poel.

Jy gaan nog lank onthou hoe jou lyf hier afgekoel het terwyl die waters om jou druis – net soos daai eerste keer toe jy Nuweland toe is of die laaste keer wat jy van jou ouma se malvapoeding geëet het...

Hoe kom ek daar? Mkambati is sowat 70 km van Flagstaff af. Die eerste 22 km tot op Holy Cross Mission is teer, en van daar af is dit goeie grondpad tot by die reservaathek. In die reservaat self is ’n 4x4 ’n goeie plan. Moet liefs nie die pad tot by die waterval sonder een aandurf nie.  

Kontak: www.wildcoast.co.za/mkambati
Weg sê
Die beste tyd om te kom swem, is in Maart, die natste maand. Dan kan jy al die watervalle in hulle volle glorie sien.