1. NEEM JOU KAMERA ÓRAL SAAM


’n Mens weet nooit wanneer die vlinder op Ouma se neus gaan sit nie. Hou dus áltyd jou kamera byderhand – in jou handsak of die motor sepaneelkissie. En onthou om te kyk of die battery gelaai is en of daar ’n geheuekaart binne-in is. Leer ook hoe om jou selfoon se kamera te gebruik. 

Foto: Jac Kritzinger



2.  LEER KEN JOU KAMERA


Moenie net leer hoe om jou kamera se lensopening, sluiterspoed en ISO te gebruik nie, maar leer hoe om ál sy funksies te gebruik. Weet jy hoe om byvoorbeeld jou D-SLR-kamera se veelvoudige beligtingsfunksie (multiple exposure) te gebruik? Of het jy al ooit ’n tydsverloopvideo geneem? Hoe meer funksies jy kan gebruik, hoe meer kreatief kan jy raak met jou foto’s. 

Al wil jy eerder Weg lees (of op Facebook uithang…), lees jou kamera se handleiding. As jy nie seker is oor iets nie, gaan lees daaroor op die internet – daar is duisende forums en fotografieblogs wat kan help.

PROBEER DÍT: Leer hoe om jou kamera in die donker te gebruik. Kan jy net op gevoel al die belangrike knoppies vind? Jy en jou kamera moet één wees – ’n Siamese tweeling. 

Foto: Sam Reinders



3. DIE GOUE UUR


Die goue uur verwys na die eerste uur ná sonsopkoms en die laaste uur voor sonsondergang. In dié tyd hang die son nog laag bo die horison en sorg vir sagte en warm lig. Geen filter of Photoshop-funksie gaan dié lig kan naboots nie.

PROBEER DÍT: Gaan na www.golden-hour.com as jy twyfel oor die tye – jy kan ook die app hier aflaai.

Foto: Sam Reinders



4. UIT ’N ANDER HOEK


’n Interessante hoek sal vir dinamiese foto’s sorg. Pleks daarvan om byvoorbeeld net voor jou voorwerp te staan en die sluiterknoppie te druk, klim eerder op jou voertuig se dakrak en neem die foto van bo af. Of lê op jou maag en neem van onder af. As jou knieë nie vol stof is nie, doen jy dit nie reg nie! 

Foto: Sam Reinders



5. GEBRUIK DIE REËL VAN DERDES


Die bekendste teorie oor komposisie staan bekend as die reël van derdes wat ontwikkel is deur antieke Griekse skilders. Die basiese beginsel is om jou raam in derdes te verdeel (horisontaal en vertikaal) sodat daar nege dele is. Die belangstellingspunte van die komposisie sal op die lyne self wees of waar hulle kruis en nie in die middel van die raam nie. Wanneer jy die reël van derdes volg, sal jou foto meer gebalanseerd wees. 

Foto: Toast Coetzer