1. Neem minder foto’s, maar neem hulle béter

Reg gelees: Neem vanjaar mínder foto’s. In hierdie digitale tye is die verskoning altyd dat jy soveel foto’s kan neem as wat jy wil omdat dit jou niks kos nie. Die resultaat is dat jy lui raak – jy druk die knoppie en glo iewers onder die honderd foto’s wat jy binne 60 sekondes geneem het, sal daar ’n wenfoto wees.

Neem eerder minder foto’s, en neem hulle stadiger. Fotografie gaan oor wat jy sien, en hoe jy dié visie omskakel in ’n unieke foto wat deur niemand anders behalwe jy geneem kon wees nie.

Dink voordat jy die knoppie druk. Is jou verstellings reg? Is dit presies die regte oomblik om die foto te neem? Dit sal help dat jou rekenaarhardeskyf nie oorlaai word met duisende foto’s waarna jy nooit weer gaan kyk nie.

Neem ’n foto van meet af aan reg, en jy sal ook nie ure voor jou rekenaar hoef te sit om jou vaal kiekies te probeer poets nie.

2. Neem ’n foto wat jy nog nooit vantevore geneem het nie

Foto: Shelley Christians
Foto: Shelley Christians

Die meeste van ons – ek ook – neem jaar in en jaar uit foto’s waarmee ons gemaklik is.

Ek neem byvoorbeeld nooit eintlik foto’s met my kameraflits nie omdat ek nie ’n goeie een besit nie, en omdat ek geïntimideer is deur die effens tegniese aspekte daarvan. Dieselfde geld vir nagfoto’s van sterre – ek het dit nog nooit met sukses reggekry nie.

Doen jou huiswerk doen en neem ’n foto buite jou gemaksone. Jy kan elke jaar totdat jy 90 is, iets nuuts omtrent fotografie leer. Komaan, verras jouself!

3. Moenie ’n nuwe kamera koop nie – spaar vir ’n beter lens

Foto: Sam Reinders
Foto: Sam Reinders

Elke jaar is daar nuwe kameramodelle op die mark.

Dié een se sensor is blykbaar beter as die vorige geslag van dieselfde kamera, daai een kan nou meer foto’s per sekonde neem, ’n ander se vermoë om foto’s in swak lig te neem is volgens gerugte ongeëwenaar.

Myns insiens bereik digitale kameras nou die punt waar hulle nie beter kan word nie. Tensy geld in jou agtertuin groei, kan die meeste van ons net elke vyf jaar of so ’n nuwe kamera bekostig.

Indien jy drie jaar gelede in ’n goeie lenskamera belê het, het jy nie nou ’n nuwe een nodig nie.

Spaar eerder jou geld vir ’n beter lens. Goeie lense is duur, maar sal jou foto’s onmiddellik verbeter omdat hulle skerper is, en meer lig kan deurlaat, veral wanneer ligtoestande swak is.

’n Nuwe lens sal jou “ou” kamera weer laat blom.

4. Hou ’n fotolangnaweek saam met vriende

Dalk het jy drie vriende wat net so mal is oor fotografie soos jy. Los die res van die familie met springmielies voor die TV en hou langnaweek in ’n reservaat of mooi deel van die land saam met jou fotomal vriende.

Neem foto’s, praat foto’s, maak die driepote staan... en drink Old Brown Sherry drieuur die oggend wanneer julle sterfoto’s neem.

5. Hou jou selfoon stil wanneer jy foto’s neem

Foto: Sam Reinders
Foto: Sam Reinders

Slimfone se kameras is die mik-endruk-modelle van vandag.

Moenie die foonkamera bloot as ’n bykomende funksie van jou foon beskou nie. Neem dit ernstig op, want die tegnologie daarin is ook ernstig.

Verbeter jou selfoonfoto’s op die eenvoudigste manier denkbaar: Hou jou foon doodstil as jy ’n foto neem. Dit beteken jy moet jou foon met al twee hande vashou – en laat rus verkieslik jou een elmboog op ’n tafel of ander stabiele oppervlak.

Wil jy nóg oor fotografie leer? Skryf in vir ons aanlyn-fotokursus

Skryf hier in

Wil jy weet wat elke knoppie op die kamera beteken?

Ons is almal mal oor mooi foto’s, maar het nie noodwendig ure se tyd om daai dik kamera-handleiding te probeer ontsyfer nie.

Weg bied al ’n paar jaar lank fotografieslypskole reg oor die land aan, waar lesers by een van ons kenners leer hoe om hulle eie kameras beter te verstaan en beter foto’s te neem.

Met dié aanlyn-fotokursus wil ons dit vir amateurfotograwe nóg makliker beter foto's te leer neem. Nou hoef jy nêrens heen te reis nie, jy kan die lesse in jou eie huis (en teen jou eie pas!) onder die knie kry én dis heelwat goedkoper as om ’n slypskool by te woon.

Koste: R950 (eenmalig)

Wil jy nog weet oor die kursus? Lees antwoorde op algemene vrae hier.