Suid-Afrika het van die mooiste plekke in die wêreld om die sterrehemel te sien... Die fotograaf Richard de Gouveia, ’n Nikon-ambassadeur, deel wenke hoe om die naghemel se sjoe-oomblikke vas te vang.


1. Kry jou kol.

 
Kies ’n goeie plek ver weg van enige ligbesoedeling. Bring jou driepoot – belê in ’n goeie een; dit sal ’n leeftyd hou. Dit kan ’n lang nag word: Hou ’n koelboks of ’n fles met iets warms byderhand en geniet die geluide van die bos. 


2. Kry ’n onderwerp. 


Gebruik ’n wyehoeklens wanneer jy die sterre afneem sodat die wye Afrika-hemel tot sy reg kom. Jy het egter ’n onderwerp nodig. Dooie bome, klipkoppies en waterbronne werk gewoonlik goed. Dis dikwels ’n goeie idee om bedags vir ’n onderwerp te soek sodat jy nie in die donker rondval op soek na die ideale plek nie. 


3. Kry jou fokus reg. 


Die belangrikste deel van enige foto is die fokus. Gebruik ’n flits om die onderwerp te belig en fokus daarop. As jy eers die fokus het, maak seker jou lens is op handverstelfokus gestel sodat die kamera nie weer die fokus probeer kry wanneer jy die foto neem nie. 


4. Kry die regte verstellings. 


Om die sterre af te neem vereis die handverstelmodus. ’n Lens met ’n lensopening van f2.8 of vinniger word aanbeveel, maar is nie 100% nodig nie. Stel die lensopening so wyd as moontlik, byvoorbeeld: Vir ’n f2.8-lensopening, stel die sluiterspoed op tussen 20 en 30 sekondes en stoot die ISO op tot rondom 3200. As jy met ’n stadiger lens skiet, sal jy die ISO dalk nog hoër moet maak, tot by 6 400 of selfs 12 800. 


5. Kry jou komposisie reg. 


As jy die fokus en jou verstellings reg het, kan jy die kamera begin rondbeweeg om die beste komposisie te kry. Onthou om die kamera weer te laat fokus as jy wegbeweeg van die onderwerp of ’n nuwe een kies. 


6. Wees geduldig. 


Geduld is ’n belangrike vereiste vir sterrefotografie. Wees geduldig, vat jou tyd en geniet die stilte. Dié soort fotografie gee ons kans om te ontsnap van die alledaagse gejaagdheid van ons lewens.



Richard de Gouveia (foto onder) ’n fotograaf en ’n onderwyser wat regoor Afrika as fotografiegids werk. Hy wys gaste die natuurskoon en hoe om dit met ’n kamera vas te vang. Richard deel ook sy entoesiasme en kennis deur  middel van fotografie-werkswinkels en -kursusse vir Nikon in Suid-Afrika.