VIDEO: Danie Bester

In Augustus 2018 was ek en drie vriende in die Pilanesberg-wildreservaat, en op dié oggend het ons na ’n spesifieke luiperdmannetjie gaan soek wat ek die vorige dag by die Makorwanedam gewaar het.

Net voor 9 vm. het ons met die Tshukudu eNtsho-pad gery na die Tloudam. Ons het om ’n draai net ná die laagwaterbruggie gery en ’n voertuig in die middel van die pad gesien.

Tot groot opwinding sien ons ’n luiperd in die gras sowat 5 m van die pad af! Ons het hom begin volg soos hy beweeg in sy soeke na prooi.

Ek het my Canon 1100D met ’n Canon 75-300 mm-lens by my gehad en foto’s begin neem.

By tye het hy net gesit of in die verte gelê en staar. Dan ’n slapie gevat. Dan tussen die karre in die pad geloop. Dan in die ruigtes verdwyn en dan kry ons hom weer in die rigting van die Makorwanedam.

Teen 10 vm. was daar waarskynlik byna 30 voertuie wat ook die aksie volg. Soms het die luiperd verdwyn en dan sien ons hom weer.

Dis juis met een van hierdie tussenposes dat ons twee leeuwyfies sien. Hulle was aan die ander kant van die dam en besig om rooibokke te bekruip. Ons het hulle ’n ruk lank dopgehou en toe teruggekeer na die laagwaterbrug by die Makorwanedam in die hoop dat ons weer die luiperd sou sien.

Ons was nou al twee uur lank op sy spoor. Tot ’n mate was die leeus ’n bedekte seën aangesien die meeste voertuie aanbeweeg het om na hulle te kyk.

Ons was drie voertuie op die brug toe óns luiperd weer uit die digte gras verskyn. Hy het ’n rukkie lank op die klippe by die dam se inloop rondbeweeg. Ons het rustig gesit en wag om te sien wat gaan gebeur.   Toe loop hy skielik nader aan die water en kyk na die oorkant asof iets sy aandag getrek het.

Hy het van klip tot klip tot aan die ander kant begin spring (2, 3, 4 en 5). 

met my eie oe
Foto: Johan Theunissen
met my eie oe
Foto: Johan Theunissen
met my eie oe
Foto: Johan Theunissen
met my eie oe
Foto: Johan Theunissen

Vir ’n oomblik het hy in die ruigte agter die klippe verdwyn. Ons het net sy stert sien uitsteek terwyl ons water hoor spat – die kat het wraggies in die water geduik! Ongelukkig was die hoek sleg en ek kon nie ’n foto hiervan kry nie.

Die volgende oomblik het hy papsopnat van agter die klip verskyn – met ’n waterlikkewaan in sy bek!

Ewe kordaat het hy toe omtrent reg langs ons kom staan, so al asof hy by ons wou spog! Ná ’n paar sekondes het hy verby beweeg en sy middagete die ruigtes ingevat – dit was toe al omtrent twaalfuur.

met my eie oe
Foto: Johan Theunissen

Beslis nie iets wat jy aldag sien nie!


Johan Theunissen, Pretoria

“Ek gaan al sedert ek kan onthou Pilanesberg toe – die plek se grond pomp deur my are! In 2018 – op my 38ste verjaardag – het ek besluit om my loopbaan te laat vaar en my kantoortjie te verruil vir iets met ’n uitsig en baie spasie. 

“Ek het ’n passie vir die Pilanesberg se luiperds en het by ’n vriend se toermaatskappy, Wildworld Tours, aangesluit as spesialisgids. Ek spits my toe op luiperds en help dat toeriste hulle te siene kry.”

Wat het jy al met jou eie oë gesien?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za