Ek het die Groot Vyf en baie verskillende diere in my jare van besoek aan ons reservate teëgekom, maar ek was nog nooit so gelukkig – of sal ek sê, bevoorreg? – om ’n kill te sien nie. Ek dink ek sou in elk geval my oë toegehou het as dit wel sou gebeur!

Op hierdie besonderse dag was ek op die Grasslands-sirkelroete op die oostelike oewer van die St. Lucia-meer. Ek was waarskynlik sowat 5 km van die Catalinabaai-uitkykpunt toe ek uit die hoek van my oog ’n beweging in die lang gras gewaar. Groot was my verbasing toe ek ’n tierboskat skaars 20 m van my af sien.

Dit was die eerste keer in my lewe dat ek een in die natuur sien, die vorige kere was in dieretuine.

Die kat het ’n oomblik na my gekyk en toe voortgegaan om te fokus op iets wat in die gras roer.

Ek kon baie duidelik sien hoe die ore van links na regs draai en dan weer terug soos wat hy (of sy?) probeer om die posisie van die prooi te bepaal. 

Hy het in my rigting gestap en toe ewe skielik na links gedraai. My kamera was in daardie stadium op die agtersitplek en ek het sonder om my oë van die kat af te haal agtertoe gereik en dit gegryp. Ek het my Nikon D7200 met ’n Nikon 200-500 mm-lens gebruik.

Daarna het ek hom deur my viewfinder dopgehou. Hy het suutjies een poot voor die ander gesit terwyl hy die hele tyd sy ore van een kant na die ander draai met sy oë gefokus êrens in die lang gras net ’n paar meter voor hom.

Skielik spring hy sierlik in die lug en ek neem hierdie reeks foto’s van my eerste kill! Ná die vangs het die tierboskat nog een keer na my gekyk en toe weggestap. Wie weet, dié vet mol was dalk kos vir kleintjies iewers in die bos.

Theuns Germishuys, Richardsbaai

Ek is gelukkig om toegang tot ’n hele paar wildtuine in die noorde van KZN binne ’n uur se ry van die huis te hê. Ek is hoofsaaklik ’n voëlkyker en ek kyk hoeveel verskillende voëls ek in my leeftyd kan afneem.

Ek is nou 66 jaar oud en op 4 September 2020 het ek my 500ste spesie afgeneem. Dit was ’n geelkeelsanger – gelukkig ’n veelkleurige voël en nie ’n Klein Bruin Voëltjie nie! Die Ongoyewoud naby Mtunzini se endemiese groenhoutkapper, en die mooimeisie is my volgende teikens. My grootste droom is om die angolapitta af te merk...

As kinders het ons gesin gereeld in die Krugerwildtuin gekamp. Dit was in die middel 1960’s. Waar ons net die groot diere gesoek het, was dit my pa wat ons geleer het om ure lank stil te sit en net die veld dop te hou. Só het ons besef dat indien jy op die klein dingetjies in die veld konsentreer, ’n heel nuwe wêreld oopgaan.

Die voëlkykery was ’n natuurlike uitvloeisel hiervan.


Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za.