book-icon Uitgawe Junie 2019
Deel

FOTO'S: Vlakhase op patrollie!

akkreditasie

Ons was op pad terug na ons tuisdorp, Pietermaritzburg, ná ’n epiese vakansie in die Limpopo-provinsie waar ons onder meer die Wag-’n-bietjie-staproete naby Bela-Bela gaan stap, en die Marakele- nasionale park besoek het. Op ons laaste dag in die streek het ons by die Koedoesrus-boskamp in die Dinokeng-wildreservaat oornag.

Ons het teen skemer aangekom en ons Cruiser Camper naby die kampheining geparkeer. ’n Vlakhaas het daar rondbeweeg en ons het besluit om ons strikkameras op te stel in die hoop om dié haas of dalk iets anders af te neem.

Gewoonlik sou ons die kameras ook in hulle hiënabestande hulse toegemaak het, maar dit was nie nodig nie.

Ons ketting dit soms vas aan bome, maar het hulle hier sommer net in die paadjie staangemaak. Gewone voertuigpaaie word baie deur diere gebruik, en ons kry dikwels goeie resultate rondom kampplekke wanneer ons die kameras daar stel, soms vasgemaak aan pale in ’n heining.

Die volgende dag was ons verheug om hierdie nuuskierige vlakhaas op ons foto’s te sien. Dit het ons sommer hierdie “storie” laat skryf oor mnr. Ougat: 1 In hierdie foto lyk dit asof die haas iets sê soos: “Mmm, wat ruik so lekker hier in die gras?”

Wag, wie’s jou vriend? Of is dit jou girlfriend?

“Wat’s in dié snaakse boksie?”

Die hoogtepunt was egter toe ons na die foto’s kyk wat in die vroeë oggendure geneem is. Ons het dit amper met die eerste kykslag gemis, maar kyk mooi 4: Sien jy die kleintjie? Hoe oulik is dit nie!


Michael Barton en Kerrith Fraser, Pietermaritzburg

Die strikkameras is altyd ingepak wanneer ons reis. Dis interessant om te sien wat naby ons rondkruip saans wanneer ons in die tent lê en slaap. Bedags sal skugter diere jou vermy, maar saans is hulle dapper en kom nader.

Ons het twee kameras. Die Bushnell Trophy het ’n infrarooi sensor – die eerste drie foto’s hier is daarmee geneem. Die Cuddeback Digital is lekker, want dit neem kleurfoto’s en het ook ’n flits – die laaste foto is daarmee geneem.

As jy self met strikkameras wil speel, is hier raad: Stel die sensitiwiteit “growwer” wanneer die wind waai, want anders neem die kamera ’n foto elke keer wanneer die wind die grashalms of takke laat roer. Dan sit jy met honderde foto’s van... gras.

Die Cuddeback-kamera het ’n hittesensor; dus neem dit net foto’s wanneer iets warmbloedigs verskyn, wat nogal help om “grasfoto’s” te verminder.

Nog iets: Wanneer jy die kamera opstel, glimlag! Anders het jy ’n klomp kiekies van jouself wat frons en wonder of die ding nou al aan is of nie...