Ons het nie geweet wat om te verwag nie, maar was opgewonde om die reservaat te verken.

Op ons tweede dag het ons in die namiddag die Rooiplaat-sirkelroete bo-op die plato gaan ry en daarna met Linkpad weer bergaf teruggekeer kamp toe. Dit was ongeveer 4.40 nm. en ’n ysige windjie het gewaai, dit het behoorlik gevoel asof ons hande gaan vries! En net toe gewaar ons iets ongewoons: ’n Paar pienk ore! Dit was ’n erdvark wat in die laaste sonlig gebaai het.

Ek en Ayesha was skoon uit ons velle uit om dié skugter dier (erdvarke is meestal naglewend) te siene te kry. Dit was my heel eerste keer dat ek een sien, en die erdvark het oombliklik my hart gesteel. Ons het hom dadelik Pinky gedoop oor sy mooi pienk ore.

Terwyl hy na termiete en ander insekte grou, kon ek my Nikon D500 en Tamron 150-600 mm-lens uithaal... En toe verskyn ’n volstruis op die toneel.

Ek het sommer ’n gevoel gekry iets gaan gebeur, en was oorgehaal om te begin foto’s neem. Aanvanklik het mnr. Volstruis botstil gaan staan en vir Pinky ’n skewe kyk gegee. Maar toe begin hy sy vere oppof en beweeg stadig al hoe nader aan die erdvark en ek dink: Volstruis, is jy séker hiervan? My gedagte was skaars koud, toe bestorm hy Pinky!

My kamera was op manual mode gestel – wat nie altyd die beste keuse vir aksiefoto’s is nie – maar ek het nietemin losgetrek en begin skiet. Die erdvark het omgespring en met ratse bewegings begin weghol.

Ek het nooit geweet hulle kan só spoed vang nie, maar die stomme ding het seker vir sy lewe gevrees!

Genadiglik kon Pinky in ’n gat af verdwyn voordat die volstruis hom bykom.

Ek en Ayesha het sit en asem ophou, angstig oor wat volgende gaan gebeur. Maar die beneukte volstruis het weggedrentel, sy slegte bui iets van die verlede.

’n Paar minute later het die erdvark uit die gat gekruip en weer begin snuffelvreet.

Wat ’n belewenis! Om ’n erdvark in lewende lywe te sien was reeds genoeg, maar dié toneeltjie vat die koek!

Ek het ná die tyd besef ek het vir daardie paar oomblikke skoon vergeet het om koud te kry. Die Bergkwagga- nasionale park sien ons beslis weer – in die winter!

SANETTE JONKER, Port Elizabeth

Die Bergkwagga- nasionale park het baie verskillende spesies. Ons het ure gesit en die manewales van ’n klomp grondeekhorings dopgehou. Ons was ook gelukkig om ’n maanhaarjakkals te sien. Die Karoo-lig se mooi skakerings van pienk en blou sorg vir treffende landskappe.

Die kampgeriewe was netjies en word goed in stand gehou, en die personeel vriendelik en behulpsaam. Elke staning is ruim genoeg en het ’n geplaveide gedeelte waar ’n mens jou tent, boswa of woonwa kan staanmaak. Die kampkombuis het ’n yskas en ’n kookwaterkan – wat ’n bonus!

Volg Sanette by africaunplugged.co.za; @africa_unplugged op Instagram en “Africa UnpluggedNow” op Facebook.

Wat het jy al met jou eie oë gesien?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za
Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook