Yongqing Bao van die Qinghai-provinsie in China is die wenner vir sy foto The Moment (bo): Die foto is vol spanning én humor soos ’n Tibettaanse jakkals en ’n marmot mekaar in die gesig staar en regmaak vir aksie…
Roz Kidman Cox, die voorsitter van die beoordelaarspaneel, sê: “Dis eenvoudig ’n perfekte oomblik! Die diere se liggaamshouding is vol uitdrukking, dit trek dadelik die kyker se aandag. Foto’s van die Qinghai-Tibet-plato is reeds skaars, maar om dié kragtige interaksie vas te vang tussen twee spesies wat so belangrik is vir die ekologie van dié hoogliggende grasveldstreek is ongelooflik.”
Die veertienjarige Cruz Erdmann is die Jong Natuurfotograaf van die Jaar – hy het dié foto van ’n pylinkvis een aand tydens ’n duiksessie in Indonesië afgeneem. Cruz het al sy duiklisensie as tienjarige verwerf, en het die kiekie met sy pa se ou onderwater-kamera geneem!
Die algehele wenfoto is gekies uit 48 000 inskrywings uit 19 kategorieë – wat van seldsame dieregedrag tot onderwaterwêrelde uitbeeld. Die uitstalling sal 18 Oktober 2019 by die Natural History Museum begin, waarna dit in die res van die Verenigde Koninkryk, asook internasionaal sal toer na lande soos Kanada, Spanje, Amerika, Australië en Duitsland. As jy oorsee is en belang stel om die uitstalling te sien bespreek aanlyn – dit is uiters gewild.
Jy kan van Maandag 21 Oktober tot 12 Desember 2019 inskryf vir volgende jaar se kompetisie.
*Die kompetisie Natuurfotograaf van die Jaar word bestuur deur die Natural History Museum, Londen.
Kyk hier na nog van dié jaar se wenfoto’s – van ’n arend se dramatiese landing tot ’n lawarivier wat ’n nuwe pad kloof in Hawaii. Lees hier meer oor elk van dié kiekies en kyk na nog foto's!
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET