Canon EOS 5D Mk. III; Canon EF 24-105 mm-lens op 105 mm; 1/400 van ’n sekonde; f 9; ISO 100

Wenfoto: As Dooievlei léwe kry

Hulle is Namibië toe om haar man, Glen, se 50ste verjaardag te vier, en sy het met dié natuurtoneel teruggekeer huis toe, vertel Sally Mackay van Durban.

Ek het dié foto in die ikoniese Dooievlei in Namibië geneem. Tussen die dooie bome deur kon ’n mens ’n paartjie sien wat aan die ander kant van die vlei staan. Van my kant af is hulle netjies omring deur die bome en dit vorm ’n toevallige raam om hulle.

"Die mense gee skaal én konteks aan die foto met sy dorre omgewing as agtergrond. Ek het ook op swart-en-wit besluit om die tekstuur van die dooie bome uit te lig.”

Dooievlei is op elke ernstige natuurfotograaf se emmerskoplys, en wanneer jy daar is, móét jy die meeste maak daarvan.

’n Mens sien hoeveel foto’s wat tussen die rooi duine geneem is, maar baie van hulle lyk eenders, hoewel die rooi van die duine en die blou lug met die dooie bome al klaar ’n wenresep is vir ’n goeie foto.

Om dus met swart-en-wit te waag is dapper, want ’n mens verloor van die belangrike elemente op die foto. ’n Mens kan egter sien Sally het ’n oog vir ’n goeie foto.

Sy gebruik die swart-en-wit én die mense op haar foto ewe slim. As ’n reël wil jy in dié omstandighede ’n mooi natuurfoto neem (sonder toeriste wat die plek volstaan en die foto bederf), maar Sally doen presies die teenoorgestelde en maak mense deel van die toneel.

Die mense op die foto maak in der waarheid die verskil tussen ’n goeie en ’n puik foto. Die bome se takke staan soos vingers wat uit die aarde groei. Die mense is in die agtergrond, maar reg in die middel, omring deur die bome.

Omdat hulle so klein is op die foto, sien ’n mens hulle nie dadelik nie – hulle lyk eerder self soos ’n ou stomp in die agtergrond. Dis eers wanneer jy nader kyk dat jy duidelik sien dis toeriste – iets wat die foto net daardie ekstra dimensie gee.

Vir ’n nóg beter foto kan jy die onnodige negatiewe spasie links van die bome afsny (hieronder). Die foto is dan vierkantig, maar die komposisie beter.


Kyk vir ons!

iPhone 6S; 4,15 mm (29 mm in ’n 35 mm-kamera); 1/1 900 van ’n sekonde; f2,2; ISO 25

Terwyl hy onlangs by ’n foto-uitstalling in Londen was, het Harald Spiwak van Pretoria gesien heelwat van die inskrywings is met slimfone geneem.

“Ek het die foto met my slimfoon geneem by Mabibi naby die Sibayameer in die noorde van KwaZulu-Natal. Ek en my vrou, Marisa, staan op ’n groot duin en die sakkende son agter ons gooi ’n lang skaduwee oor die sand.

"Ek kon nie anders as om ’n foto te neem nie. Dis ’n foto binne ’n foto: Eerstens is daar die strand met die seegesig, en dan die duin met die skaduwees op. ’n Mens kyk na een foto, maar dit het in der waarheid twee visuele vlakke.”

Hoeveel keer moes ’n mens al uit die pad staan sodat jy nie jou eie skaduwee op die foto kry nie? Maar soos Harald kan jy dit ook inspan om ’n potensieel eentonige foto op te kikker.

Die skaduwee vertel ’n mens heelwat meer van die natuurtoneel sonder dat jy noodwendig daaroor hoef te dink. Jou onderbewussyn vertolk dadelik die perspektief omdat ’n mens weet hoe ’n skaduwee weg van jou val.

Jy kan dus dadelik die diepte in die foto sien, want die menssilhoeëtte se bene op die voorgrond is groter as die lywe, en ’n mens se brein trek outomaties ’n lyn tussen dit – en jy ervaar dit as diepte.

Die stille wenner is tog die skaduweelyn van die duin wat bykans parallel met die branders loop; en omdat dit teen ’n hoek diagonaal na bo regs uit die foto loop, rond dit die komposisie netjies af.


Die donker kant van lig

Samsung HD WB 30F met 10x- optiese zoemlens op 7,6 mm (42 mm in ’n 35 mm-kamera); 1/350 van ’n sekonde; f3,9; ISO 80

Wanneer hulle die Sederberg met hulle 4x4 besoek, soek Beverley le Grange van Kraaifontein altyd ’n mooi foto om haar later aan dié spesiale plek te herinner.

“Ons pak gereeld ons 4x4 en besoek dan die Sederberg – en spesifiek die Stadsaal, wat deel is van Kaapse Natuurbewaring. Dis vol pragtige rotsformasies wat ons na aan die hart lê.

"Ek het die mooi van die omgewing met ’n foto probeer vasvang... vir die kere wat ons nie die plek kan besoek nie. Dan kan ek dit darem geniet terwyl ek na die foto kyk.”

Al is die Sederberg prentjiemooi, is dit nie so maklik om dié natuurskoon op ’n foto vas te vang nie. Al die rotse en droë rantjies kan amper eentonig lyk op ’n foto.

Beverley gebruik die menssilhoeëtte slim, en al is die toneel agter hulle ’n getroue weergawe van die natuur, sorg die mense vir ’n ekstra vlak op die foto. Skielik kan jy jouself op die foto plaas, wat jou omtrent ’n eerstehandse gevoel van die omgewing gee.

Jy voel die koelte terwyl die son daar ver bak, maar dit gee jou ook dadelik ’n idee van die omgewing se grootsheid omdat jy dit met die mense kan vergelyk.

Hierdie is moeilike ligomstandighede vir die kameraligmeter en die foto kan maklik té lig of té donker wees. In Beverley se geval kwyt die ligmeter hom goed van sy taak, maar daar is tog effense detail in die skaduweegedeeltes.

Daar’s niks fout daarmee nie, maar afhangend van persoonlike smaak kan dit ’n geval wees van nie koud of warm nie, maar eerder lou. Jy wil eerder genoeg detail in die skaduwee sien óf niks nie.

Ek verkies in dié geval geen, omdat dit die donker dele in volwaardige silhoeëtte omskep. Dis iets wat ’n mens ná die tyd op die rekenaar kan regstel (as jy nie omgee om verstellings aan jou foto’s te maak nie)