Hierdie is die sogenaamde Kookpot naby Waenhuiskrans – branders stort van ’n rotsbank af in ’n skeur. Dis mooi om af te neem, maar ’n mens moet versigtig wees aangesien die rotsbank aan die voet van ’n paar kranse lê en moeilik is om by uit te kom. Die branders en getye is ook onvoorspelbaar. Nadat die fotograaf Marcus Jooste dié foto geneem het, is hy deur branders see-in gesleep. Hy kon uit die ysige water ontsnap, maar sy toerusting was daarmee heen – alles buiten sy geheuekaart.
Foto: Marcus Jooste

Alan van Gysen sê: "Goed, dalk is ek bevooroordeeld, maar Kaapstad het van die beste strande in die wêreld! Natuurlik is Tafelberg ’n groot trekpleister, maar ek glo dis die strande wat die skiereiland spesiaal maak. Danksy die inwonende pikkewyne is Boulders een van die bekendste strande... Jy kan sommer tot by dié koddige outjies roei en gaan dagsê."
Foto: Alan van Gysen

Die kusdorp Langebaan lê noord van Kaapstad en is bekend (of berug?) vir sy winde. Dis een van die topbestemmings in die land vir vlieërplankry. Gelukkig vir dié van ons sonder planke gaan lê die wind gewoonlik laatmidag, net betyds vir ’n sonsondergangstappie langs die strand.
Foto: François Haasbroek