Wenfoto: Sofia Goosen

IG: @sofia_goosen13, Canon EOS 200D, Canon 55-250 mm-lens

SOFIA SKRYF: Ek is 13 jaar oud en van Kaapstad. Ek het hierdie Kaapse suikervoël in die Harold Porter- botaniese tuin naby Bettysbaai afgeneem.

Ek het op ’n klein grasperk langs ’n speldekussing gesit en stilletjies vir die perfekte foto gewag!

TOAST SÊ: Tien uit tien vir jou bekruipwerk, Sofia! Jy het als reg gedoen vir ’n klassieke voëlfoto.

Eerstens is dit ’n goeie kantprofiel – daar’s niks fout daarmee om ’n voël van voor af af te neem nie, maar wanneer jy dit van die kant af kiek, kry jy die stert ook in én ’n mens sien die vlerke beter. Dis veral belangrik wanneer jy voëls wil uitken: Die lang stert van ’n Kaapse suikervoël is kenmerkend en ook die egalige kurwe van die sierlike snawel.

Tweedens is daar die vonkie in die oog, wat altyd lewe gee aan ’n portretfoto, of jy nou ’n leeu of ’n skilpad afneem.

Hier laat dit die suikervoël behoorlik soos ’n superster lyk, asof tuis op ’n poskaart of op die voorblad van ’n koffietafelboek.

Die landskap waarin die voël afgeneem is, is ook dadelik herkenbaar as die fynbosomgewing waar dit gewoonlik voorkom. Om ’n suikervoël op ’n speldekussing te sien sit is soos om ’n gemsbok op ’n Kalahariduin te sien: Hy hóórt net daar.

Sofia het die raam mooi gevul van links na regs, met baie min spasie wat nie benut word nie. Die suikervoël staan goed uit teen die groen agtergrond wat uit fokus is.

Gelukkig is die suikervoël ’n natuurlike pronker wat gewoonlik oop en bloot sit – anders as byvoorbeeld ’n grasvoël, wat presies dieselfde habitat deel, maar baie selde raakgesien word omdat dit laag in die fynbos skuil.

Hier is definitief genoeg regmerkies vir jou om hierdie maand die Weg-kamerasak te wen, Sofia – geluk!

Tristan Cary

IG: @capture_africa_; Canon 1Dx Mk. I; Canon 100-400 mm-lens

TOAST SÊ: Tristan is Kayla (volgende foto) se boyfriend en dié paartjie deel ’n passie vir wildlewefotografie: Die foto’s op die Instagramprofiel @capture_africa_ is hulle albei s’n.

Tristan sê hy was op pad terug kamp toe die aand toe die soeklig twee groot rooierige oë in ’n boom vang. Dit was ’n nagapie, en hy kon hierdie foto ná ’n paar probeerslae neem.

Sy ISO was gestel op 1 000 en hy het ’n sluiterspoed van 1/60ste van ’n sekonde gebruik en ’n lensopening van f5.6. Die hoë ISO help om die kamerasensor meer ligsensitief te maak – dis belangrik in swak lig. Die sluiterspoed van 1/60ste van ’n sekonde is ’n bietjie stadig vir wanneer jy ’n zoemlens gebruik (jy stel jouself bloot aan kameraskud), maar die foto is mooi skerp.

In hierdie situasie – op ’n wildkykvoertuig in die aand – gaan jy jou kanse op goeie foto’s aansienlik vergroot indien jy die bestuurder vra om die voertuig se enjin af te skakel en almal aan boord vra om vir ’n minuut doodstil te sit terwyl jy jou foto neem.

’n Klop op die skouer vir Tristan, maar ook aan die ou wat die soeklig gehanteer het, want sonder dié ekstra beligting sou die foto nie moontlik gewees het nie.

Ek hou van die vonkie in die oog en die manier hoe die dier om die tak loer, asof hy wegkruipertjie speel met die fotograaf.

Kayla Thompson

IG: @capture_africa_; Canon EOS 7D; Mk. I Tamron 150-600 mm-lens

KAYLA SKRYF: Ek is 17 en kom al van kleins af gereeld in die veld.

Ons het eers in Johannesburg gewoon, maar toe ons in 2016 Hoedspruit toe trek, het ek by Southern Cross begin skoolgaan waar die sillabus sterk op die natuur fokus. Deur die skool het ek baie geleenthede gekry om oor die omgewing te leer, en dit was deels ook hoe ek dierefoto’s begin neem het.

Ek het hierdie foto naby die Kruger se Orpenhek geneem. Ons oggendwildrit het goed begin toe ons sommer dadelik 15 leeus sien wat aan ’n buffelkarkas vreet. Toe hang my mond oop, want daar’s nie net een witleeu in die trop nie, maar twéé! Ek het jare laas ’n witleeu in die park gesien, en dit was spesiaal om tyd met hulle deur te bring én lekker foto’s te kry.

My verstellings: sluiterspoed 1/80ste van ’n sekonde, lensopening f8 en ISO 400.

TOAST SÊ: Kayla woon in Hoedspruit – ’n goeie tuisdorp as jy daarvan hou om diere af te neem, want jy’s op die drumpel van die Kruger en talle Laeveld-privaatreservate. Maar jy moet steeds gereeld in die veld kom om goeie foto’s te kry – én paaie te kruis met ongewone tonele soos hierdie.

Sogenaamde witleeus is skaars in die natuur, en foto’s van hulle nog skaarser. Kayla se foto werk omdat die witleeumannetjie nie alleen in die raam verskyn nie. Dis juis die teenwoordigheid van die donkerder “gewone” leeus in die agtergrond wat die ligte kleur van die “witleeu” help beklemtoon.

Dan is daar die oë – al kyk die leeus nie reguit na die kamera nie, voel jy steeds daai kil kyk! En daai bloedbesmeerde bek...

Kayla se sluiterspoed was relatief stadig (1/80ste van ’n sekonde), maar sy het die kamera stil genoeg gehou vir ’n skerp foto.

Thomas Marais

IG: @t_marais_photography; Canon Powershot SX540 HS 

THOMAS SKRYF: Ek is 14 jaar oud en van Oos-Londen. My belangstelling in wildlewefotografie het begin toe ’n broeipaar kroonarende naby ons huis nesgemaak het. Ek was lief daarvoor om hulle dop te hou en wou die hele proses dokumenteer.

Ek onthou dat ek in ’n stadium die Instagram-profiel van ’n plaaslike voëlfotograaf (@jannes_birdlife) gesien het. Dit het my geïnspireer, want ek het besef wat iemand van Oos-Londen kan doen!

Hierdie foto is in die Addo-olifant- nasionale park geneem. Dis ’n wonderlike plek vir wildlewefotografie, want jy kan die Groot Vyf sien, plus verskeie ander soogdierspesies en baie voëlspesies. Die park bied ook verskillende biome, wat beteken dat dit nie oral dieselfde lyk nie. Jy het dus baie opsies vir interessante landskappe of agtergronde vir dierefoto’s.

TOAST SÊ: Hierdie skoot het sommer hope “skop”! Wildlewefotograwe is altyd op die uitkyk vir ’n unieke oomblik. Jy soek tog ’n bietjie aksie – die X-faktor.

’n Olifant is ’n dier met hope persoonlikheid, maar dit kan ook soms net daar staan en niks doen. Thomas se foto beeld egter die olifant in ’n meer energieke bui uit.

Elke spesie bied verskillende “klassieke” foto’s waarvoor fotograwe uitkyk. Wanneer ’n trop leeus in die skaduwee lê en slaap, is dit vyfdagkrieket, maar wanneer een skielik kop oplig en vyf sekondes lank gaap dat jy net tong, tande en verhemelte sien, dan is dit Faf wat sesse wiks in die IPL.

’n Kameelperd wat bene oopsprei en l-a-a-a-g buk om water te drink – dáái’s jou foto. ’n Springbok? Hy moet mos pronk, of hoe? Olifante is charismaties en bied vele “klassieke” fotogeleenthede, veral wanneer die slurp deel word van die aksie. Dit kan water en stof spuit, in die lug opsteek soos ’n kind wat ’n vraag wil beantwoord in die klas, of sterk om ’n tak draai en dit stroop van blare. Al hierdie is lekker fotokanse.

Die lig val uit die “verkeerde” hoek op Thomas se olifant (daar’s nie veel direkte sonlig op die gesig nie), maar dit maak skaars saak, want al wat ’n mens sien, is daai opskopstoffie! Lekker!

Roald Grobler

Canon EOS 200D; Canon 75-300 mm-lens

ROALD VERTEL: Ek is ’n ywerige 17-jarige fotograaf van die Strand wat lief is vir wildlewe afneem.

Hierdie foto van ’n gevlekte ooruil is geneem op ’n plaas in die buitewyke van Stellenbosch. Hierdie is dieselfde uil as die een in my broer Eon se wenfoto in Weg #183. Ek dink wel my silhoeët is heeltemal verskillend van Eon se foto.

Die uil het die gewoonte om gereeld sy vangs op ons voorstoep te kom wys en daar te eet. Sy etes is blitsig, en ek het elke keer net ’n paar minute gehad om foto’s te neem. Ek het eers meestal die vanselfsprekende foto’s geneem met beligting van voor af. Maar een aand het ek besluit om iets anders te probeer naamlik side-lighting, wat tot dié foto gelei het.

My broer het met ’n sterk flits flits van agter af geskyn terwyl ek rondgeskuif het totdat ek in die ideale posisie was om die foto te neem.

TOAST SÊ: Wel, dié gevlekte ooruil is nou omtrent die uil wat al die meeste in Weg verskyn het! Ek hou daarvan dat Roald ’n totaal ander foto van dieselfde toneel (en uil) geneem het as sy broer s’n van ’n paar maande gelede (sien insetsel).

Dis tegnies ’n moeilike foto om te neem, want daar is soveel dinge wat kan skeefloop. Gelukkig was broer Eon by om die beligting te behartig, maar Roald moes steeds kophou om die kameraverstellings reg te kry vir ’n suksesvolle silhoeëtfoto.

Hy het geskiet teen ’n sluiterspoed van 1/200ste van ’n sekonde, lensopening van f5 en ISO van 1 600.

Van groot belang is dat hy die hoek reg getref het. Met ’n silhoeëtfoto is dit onwaarskynlik dat ons die uil se oog gaan sien en met die kantprofiel gaan jy eerder hoop jy kan die snawel mooi in profiel sien as deel van die silhoeët. Maar synde die uil die muis in die bek het, is dit die posisie van die muis wat voorrang geniet. Ons kan skaars die snawel uitmaak, maar omdat die muis perfek hang – jy kan die kop, al vier pootjies, én die stert duidelik sien – maak dit nie regtig saak nie.

Die muis stel in der waarheid die teenwoordigheid van die uil voor. Goeie werk, Roald!

Allied Mathebula

Allied Mathebula
Foto: Allied Mathebula

IG: @allied_mathebula_photography_; Canon EOS 50D; Tamron 150-600 mm-lens

TOAST SÊ: Allied is 16 jaar oud en woon in Hoedspruit. Hierdie foto van ’n dwergmuishond is geneem naby Tanda Tula Safari Camp in die Timbavati-wildreservaat. Dwergmuishonde is ’n oulike lotjie – jy sien gewoonlik ’n hele spannetjie bymekaar. Allied se foto vang die dier se persoonlikheid mooi vas.

Met ’n relatiewe vinnige sluiterspoed van 1/400ste van ’n sekonde het Allied nie kanse gevat nie – sy foto is skerp. Dis verkeerd om te dink jy’ t net ’n vinnige sluiterspoed nodig wanneer jy snelbewegende diere of voorwerpe afneem. Onthou, dis nie net die dier wat beweeg nie, maar jy ook!

Probeer altyd die vinnigste sluiterspoed moontlik wanneer jy ’n zoemlens gebruik, want dit sal help om kameraskud te voorkom.

Ek hou baie van die byna ooghoogteblik wat ons op die muishond het. Wanneer jy klein diere op die grond wil afneem, is dit slim om op hulle vlak te kom. Klim uit die kar en lê op jou maag (net waar dit toelaatbaar is; in die meeste parke is dit gewoonlik teen die reëls om uit te klim). Stut jou swaar kamera en lens met jou elmboë op die grond – hulle sal dien as jou “driepoot” vir stabilisasie.

Wanneer jy ’n klein diertjie sommer net van bo af kiek, verloor jy die band met die dier. ’n Ooghoogteportret is altyd beter, want dit word ’n meer persoonlike foto. Goeie werk, Allied.

WEN MET JOU FOTO!

Jy kan volgende maand ’n Weg-kamerasak ter waarde van R650 wen!

Weg-kamerasak
Weg-kamerasak

Enige fotograaf wat sy sout werd is, sorg dat sy toerusting beskerm word. Jy kan jou kamera en lense veilig hou in hierdie sak van seil met ’n sagte binnevoering.

Een gelukkige Weg-leser kan volgende maand só ’n sak wen.

Hoe? Stuur eenvoudig jou beste reis- en natuurfoto’s na menseselense@weg.co.za – ons kies die wenner, wat dan in “Mense se lense” gepubliseer word. Dié produk is beskikbaar by winkel.weg.co.za

Volg Weg op Instagram 

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?

Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za 

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook