Hy was eintlik op soek na die skugter luiperd, maar Ehan Fourie van Barberton sê ook nie nee vir ’n krokodil met ’n vis in die bek nie.
“Omdat ek so naby aan die Krugerwildtuin bly, maak ek gereeld ’n draai daar om te kyk of ek iets kan afneem. Hierdie toneel was by die Sunsetdam digby Onder-Sabie. Dit was bewolk en ek het ’n klomp karre langs die dam sien staan. Ek draai toe in en sien self waaroor dit gaan: ’n Krokodil buite die water met ’n lewendige baber in sy bek. Die baber het kort-kort nog ’n beweging gemaak, maar die krokodil is naderhand met die vis in sy bek die water in.”
’n Groot deel van fotografie gaan daaroor om die alledaagse vas te vang. Dit is dus bloot ’n dokumentasie van wat voor die lens gebeur, en dié soort foto’s steun nie op tipiese fotografie-elemente soos komposisie nie. Wat so ’n foto laat uitstaan, is wanneer die inhoud iets besonders – of buitengewoons – is. En dis hier waar Ehan se foto met vlieënde vaandels slaag, want ’n mens is besig om waarskynlik vir die eerste keer te sien hoe ’n krokodil ’n baber “eet”.