Ons het in November 2018 die Krugerwildtuin saam met familie besoek. Vroeg een oggend vertrek ons uit Skukuza na Onder-Sabie en ry met die bekende H4-1-rivierpad. Later stop ons by die Sunsetdam naby Onder-Sabie. Dis een van ons gunsteling-koffiedrinkplekke, want daar is altyd beweging van ’n verskeidenheid diere- en voëlspesies.
Ek het my Canon EOS 7D met ’n Canon 100-400 mm-lens by my gehad. Met ons aankoms om 8.30 vm. het ons naby die droë boom geparkeer. Regs van ons het ’n lepelaar rustig in die water gewei. Daar was net drie voertuie by die Sunsetdam en ons het dus ’n onbelemmerde uitsig gehad.
’n Paar minute later land daar ’n tweede lepelaar by die eerste een, en onmiddellik begin die water in alle rigtings spat soos die twee mekaar stamp en byt. Ek was verras oor die aggressie. Hulle het mekaar nie gespaar nie: In ’n stadium het die een sy snawel om die ander se poot gehad!