Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s na menseselense@weg.co.za – dalk bespreek Toast Coetzer jóú foto!

Oupa Coetzee

IG: @oupacoetzee, Nikon D700, Nikon 14-24 mm-lens

OUPA VERTEL: Hierdie foto is omstreeks tienuur die aand op Stuurmansfontein geneem. Dis ’n bekende gasteplaas in die Carnarvon-distrik waar ’n mens in ’n tradisionele korbeelhuis kan oornag.

Ek het natuurlik my driepoot gebruik, en my afstandbeheersluiter. Die lens was wyd gestel op 14 mm, en ek het ’n sluiterspoed gebruik van 30 sekondes met die lensopening f5.6 en ISO op 200. Die “white balance” was op “bewolk” gestel. Ek het ook die korbeelhuis vir sowat 10 sekondes met my flouerige kopliggie verlig.

Ek het later op die rekenaar ekstra redigering gedoen om die Melkweg beter te laat uitstaan.

TOAST SÊ: Pragtig! Ver van die stede se ligbesoedeling kry ons nagruim kans om te blom en die Karoo is een van die beste plekke in die wêreld om sterre te kyk.

Hier besef jy skielik hoekom hulle dit die Melkweg noem, want dié strook sterre staan hier amper uit soos ’n varsgekalkte lyn op ’n rugbyveld. Oupa se foto vang die prag van só ’n Karoonag perfek vas.

’n Foto soos hierdie verg ’n bietjie tegniek, maar as jy Oupa se verstellings naboots, behoort jy ook ’n resultaat te kry (al moet jy dit dalk later op die rekenaar nog ligter maak of die detail verskerp, of wat ook al).

Sonder ’n driepoot kan jy nie, want jou stadige sluiterspoed beteken dat stabiliteit ononderhandelbaar is.

Die afstandbeheersluiter help om kameraskud uit te skakel wanneer jy die sluiterknop druk.

As jy nie ’n afstandbeheer het nie, kan jy altyd jou kamera op sy “timer”-funksie sit vir ongeveer vyf sekondes vertraging voor die foto geneem word.

Dit sal ook help om kameraskud te beperk.

Hoekom was Oupa se ISO net 200 en nie byvoorbeeld 800, 1 600 of selfs 3 200 nie? Hoër ISO-verstellings is gewoonlik sinoniem met laeligfotografie, maar hoe hoër die ISO, hoe meer greinerig kan jou eindfoto lyk – en dan duik van die fyn detail in die hek.

Stel dit iewers tussen 100 en 400 en jy sal fyner detail behou. Maar dan moet jy seker maak jou sluiterspoed is baie stadig sodat jy steeds genoeg sterlig deurlaat om ’n foto te kry.

Geluk, Oupa, jy wen die Weg-kamerasak hierdie maand!

Stephen Kenny

Nikon D7200, Sigma 150-600 mm-lens

STEPHEN VERTEL: Ek was in die omgewing van die Chobe River Camp in die ooste van Namibië se Caprivistrook in Mei 2019.

Dit was baie droog met net genoeg water in die Choberivier om plek-plek darem nog met ’n bootjie te kon vaar.

’n Trop olifante het teen skemeraand van Botswana se kant af die rivier oorgesteek na Namibië se oewer. Hierdie een is uit die water uit, en toe bultop tot bo-op die oewer.

My verstellings was: ’n sluiterspoed van 1/1 000ste van ’n sekonde, lensopening f8 en ISO 140.

TOAST SÊ: Tonele soos dié lok toeriste na die Choberivier, of jy nou aan die Namibië-kant of die meer bekende Botswana-kant kuier. Stephen se foto is ’n maklike een om van te hou, maar nie die maklikste foto om te neem nie.

Die Choberivier is een van die beste plekke vir ’n klassieke Afrika-prentjie soos dié, grotendeels om drie redes. Eerstens is daar áltyd genoeg olifante om af te neem (anders is jy by die verkeerde Chobe...). Dan is daar die unieke posisie waaruit jy die foto kan neem – uit ’n boot. Dít beteken jy is op die rivier, en dit raak makliker om op dieselfde hoogte (of selfs net-net laer, soos die geval in Stephen se foto) as jou voorwerp te wees. ’n Silhoeëtfoto is altyd makliker as jy laer as jou voorwerp kan wees, want dan staan jou voorwerp uit teen die lug.

Die derde voordeel van die Chobe het met die geografie te doen. Die oop (dikwels boomlose), plat vloedvlakte wat langs die rivier uitstrek sorg dat jy ’n gevoel van diepte kry in die foto.

Jou silhoeët gaan gevolglik beter uitstaan teen die agtergrond.

Boonop is dit moontlik vir die bootjie om rond te beweeg en jy kan die man agter die stuur vra om te draai soos dit jou pas. Laatmiddag, met die son wat in die weste sak, moet jy net begin soek na ’n olifant tussen jou en die horison – iewers op die vloedvlakte. Dan is jou ikoniese olifantfoto so te sê in die pyplyn!

Twee goed is vir my baie mooi hier: Die een tand wat skerp uitstaan en dan die stof, wat die goue lig optel en ’n bietjie magic oor die hele toneel strooi.

Goeie werk, Stephen!

Karen Truter

IG: @truter.karen, Nikon D3000, Nikon 70-300 mm-lens

TOAST SÊ: Karen woon in die Paarl en werk as landboukundige vir ’n kunsmismaatskappy. Haar werk neem haar dus gereeld na mooi plase in die omliggende distrikte.

Ek hou baie van hierdie landskapfoto omdat dit ’n eenvoudige toneel is – maar steeds propvol treffende dinge om na te kyk. Die komposisie is vars en ongewoon met net sowat 25% van die raam wat in fokus is. Daar is dus geen twyfel dat die hoofvoorwerp die koringare hier voor is nie.

Karen se lensopening was f4 wat gesorg het vir ’n baie vlak fokusdiepte. Vir tipiese landskapfoto’s gebruik die meeste fotograwe ’n lensopening van f8 of hoër, want dit sal in die meeste gevalle sorg vir ’n foto waarvan die voorgrond én agtergrond in fokus is.

Tog is Karen se aanslag effektief – ons sien steeds elke element in die uitfokusdeel van die foto. Dit is omdat dié elemente maklik herkenbare voorwerpe is: die bale, die dam, nog lande verder, die berge. As jy fyn kyk, sien jy selfs ’n Eskom-kragmas.

Die verskillende kleure werk goed saam – die subtiele grasgeel, blou en groen wat nie een die ander oordonder nie.

Netjies!

Derek Donkin

Panasonic Lumix DMC FZ200 

DEREK SKRYF: Die strand tussen die Kosimonding en Bhanganek word deur duisende krappies gepatrolleer op soek na krieseltjies kos wat deur die branders uitgespoel word.

Ek wou met my foto wys hoeveel van hulle daar krioel. Dis moeilik, want hulle skarrel die vlak water in sodra jy naderstap – en verskyn dan weer agter jou sodra jy ’n entjie weg is! Frustrerend!

Hierdie paar het nét lank genoeg stilgestaan – dalk nuuskierig – sodat ek ’n foto kon inkry voor hulle weer laat spaander het.

TOAST SÊ: Hierdie outjies is omtrent blitsig! Hulle versnel van 0-100 km/h in ’n oogwink, nes Cheslin Kolbe wanneer hy die bal in die hand het.

Soos met Jeannette se blomfoto (sien volgende blad) moet jy hier ook eers ’n fokuspunt kies en dan jou komposisie daarom bou.

Die probleem met die krappies is: Almal lyk dieselfde! Jy gaan dus eerder die uniformiteit wil beklemtoon. Kies een wat stilstaan en fokus op hom. Jou kamera se outofokus gaan dalk sukkel en vorente en agtertoe wil spring na ander krappies. Dis orraait, want met ’n paar oefenslae sal jy wel resultate kry.

Derek se sluiterspoed was vinnig – 1/1 000ste van ’n sekonde – wat die aksie meestal sou vries selfs wanneer die krappies begin mouter.

Dis dalk ’n risiko hier – jy én jou kamera kan nat word – maar jy sal ’n beter foto van hierdie toneel kry indien jy plat op die sand gaan lê.

Deur jou perspektief te bring tot op oogvlak met die krappies gaan hulle beter uitstaan – teen die lug eerder as teen die sand.

Veral daai ogies-op-stokkies van hulle sal nou duideliker word, en kan selfs die mees interessante deel van jou foto word.

Jenna Roberts

IG: @jenswildlifephotographs, Canon EOS 800D, Tamron 150-600 mm-lens

JENNA SKRYF: Ek is 14 jaar oud en woon in Oos-Londen.

My liefde vir wildlewefotografie het begin toe ek vyf jaar oud was en die eerste keer saam met my ouers Krugerwildtuin toe is. In die begin het ek net ’n klein kamera gehad, later ’n Canon Powershot SX60-brugkamera en nou het ek ’n D-SLR-soort, ’n Canon EOS 800D.

My ma en pa het my nog altyd baie ondersteun, nie net deur my na plekke soos die Kruger en Kgalagadi te neem vir vakansie nie, maar ook deur my te help om toerusting te koop.

Ons was op ’n oggendrit in die Bergkwagga- nasionale park net buite Cradock en het deur ’n beboste gebied gery toe ek hierdie koedoe sien. Ons het eers verbygery, maar toe dink ek die koedoe sal dalk ’n mooi foto maak met die natuurlike raam van die takke en stokke rondom.

Ons het gestop, agteruitgestoot en ek het my kamera gegryp en na die koedoe gekorrel. Die outofokus het met die eerste probeerslag op die regte plek gevat en ek kon dié foto neem. Dit was gelukkig, want daarna het die fokus heeltyd na die takke in die voorgrond gespring; uiteindelik was hierdie die enigste infokusfoto wat ek kon neem.

Ek was baie verlig toe ek later agterop my kamera kyk en sien dat die foto skerp is. Ek is baie tevrede met die resultaat!

TOAST SÊ: As ek R5 kon kry vir elke keer in my lewe wat ek al verby ’n toneel gery het en gedink het “Hmm, dit kan ’n mooi foto maak” en dan nié gestop het vir die foto nie, dan sou ek ’n miljoenêr maal twee gewees het.

Soms is ’n mens net te haastig, of dalk is dit nie ’n veilige plek om vir ’n foto te stop nie. Maar in ’n reservaat is jy gewoonlik rustig. Luister dus na daai stemmetjie in jou kop. Stop die voertuig en stoot terug of draai om. Kry daai foto – jy gaan nooit spyt wees nie!

Goeie tegniek en toerusting is belangrik, maar nog voordat jy die knoppie druk, moet jy ’n toneel kan eien as ’n goeie fotogeleentheid.

Fotograwe met ’n goeie “oog” sien die geleentheid nog voor hulle na die toneel deur die kamera kyk. Dis dikwels instinktief, en elke fotograaf sal iets anders sien wat hulle belangstelling prikkel.

Jenna het duidelik ’n goeie oog – gaan kyk gerus na haar ander foto’s op Instagram.

Hoewel een van die koedoe se horings deels weggesteek is agter die tak staan die ander een duidelik uit. Dit glinster in die oggendlig. Die ligte agtergrond (wintergras) sorg dat die koedoe duidelik uitstaan ondanks die takke in die voorgrond.

Dis ’n foto wat ’n mens twee keer laat kyk – geluk, Jenna!

Jeannette Borghesi

Canon EOS 700D, Canon 75-300 mm-lens

JEANETTE VERTEL: In Augustus 2020 moes ons van ons huis in Upington na Vredendal ry om iets op te laai. Met die terugkeer het ons in die Nieuwoudtville-distrik getalm om blomme te kyk. Dit was die mooiste wat ons dit in agt jaar gesien het!

TOAST SÊ: Ja, 2020 was ’n buitengewone blommejaar, van die Biedouwvallei tot in verskeie dele van Namakwaland.

Wat blommekyk so besonders maak, is dat die skouspel vlietend is. Vrydag lyk dit dalk soos ’n sprokie, maar teen Maandag is dit al “af”. Of jy daag op die regte plek op, maar op ’n bewolkte dag en die blommetjies is nie oop nie. Hierdie wispelturigheid maak dit des te meer spesiaal as als mooi in plek val en jy dit beleef soos Jeannette dit gesien het.

Met haar zoemlens kon Jeannette se kamera die toneel “kompakteer”, wat help om die idee te skep dat die hele wêreld vol blommetjies was, van die voorgrond tot die agtergrond. Maar deur op dié katsterte te fokus, gee dit jou oog iets om op te konsentreer en raak jy nie verlore in ’n see van kleur en klein blommetjies nie.

Dit kan oorweldigend wees om ’n toneel soos hierdie af te neem, want jy weet amper nie waar om te begin nie. Als lyk dan só mooi! Vat jou tyd en tree terug: Kyk watter deel van die toneel ’n goeie visuele anker kan wees, en bou jou komposisie rondom dit.

Riaan Wolhuter

Nikon D7000, Nikon 60 mm-makrolens

RIAAN SKRYF: Ons woon op Stellenbosch en het tydens die inblytyd verlede jaar ’n bietjie tuin gesnoei en een oggend op drie van dié inwonertjies afgekom in van die groter en digter struike.

Dis maar goed die verkleurmannetjies kruip goed weg, want ons het nogal heelwat laksmanne ook... Hierdie een het mettertyd uit die skadu beweeg na waar ’n mens sy kleure en tekstuur beter kon sien. Dit wys net dat jy nie altyd ver hoef te ry om iets moois te sien nie!

My verstellings was: sluiterspoed van 1/500ste van ’n sekonde, lensopening f10 en ISO 1 000.

TOAST SÊ: Die fyn detail, wat mooi uitgelig word deur Riaan se makrolens, is wat hierdie foto een maak waarna jy sommer lánk kan kyk. Elke knobbeltjie en kreukel is duidelik sigbaar en dit voel asof jy aan die verkleurmannetjie kan vat.

Die krul in die stert sorg vir ’n klassieke verkleurmanpose en daar is ’n vonkel in die oog. Die sterk diagonale lyn wat die takkie maak van regs bo na links onder dra ook by tot die komposisie. Dit laat die stilstaande diertjie meer dinamies voorkom.

Tipies sou ’n mens dalk die agtergrond meer uit fokus wou sien, of ’n ander kleur (byvoorbeeld blou lug) wou gehad het sodat die voorwerp meer uitstaan. Maar omdat die voorwerp ’n verkleurmannetjie is, dra die groen agtergrond juis by tot die foto, want dit wys jou nou hoe goed die verkleurman hom kamoefleer.

Goeie werk, Riaan – jy het jou inblytyd goed aangewend!


Volg Weg op Instagram

Weg is by @menseselense – merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk daar!

Ons sustertydskrif go! is @gomagsa

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?

Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za 

WEN MET JOU FOTO!

Jy kan volgende maand ’n Weg-kamerasak ter waarde van R650 wen!

Enige fotograaf wat sy sout werd is, sorg dat sy toerusting beskerm word. Jy kan jou kamera en lense veilig hou in hierdie sak van seil met ’n sagte binnevoering. Een gelukkige Weg-leser kan volgende maand só ’n sak wen.

Hoe? Stuur eenvoudig jou beste reis- en natuurfoto’s na menseselense@weg.co.za – ons kies die wenner, wat dan in “Mense se lense” gepubliseer word.

Dié produk is beskikbaar by winkel.weg.co.za