
Ek en my vrou, Clara, het in November 2019 die Krugerwildtuin besoek. Dit was my jaarlikse verlof en ons het nege dae by Letaba gekamp. Ons geniet die kamplewe en ons Gypsey Romany-woonwa is baie gerieflik.
Ons was dié middag teen omtrent vieruur rustig rondom die woonwa besig toe Clara ’n likkewaan gewaar. Sy het my geroep en ek het my kamera opgetel en begin foto’s neem. Ek het ’n Canon EOS 760D met ’n Sigma 150-600 mm-lens. Die likkewaan was net sowat 15 m van ons af.
Net ’n paar sekondes later gebeur daar iets wat ek glad nie verwag het nie: ’n breëkoparend swiep ondertoe en vang die likkewaan! Ek het nie die arend voor die tyd gewaar nie; dus weet ek nie of hy iewers in ’n boom gesit en wag of hoog bo ons rondgesweef het nie – ek vermoed laasgenoemde.
Die breëkoparend het eers sowat 10 minute bo-op sy vangs gestaan en daarna begin vreet. In hierdie tyd het ander mense in die kamp ook kom kyk. ’n Rukkie later het hy weggehop (5) met sy vangs, dieper die veld in om in vrede te vreet.
Dit was die eerste keer dat ons só iets aanskou!
WAT SÊ ’N KENNER?
Die dieet van breëkoparende bestaan hoofsaaklik uit soogdiere, voëls en reptiele. In sekere gebiede sal soogdierprooi dominant wees, maar in ander gebiede voëls of reptiele. In die ooste van ons land, soos in die Kruger, maak voëls (meestal grondvoëls soos tarentale en fisante) en reptiele ’n groter persentasie van die prooi uit. Hulle is veral versot op likkewane.
Daar is verskeie redes waarom roofvoëls hulle kop “onderstebo” draai soos op foto 1. Die meeste roofvoëls se oë is voor in die skedel – ander voëls s’n sit aan die kante van die kop. Dit gee roofvoëls ’n wyer veld van binokulêre sig wat dit moontlik maak om uiters akkuraat op voorwerpe te fokus (’n breëkoparend kan prooi tot 6 km ver uit die lug identifiseer!).
Die nadeel is dat roofvoëls hulle kop moet draai om op voorwerpe agter en buite hulle gesigsveld te fokus of op voorwerpe wat na aan hulle is. Dit kan ook wees dat die voël sy kop draai om beter te luister. – Lukas Niemand, ekoloog
"Die Krugerwildtuin is ongelooflik. Ek en my vrou geniet die natuur, en die wildlewe is fantasties vir enige fotograaf. Letaba is ons gunstelingkamp, want dis sentraal en daar is baie voëls."