Ek en my man, Alvin, was in Oktober 2020 twee weke lank in die Kruger. Die laaste drie dae van ons vakansie het ons by Letaba gebly. Elke oggend is ons vroeg op, geniet koffie en beskuit, en dan op die pad om te sien watter wonderlike dinge ons die dag gaan aanskou. Dié oggend het ons net buite die kamphek dadelik regs gedraai om teen die rivier langs te ry. Skaars twee kilometer verder lê ’n pragtige luiperdmannetjie met net een oog onder ’n mopanieboom.

Voor hom wei ’n troppie niksvermoedende rooibokke. Eenoog lyk egter redelik ontspanne en bekyk hulle net. Die rooibokke stap oor die pad na die rivier-oewer, weg van Eenoog – dit lyk toe vir ons die kans op ’n vangs is daarmee heen. Net voor ons wil ry, stap die rooibokke wraggies weer terug oor die pad. Dié keer hol en spring hulle verby die mopanieruigte waar Eenoog lê. Die laaste rooibok het seker nie aandag geskenk nie, want sy loop alte rustig – en omtrent reg in Eenoog vas!

Stof skiet op – en hy het haar! Ek sukkel om die kamera (’n Nikon D7200, met ’n Sigma 150-600 mm-lens) stil te hou, maar hou aan foto’s neem – dis die eerste keer dat ek só iets waarneem. Die volgende oomblik is daar ’n lawaai en ’n gevlekte hiëna val die luiperd aan om sy rooibok te vat.

Ons moed sak soos ons kyk hoe Eenoog probeer om sy rooibok terug te kry, maar elke keer oorrompel die hiëna hom. Hy gaan lê toe maar ’n entjie weg en kyk hoe die hiëna sy bok begin vreet.

’n Rukkie later bars ’n nuwe geroesemoes los – ons het aanvanklik gedink daar het dalk meer hiënas opgedaag, maar toe ons weer sien, is dit ’n tweede luiperd!

Maar waar is Eenoog dan nou, wonder ons? En toe gewaar ons hom bo in ’n boom! Ons kan nou glad nie glo wat ons sien nie – twéé luiperds! Die jonger luiperdmannetjie wag eenkant sy beurt af terwyl die hiëna homself trommeldik vreet.

Ná ’n rukkie tel die hiëna die karkas op en stap reguit verby die jong luiperdmannetjie – en weg in die bos. Die jong luiperdmannetjie stap na waar die hiëna gevreet het en lek die oorskiet op. Hy loop daarna in die rigting waarin die hiëna verdwyn het. Intussen sit Eenoog nog hoog en droog in die boom – buite gevaar, of so het ons gedink! Daar kom toe wraggies ’n paar groot bobbejaan-mannetjies aan wat die boom klim en ou Eenoog terg deur takke te skud en alarm te maak.

Nóg bobbejane sluit by die groep aan en die jonges koggel ook vir Eenoog. Eenoog gaan lê plat op die tak en ons hoor hoe hy grom wanneer die bobbejane te naby kom. Uiteindelik raak die bobbejane verveeld en skuif verder. Eenoog begin stadig afklim en toe hy op die grond is, spring hy vinnig weg in die bosse.

Dit was omtrent 90 minute nadat die hele petalje begin het. Nog nooit het ons só jammer gevoel vir ’n dier nie! Dat al die dinge in een oggend met hom moes gebeur... Ons het Eenoog die volgende dag weer naby die kamp gesien jag – gelukkig was hy nog ongedeerd.

Marlize en Alvin Muller van Krugersdorp (IG @marlize1127) vertel: “Sedert ek en my broer en suster in doeke was, het ons ouers ons wildtuin toe geneem vir vakansies. Sodra ek daai grasdakreuk ruik, dan weet ek: Dís waar ek hoort. “Nadat ons verloof geraak het, het ek ook vir Alvin aan die wildtuin bekend gestel. Nou is ons ten minste twee keer per jaar in die park – soms net die twee van ons, ander kere saam met my ouers en dan gaan ek ook soms saam met my broer. “My gunstelingomgewing is Shingwedzi in die noorde, waar dit rustiger is omdat minder mense daar kom. Ek hou egter ook van Satara se ooptes en groot katte, en Olifants, Balule, Letaba...”

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
 Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za