’n Histo-watseding?

akkreditasie
Wat is ’n histogram en wat doen dit?

Jy het seker al daai snaakse grafiek op jou kamera se skerm gewaar. Maar wat is ’n histogram en wat doen dit?


Wat is it?

’n Histogram wys vir jou hoe lig en donker dele in die raam versprei is. Swart is aan die linkerkant en wit is aan die regterkant, en die hoogste punt van die grafiek dui aan hoeveel van ’n spesifieke toon teenwoordig is.

Goed, maar wat beteken dit vir my?

Dit dui aan of jy die beligting reggekry het vir ’n spesifieke foto. Dikwels kan jou kamera se skerm jou in die steek laat en jy kan nie mooi sien of jy oor- of onderbelig het nie. ’n Histogram is nuttig wanneer jy in helder daglig foto’s neem en jy nie in die fel lig jou kamera skerm kan sien nie. Leer om gereeld na dié grafiek te loer.

Hoe gebruik ek dit?

’n Mens kry nie iets soos die “perfekte” histogram nie, maar jy moet leer hoe om een te lees. Wanneer jy ’n silhoeët afneem, sal die histogram hoogtepunte aan albei kante van die grafiek wys omdat daar baie ligte én donker dele in die foto is. En wanneer jy ’n foto neem van ’n sneeuman in Ceres, sal die histogram hoogtepunte aan die regterkant van die grafiek wys omdat daar baie ligte dele in die foto is. Jy kan gelukkig wees wanneer die histogram ’n gebalanseerde reeks tone bevat wat in die middel van die grafiek hulle hoogtepunte bereik en geleidelik daal na die twee teenoorgestelde kante.

Maar pleks van om vir ’n resultaat soos dié te mik, gebruik die histogram om te verhoed dat jy jou foto’s onder- of oorbelig. As die grafiek te veel hoogtepunte regs het, is jou foto oorbelig, en as die hoogtepunte almal links verskyn, is die foto onderbelig.

MAAK GOU SEKER.
Kyk na die histogram terwyl jy foto’s neem om jou beligting na te gaan. Jy kan nie altyd net op jou kameraskerm staatmaak nie.  Foto: Jon Minster

Waar kan ek daarna kyk?

Elke kamera is verskillend, maar die meeste het ’n verstelling wat die histogram wys wanneer jy na die foto kyk wat jy pas geneem het. Lees jou handleiding om te sien hoe joune werk.

PROBEER DÍT

Links is veiliger as regs

Wanneer die histogram die regterkantste as van die grafiek raak, beteken dit dat daar dele van jou raam is wat spierwit is. En wanneer iets spierwit is, beteken dit dat daar geen detail in daardie dele is nie. Wanneer die histogram die linkerkantste as raak, is daar pikswart dele in jou raam, maar anders as wit kan jy danksy fotoprogramme die detail red wat in dié swart dele opgesluit is.

Jy is dus veilig as jou foto onderbelig is, maar as dit oorbelig is, kan jy dit glad nie regstel nie. Dis maar beter om jou beligting te verstel en weer te probeer.