Neem só mooi horisonfoto’s

akkreditasie
Behalwe daardie vloekskote wat ’n mens elke nou en dan sommerso uit die heup uit afneem, verdien elke goeie natuurfoto ’n bietjie beplanning. Villiers Steyn kyk na verskillende horisonsplasings en wanneer elk van toepassing is.

Wanneer ’n mens landskapsfoto’s afneem, is jy van nature geneig om die horison presies in die middel te plaas. In sulke foto’s vang jy dieselfde hoeveelheid voorgrond as agtergrond vas, ongeag van die toneel. Met die eerste oogopslag lyk die foto miskien mooi en in balans, maar wag tot jy sien hoe dit lyk wanneer ’n mens die horison ’n bietjie skuif. Voor jy besluit waar om dit te plaas, vra jouself altyd af: Is die voorgrond of die agtergrond die mooiste?


Beklemtoon die voorgrond

Wanneer die voorgrond die mooiste is, soos bevoorbeeld ’n vlakte vol grasvreters in Pilanesberg of die Chilojo-kranse in Gonarezhou, plaas ’n mens die horison effens hoër as gewoonlik. Waarom sal jy nou die helfte van die foto met “vervelige” blou lug volmaak wanneer jy meer van die treffende voorgrond kan insluit? Maak egter altyd seker dat jy nie die horison te na aan die bokant plaas nie. Daar moet darem ’n bietjie plek vir lug gelos word.


Beklemtoon die agtergrond

Wanneer die agtergrond die mooiste is, soos in die geval van ’n sonsondergang wat alles bo die horison geel, oranje en pers verkleur of dramatiese wolkformasies wat jou oë onmiddellik na die hemel toe lok, plaas die horison effens laer as gewoonlik.

Sodoende skep jy meer spasie vir dít wat meer indrukwekkend is. Onthou net om nie die hele voorgrond uit te sny nie, want gewoonlik gee dit ’n aanduiding van waar die toneel afgeneem is. 


En as ek nie kan kies nie?

As jy nie kan besluit nie, kyk mooi of daar nie iets onnodigs of steurends in die raampie is nie.


Is daar ’n uitsondering?

Ja! Wanneer jy weerkaatsings afneem, kan jy gerus die horison in die middel plaas, want dan is die voorgrond en die agtergrond gewoonlik ewe belangrik.